Plekgedig 15: B.D. van Aarde. Jozini

Jozini

 

In Zoeloeland êrens in Natal,

tussen boomryke klowe en dal.

Op die landkaart kan jy hom amper nie sien nie.

Laat ek jul vertel van ons dorpie Jozini.

 

Net duskant die vlaktes van Makatini,

hoog op ʼn koppie, lê die dorpie Jozini.

Met sandpad en houthuis bekroon,

dit is waar die gemeenskap van Jozini woon.

 

Die kroegman en predikant woon langs mekaar,

die saal word gebruik vir kerk en bazaar.

Na Saterdagaand se konsert as die dak kon hou,

word Sondagmôre weer ʼn diens gehou.

 

En Sondag as die kos net lekker kook,

is by die kragpaal ʼn slag en ʼn groot bol rook.

Die smeltdraad is af en almal wag,

want Jozini is heeldag sonder krag.

 

So af en toe kom daar ook ʼn waterlek,

op ʼn baie moeilike bekombare plek.

Dit sal nie help om te kla en lawaai,

want die watertoevoer se kraan is toegedraai.

 

Die oggendstond gaan gepaard met ʼn groot lawaai,

dis brakke wat blaf en hoenders wat kraai.

Die kattepret duur gewoonlik baie lank,

met groot geraas en katteklank.

 

As dit net na onweer lyk,

word daar na waterkan en kers gegryp.

Die sentrale word ook in kennis gestel,

om vroegtydig die elektrisiën te bel.

 

Die paaie is nat en jy gaan gly,

as jy sonder ʼn 4 X 4 wil ry.

Water stroom in die pad af en word meer,

dwarsdeur jou tuin, niks kan dit keer.

 

Alle rigtingstopstrate is volop,

ʼn trop bokke in die pad laat jou vinnig stop.

Die pad is ook daarvoor  baie bekend,

hoe vinnig ʼn bees jou motor kan skend.

Die pad is sleg en jy moet mooi ry,

anders kan jou karretjie baie seerkry.

Die stof is dig en die klippe vlieg rond,

met uitstaande boulders en gate in die grond.

 

ʼn Groot dam lê tussen die klowe ,

jare gelede is aan almal water belowe.

Maar die grasperk verdroog en die mielies gaan dood,

want die natleiwater moet opdraand loop.

 

Dis hoe Jozini  in die vinnigheid  lyk,

teen die stof en hitte ʼn vreeslike stryd.

Jy kan verseker weet,

op Jozini sal jy sweet.

 

En ook nie ver van die dam se wal,

lê die skool met ʼn hele 50 kinders in getal.

Met twee onderwysers om die kinders te leer,

van Wiskunde, Spelling en Gesondheidsleer.

 

Jozini  sal ʼn mens altyd onthou,

as die plek waar jy leer klippe kou.

Altyd sal jy onthou sy lief en leed,

Jozini ons sal jou nooit vergeet.

 

Nooit sal ons die ongerief wil verruil vir ʼn stad se lawaai,

al is die stof en hitte ook hoe kwaai.

Daar weet jy waar jy staan,

met die lewe wat rustig sy gang bly gaan.

 

 

 

 

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •