Verlate Kloof se mense
Aan die onderpunt van Pentzstraat
net duskant die treinspoor
het ons voetbal gepeel in Frikkie le Roux se kampie;
lekker gebly langs antie Koekie
ma’ as ek ons selfgemaakte bal in haar jaart skop,
kon sy tog so verskriklik skel
op my, en Kiepie en Wimpie en Ampie;
My vrinne.
Later het antie Koekie se raas oorgeslaan na raad,
toe sy in daai kwaai winter van ’76 haar stem begin verloor.
Soms had ons nog tyd vir ‘n skelm dampie
agter die ou vyeboom as mamma ons nie soekie.
En toe oom Boetatjie sterf na jare se geheime dop,
kon sy die Bybelstories so mooi oorvertel
Antie Koekie en Oom Boetatjie;
Onse bure.
Ek onthou nog vi’ antie Girlie en oom Linkie
oorkant Patel se winkel op die hoek;
Ek sien die asters geel blom in hulle tuin
en weet: dis tyd vir Wellington se herfsskou.
Dan woel my pa, oom Boytjie en oom Bokkie;
Onse astermense
Snaaks nie een van hulle het gedrinkie
Oukersnag as Dera begin lees uit die Boek
en Joey en Tony se brassband die eerste noot basuin,
begin antie Rykie koesiesters te bak (en brou)
die hele somernag deur, rerig, ek sallie vir julle jokkie;
Onse kerskoormense.
As die laaste sneeu in Augustus begin pryk
op Groenberg en Sneeukop in Bainskloof
en Botterberg se madeliefies die lente aankondig;
dan begin die klopse na hul ghoemas en banjo’s te vry.
Tommy Kaalnek se Tulips, die Glamour Boys van Hannes houtlorie;
Onse klopsemense.
In Wellington se onderdorp se buitewyk
het ons liefgeraak vir ons Verlate Kloof.
opgegroei, uitgestyg en soms ook lekker gesondig!
Maar nêrens sou ek ‘n beter opvoeding én pak slae kry
as by Boeta Mike en Antie Sylvie
My Dera, my mamma
my mense