Plekgedig 41: Jannie du Preez . Herbertsdale, dorpie van my prille jeug

Herbertsdale, dorpie van my prille jeug

 

Langs ʼn tak van die Gouritsrivier

tussen twee skotige heuweltjies

met die vêraf berge as sy ligblou horison

lê die dorpie van my prille jeug.

 

Van Mosselbaai se kant af

gaan jy direk die hoofstad binne

tot waar dit vlak voor die NG Kerk

na weerskante toe wegswaai.

 

Soos mens straatop loop sien jy links

die Lutherse gemeentetjie se godsgebou

en regs hoor’k nog die “Engelse” lidmate lofsing

dat die kerk se dak wil lig.

 

Talle dinge bly in my geheue steek

en verf my vér verlede tot ʼn helder hede.

So herleef ek die heerlike jaarlikse kerkbasaars

en Sondagskoolpieknieks op die Boshoffs se plaas.

 

Met winter was dit kaalvoet skooltoe deur die ryp

maar elke pouse kry jy wel ʼn stukkie kaas

en ruil ek soms my toebroodjie

vir ʼn klasmaat se gebakte soetpatat.

 

Die vriendelike Joodse stoeierwinkelier mnr. Arthur Hirsch

laat voel my eendag aan sy krulkop

hoe sy skedel soos ʼn sinkplaatpad geword het

van jare se val met vroeër dae se stoeiery.

 

Van tant Susie Kriek se stroopsoet hanepootdruiwe

uit die wingerdjie by haar huis

kon ek vir ʼn enkele pennie

ʼn paar trossies vol goue korrels koop.

 

Hoe duid’lik hoor ek nog my liewe Ma

se helder stem wanneer sy saans

voor slapenstyd vir my en sus

ʼn stukkie lees uit ʼn lekker goeie boek.

 

In ʼn oondwarm sinkdakkombuisie

waarvan ek die dak met bietjie strek

gemaklik met my langeraat kon raak

het Mams haar heerlike boerekos gekook.

Op my ouers se aandkuiertjie

by diepgelowige oom Seef en tant Issie Oosthuizen

sien’k weer die oom en Pa al peinsende

op die oop stoep sit en praat.

 

En soos hy na die hemel staar

hoor ek die verwondering en diep ontsag

in oom Seef se stem oor God se sterrenagtelike majesteit.

ʼn Onuitwisbare stempel op my kindergemoed!

 

Geliefde dorpie van my prille jeug

oor jou kan ek my steeds verheug.

O ja, jy kry my sommer nou-nou aan’t singe,

want wie verag die dag van kleine dinge?

 

 

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •