Plekgedig 37: Chadley Witbooi. Bang vir Mitchell’s Plain

Bang vir Mitchell’s Plain

 

Moenie my titel as ʼn pun beskou nie,

jy ken nie vir my nie en ek ken nie vir jou nie,

Kom ons hou dit soe!

Hoekom moet ek bang wees vir Mitchell’s Plain,

met sy klomp geluide en skote deurmekaar?

Wie weet of jy veilig is?

Selfs ons familie van die platteland is bang om te kom kuier.

Ek sit in my jaart op ʼn Saterdagaand

en dis nog nie eers reg tienuur nie.

Een, twee, drie…vier…nog ʼn vyfde een…en dan sewe en agt.

Agt skote! Klink soos Woodlands se kant.

Dank die Vader my familie is almal in die huis.

By watse name gaan hulle, hulle wat so op mekaar die klein masjien leegmaak?

Die mafias, het ek al gerugte gehoor. Wie nog?

Mense moet bang wees vir name noem; in dié wêreld moet jy altyd

versigtig wees met wie jy wat praat.

Dan word die ‘Promenade’ vir ons gebou; hulle bou die mall heeltemal uit!

Wil hulle geld maak?

Gister het ek weer gehoor daar was drie om die bank te rob.

Somtyds wens ek vir ʼn Sondag.

Ek wens die kerkklokke kan nog lui,

soos op die platteland.

My ouma het altyd gesê die kerkklokke roep verskillende mense na die kerk toe:

“Al die sondaars wat soe daar buite loep, my kind”

Jy hoor net die masjid en daai volksvreemde taal wat hulle in bid.

Hulle bid tot Allah, daai is al wat ek weet. Allah is hulle God.

 

Nou lyk dit of ek ʼn “sell-out” is.

Gaan dit regtig so erg in Mitchell’s Plain?

Is dit regtig so rof soes almal sê?

My antwoord:

nee.

Mense dink dis okay om ʼn opinie van dié plek te hê,

al was hulle nog nooit self hier nie.

My antwoord:

die waarheid.

Mitchell’s Plain is kleurvol;

hier in die geur van Lentegeur is die kultuur van samoosas en stroopsoet koeksisters,

die Kaapse Klopse wat in die strate jolig paradeer en hoe kan ek vergeet

van die snoek en ‘hake’ en al die “tamatie en uiwe!” wat die stoltjies

by die stasie verkoop?

Dan onthou ek skielik die treine en die taxis, asook die busse by die ‘center’

wat jou tot oral op die Kaapse metropool kan neem.

En die mooiste, die mooiste berg in die wêreld, Tafelberg.

Wanneer jy so oor R300 die Plein binnekom en die berg gade slaan, en weet

die hartjie van Kaapstad is óns geliefde hart ook?

So wat as Tafelsig se “crime rate” so hoog is?

“Lost City” wat nuwe huisies aan die mense verskaf, wat so te sê verlore

mensies bond wat al vir jare op die waglys is vir hul eie huise.

Ek was al baie plekke, en het al van baie plekke gehoor.

Ek het die gerugte van oorloë en terroristiese aanvalle gehoor.

As ek na die wêreld vandag kyk,

Voel ek veilig in my klein Mitchell’s Plain.

 

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •