Plekgedig 19: Ina Louw. Nieuwoudtville in Augustus

Nieuwoudtville in Augustus

 

Die dorpie nestel op die bergplato

anderkant die heiveld-dennebome en fynbos

varings skuil onder die rotse

waar stroompies water drup

proteas en heide

ons eie stukkie Kaap

 

Sandsteen kerk en toring

hou rustig wag

na ‘n koue dag

skyn Irvinsdale se ligte

helder in die donker nag

 

Blou koringblomme op die kerkplein

oranjerooi gousblomme langs die pad

katsterte: geel en wit en rooi

lanklaas was die Bokveld

met soveel kleur getooi

 

Besoekers by die honderde

gastehuis is beset

gewild is staproetes en waterval

bloukraanvoëls en ibisse by fonteine

en in die kerksaal: pannekoek Namakwadaisies met kinderkore

bakhandjies by die gletserspore

‘meneer,  mevrou, is daar ‘n rand of tien te ou –

anderjaar vra ek eers weer vir jou’

 

Oupa Arrie,  plooigesig, cowboyhoed en rooi kitaar

ryg volksliedjies aan mekaar

tussen beatledaisies en pienk tulpe –

sake lyk goed vanjaar!

 

Wat het die dorpie sonder rykdom

wat harte vinniger laat klop?

omgee en hande vat

dis Nieuwoudtville: my dorp

 

 

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •