Desember 1938, Port Alfred
(Vir MC)
Stroombelyn kloof die oer-torpedo
deur die getye van die marienegeheue
skuil bedags in nokturniese grotte
jag vertikaal met sardoniese tande
en vliet vooruit met die stert se stuurstang:
Vlieg – ʼn prehistoriese rugvin
ʼn draak deur die wisselgang van die see
en verby seevaartfabels en watersproke
die mutasies van die Leviatan
vaar, ʼn vegter met ʼn harnas skilde
gelade om met klein kieue te oorleef
duskant vergete tektoniese storms
of sweef ragfyn deur die flegma van die water
vinstrale waaierend oopgekam in ʼn harp
die burleske vierbeen
het ʼn droë sin vir humor
onverdrote swem hy voort
want evolusie is vir die voëls
en ʼn teorie bly in die weegskaal
soos die ganse oseaan:
Die selakant swem
en ʼn fossiel word lewendig
transformeer deur miljoene jare
die argief van die toekoms binne
en gaan aan wal in Port Alfred.
‘n Welkome toevoegging tot die selakantgedigte van nou onlangs, Nini!
‘n Lieflike, oorspronlike benadering tot die plekgedig wat die koteks (Port Alfred) onderbeklemtoon en tog die mees beduidende gebeurtenis in Port Alfred se geskiedenis aandui.