Die diepte van Geduld
Kom luister op verlore spoor
hoe klikke-klak die steenkoolkoor
vier-en-negentig volle trokke
verby gehuggies en pondokke
verby Palmietkuil se militêre grafte
en die kleurlingsoldate wat daar lê.
Nader kom dit aan
voordag vroeg, toe sink die maan
by die plakkerskamp op Payneville,
triomftrompet jong Masekela
sy “Bring hom terug” Mandela
en met ‘n kort duidelike luide
toet
kondig die Neo-Behemot aan:
“kruispad oorgesteek –
pap en njama vir ‘n week!”
In die son se splinternuwe strale
begin ‘n ou groudag vergild
en sommerhier, regby,
spoor swartgoud swaargelaai verby
oor die Krugerhoofwegbruggie
Springs niemeer ‘n plaas-gehuggie
maar in Geduld
al waai die skuld en winde wild
roer Grootvleimyners se vroue
hulle manne se tee soos altyd.
Die skof sak netna opstaantyd
om onder die aarde
te gaan gate kruip vir waarde
in elke kraak en skeur en hoek
rykdom in donker are te gaan soek
met net mekaar vir hulp
en bogronds
dwaal daar Gordimer- en Koos Dup-geeste rond
deur hernuwe huise, art deco afgerond.
Op Oupa Paul se plaas
skuil sy verlore miljoene
héél moontlik êrens tussen ons fasades
want Geduld behoort nou genadiglik, helaas,
aan almal.
* Geduld in Springs het ontstaan as ‘n ongeproklammerde stukkie grond wat
geleë was tussen drie groot plase.
Heerlik gelees aan die meeleef deur Geduld. Vanaf die eerste strofe van klikke-klak die steenkoolkoor tot en met die mees visuele afsluiting met die verwysing na Gordimer en hernuwe huise, art deco afgerond.