Hankey, hart van my jeug
God is self die inspirasie agter Hankey…
hier in die vrugbont Gamtoos het die sendeling
met biddende Skotse aksent sy seënende
hande uitgestrek oor kloof, vallei en heuwels,
om hierdie klapsoendorpie te doop, waar Saartjie
Baartman vêrlangs familie hier het. Hy’t boere
gretig geroep om toe die geil rooi grond plegtig
te ploeg, en ons honger boesem met bloeiende
sitrus en groente te voed, waar die Kleinrivier
lag-lag vloei, waar die Waits, Scot-Youngs en Ferreiras
steeds met swetende liefde arbei om mielies,
ook melk, te voorsien… en aai, die tolofiya…
dié tolofiya wat my kieste laat water
is unieke godsgeskenk van dié Koikontrei…
hier waar aalwyn en protea skoon brooddronk bloei
en heuningkoek op plaasbrood paradyskos is…
hier waar ek by die Ko-op Pannas en Petrus
‘n sikspens se suiker in ‘n bruin kardoesie
vir hul mieliepap sien koop het, en ‘n bottel
paraffien vir hul huisie skuins teen die rantjie,
waar ou Oom Pietie Witbooi se konsertina
vrolik riel, dat selfs die waghonde antwoord gee!
Hankey – ousus van die Oos-Kaap waar kerkklokke
roep, en die Yellowwoods my spraakloos laat opkyk …
Dis in hierdie Hankey waarop my jeug se lei
my liefde vir die platteland gekryt sál bly …