As dit my Wildernis was
Sou jou voetspore die vroegoggenddou
se stilte versteur
en in die prag van oranje na pienk
die donker in begin kleur?
Sou my hart jubel in jou geel
so sigbaar ingeskuif
en sal jy my toelaat om daarin te deel?
As die see sy waters
teen jou eindelose kus kom slaan
en die sproei soos mis
in die hemel opgaan
lê die horison blink op sy dam
Sou die sout en die vog
deur vele vingers heen
ook my hare aan wou klam?
Vanoggend sigbaar voor die reën
in die bolug se koepelring
hang hier ‘n kleurspel
wat volmaak
dalk ‘n eeuoue boodskap wil bring?
So hoog soos bo die spieël se breek
het die bergwind jou branders ingerol
en maak die reuke van jou strande af
vir ‘n wyl die natheid in jou seestrome vol?
Omdat ek so tydelik in jou poorte mag vertoef
en jy my gedurig in jou skoonheid verdra
sal ek sag trap en die kortpaaie vermy
jou eerbiedig en doen wat jy vra
miskien so ook ‘n kompliment kan kry?
Daarom het ek vir jou ‘n stukkie goud
tussen skulpskerwe op gaan tel
in ‘n enkelstafie
tussen grofheid uitgespoel
as ‘n pêrel vir ons drome
in die palms van ons hande toegevou.
Asof dit ‘n pand is vir ons omgee
soos ‘n sieraad om ons liefde vas te hou