Skemerland
My hart is in die laelands waar die wind
met stokke die krake die holtes van die dorp oopkrap
waar uitsigte so lank soos my oë en vingers
aandui waar die see iewers agter die waas
van land wat ons omhul wegstort
my hart is leë kamer
op die dakverdieping van die huis
wat smȏrens plek maak vir die veraf gedruis
van ’n verbeelde skemerland
iewers moet daar iemand wees
daar’s ’n klavier op die solder en ’n stel dromme
in die kelder en tussen hul onderskeie ritmes
ontvou my lyf, word dit wat lewe aan die roer gehou
smȏrens sing iemand ’n mis in die verbeelde skemerland
en die see lek eentonig onder die wind teen klippe en skuite
in hierdie lewe is daar net die eensaamheid van vlamme
hierdie werklikheid sal ophou bestaan die dag as ek vergaan.
© Melanie Grobler / 2013