Plekgedig 31: Everline van Dyk. Kaapstad

Kaapstad

 

my hande hou die handsakkie met die klein koper-

grafie daarin op my skoot styf vas ons is op pad

Kaapstasie toe ons gaan met die trein Karoo toe ry

die grafie is Ivan se groet dis nou behalwe die love you-

hart wat hy vanmiddag in die wit sand getrek het

 

dis reeds donker my oom se kar ry lekker en al

die neonligte in Voortrekkerweg gaan aan en af ek het

my juffrou gegroet en al my maatjies het vir my

briefies geskryf dis ook in die handsakkie gedruk

ek moes ook vir ouma en vir Nippie groet al was hy

jaloers op my en wou my byt as ek by ouma lê vir stories

 

in die Karoo is nie ’n Adderleystraat en Nuwejaarscoons

nie ek wonder oor ʼn oukeibazaar waar gaan pa en

ma ons Kerspresente koop ook nie ’n twaalfuurkanon

wat jou in jou spore laat stilstaan nie of so ’n groot

berg soos Tafelberg nie en ’n duiwel wat pyprook

 

daar’s definitief nie ʼn see nie, het pappa gesê maar

daar’s baie plek om fiets te ry hy sal vir ons koop

daar’s ook nie so ’n groot swembad soos Seepunt

s’n nie maar ons sal weer kom vakansie hou en by

ouma slaap en al die maatjies sien hy belowe

die ligte langs die pad blink en spring baie rond

ek kan hulle amper nie meer sien nie

 

Vir die Karoo het ek hartstogtelik liefgeraak maar

my geboorteplek was die Kaap en na die Kaap het ek

verlang die lug die lig die blou die baie groen die stad

die voorstedelike treine die Tuine die museumtrappe

en die boesmans die eekhorings wat grondbone

uit jou hand neem die akkerbome die blomme-

verkoopsters die motortoeters wat teen geboue opgalm

 

My ouma lê langs een van die Woltemades begrawe.

Ek dink nog soms aan speelplekke en ’n Engelse witkop-seun.

Die kopergrafie is armlengte-afstand in die lessenaarlaai.

As ek na die Kaap verlang is dit die “ou Kaap” – die een

van veral die laat veertigerjare toe ’n handsakkie te klein

was om al die herinneringe in toe te knip.

 

 

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Plekgedig 31: Everline van Dyk. Kaapstad”

  1. marie bredenkamp :

    Everline, ek kan absoluut identifiseer met hierdie Kaap van jou,, selfs nog die eerste jaar toe ek daar begin skoolhou het. Nou vind ek my heel vreemd in party van daardie areas wat so ‘n sterk geskiedkundige en kulturele kleur gehad het!

  •