Carina van der Walt. Kraaie

 

Kraaie in die Brabantse stede is ’n alledaagse verskynsel. Al is hulle teenwoordigheid eintlik nooit gerusstellend nie, inspireer hulle kunstenaars en digters. Die bekendste voorbeeld hiervan is waarskynlik Van Gogh se Koringveld met kraaie (Julie, 1890). Die skildery is op die Franse platteland geskilder. Hy het van Brabant tot Provence rondgeswerf. 

Kraaie plus stad of landskap bring my uit by Solet Scheeres, wat onlangs die Plekgedig-kompetisie hier op versindaba gewen met die gedig Om af te tree op Bela-Bela. Sy is ’n kortverhaal- en jeugboekskrywer, maar verlede jaar Septembermaand het sy die gedig ’n Kraai bly maar altyd swart vir my gestuur. Scheeres het hierdie gedig geskryf na aanleiding van Torenkraai, ’n beeldhouwerk van die kunstenaar en digter Sjon Brands, uit Tilburg.

 

’n Kraai bly maar altyd swart

Met apologie aan Ted Hughes

 

Kraaie skrop in torings nes

pik oë uit

steel blink goed

trompetteer lelike woorde

wapper hulle swartvlag-vlerke

en kondig die einde aan.

Ek wonder hoe lank nog

en soek hoog bokant Brabant se kerke

na die lawaai

van ’n verdwaalde kraai.

Maar die lug is leeg en blou.

Ek probeer dankbaar die oomblik

vashou.

Dan verskyn daar op die horison ‘n

swart spikkel,

’n klein wapperende vlag.

Die dooies draai in hulle grafte om

en ek timmer, om God’s wil

vir my nog ’n dag.

 

Scheeres verwoord in bogenoemde gedig die Christelike perspektief dat ’n kraai op aas afkom, oë uitpik en ’n simbool van sonde is. Die kraai se kras geroep word in Latyn uitgedruk as “eras, eras”. Dit beteken more-more en verwys na die kraai wat Noag eerste na die sondvloed uitgestuur het. Hy het nooit teruggekom nie. Op so ’n manier word hy in die Christelike wêreld ’n simbool van die slaaf van wêreldse luste, wat sy eie bekering bly uitstel. In die slot van hierdie gedig is die dooies geskok (Scheeres se Afrikaanse voorvaders?), terwyl sy na haarself toe skryf en elke dag in die Brabantse landskap aan haar eie doodskis timmer.

Vir baie lank het kunshistorici gedink Koringveld met kraaie is Van Gogh se laaste skildery, miskien deur die oorweldigende simboliek daarvan. Sirkelende kraaie (einlik is dit rawe in die noordelike halfrond) is ’n voorbode van rusie en oorlog. Swart simboliseer dood. Die geel koringveld daaronder herinner mens aan die simboliese aankondigings van dood in die Bybel as oestyd, want die oes is ryp.

Van Gogh het olieverf gebruik as medium vir Koringveld met kraaie. Tog het hy ook houtskool as medium in die beginjare van sy loopbaan gebruik. Hierdie skildery is baie duidelik ’n landskap, maar Van Gogh het ook ander genres soos portrette (dink aan sy selfportrette) en stillewes (byvoorbeeld sonnebomme) geskilder. Beide medium en genre staan in diens van die uiteindelike skildery, in hierdie geval dan Koringveld met kraaie.

Op dieselfde manier werk ’n literêre produk. Die skrywer kies sy medium, byvoorbeeld Afrikaans of Engels of Nederlands. In vandag se geglobaliseerde wêreld is dit ’n mite dat ’n skywer net in sy moedertaal kan skryf. Inteendeel! Hoe meertaliger ’n skrywer is, hoe groter is die kans dat hy van medium kan verwissel. Maar die skrywer kies nie net sy medium nie, hy kies ook sy genre. Die drie omvattende literêre genres epiek, liriek en dramatiek word deur die skrywer verder uitgewerk in byvoorbeeld ’n kort-, kinder- of jeugverhaal binne die epiek. Of die keuse vir ’n plekgedig, beeldgedig of ’n simboliese gedig binne die liriek.

Dit moet vandag se lesers dus nie verras dat ’n skrywer van medium of genre kan wissel nie. En tog gebeur dit. Die mens is van nature geneig om te kategoriseer; om etikette op skrywers se oeuvres te plak. Dit is die verrassende van Scheeres. Al vertel die twee prosa-agtige titels van haar gedigte iets van haar agtergrond as verhaalskrywer, maak sy duidelik ’n stap na die poësie toe: onlangs met ’n plekgedig en eerder met ’n simbolies gekleurde gedig.

Behalwe vir Torenkraai is Scheeres ook geïnspireer deur die gedig Crow Blacker than Ever van Ted Hughes, die Poet Laureate van Engeland uit 1984. Dit is die Christelike simboliek van die swart kraai wat hulle in gedigte ooreenstem. In Hughes se gedig is daar ’n konfrontasie tussen God, mens en vrou – met die kraai as bindende skarnier, ’n gruwel sonder enige verlossing. Scheeres en Hudges se gedigte verskil egter met betrekking tot perspektief. Hughes skryf weg van homself af tot in ’n breër, hemelse sfeer, maar daar is ook ’n paradoksale oomblik van identifikasie met die kraai en dus die dood.

 

Crow Blacker than Ever

 

 

When God, disgusted with man,

Turned towards Heaven,

And man, disgusted with God

Turned towards Eve,

Things looked falling apart.

 

But Crow.      Crow

Crow nailed them together –

 

So man cried, but with God’s voice.

And God bled, but with man’s blood.

 

Then heaven and earth creaked at the joint

Which became gangrenous and stank –

A horror beyond redemption.

 

The agony did not diminish.

 

Man could not be man nor God God.

 

The agony

 

Grew.

 

Crow

 

Grinned

 

Crying: ‘This is my Creation,’

 

Flying the black flag of himself.

 

Terwyl Hughes se blik ver buite homself gerig is, maar ingeperk word deur die kraai se spotlag en aanspraak, rig Scheeres haar blik nader aan haarself “hoog bokant Brabant se kerke”. In boom en kraai  skryf ek net soos Hughes weg van myself af, maar my blik is nog baie nader as Scheeres se kerktorings gerig op ’n paradoksale situasie in die tuin (geen hemelse sfere nie). Die kraai simboliseer nie net die dood nie. Hy vrek. Tog is die Christelike simboliek verder dun gesaai in die gedig. Identifikasie lê vir my nie in die kraai se aanspraak nie, maar in my gewaande teenstrydige emosies agter die vlies voor sy oë.

 

boom en kraai

 

toen de boom gerooid werd

stierf ook de oude kraai

 

– dagen lang fladderde hij

ten dode opgeschreven onder

de bloeiende kersenboom

een sterfplek uitgezocht

voor zijn laatste uren

 

toen de belofte van zomer

zo snel voor zijn doffe oogjes

tenietging gaf hij het ook op

zijn onheilspellende krachten

haalde hem definitief in –

 

elders in een stenen hoekje

ontgoocheld en gelukkig

 

Die lesers wat tot op hierdie punt die artikel gelees het, kan vra: waarom is die medium van die gedig Nederlands? As antwoord: teen die uitgestrektheid en die gewelddadigheid van die Suid-Afrikaanse ruimte, maak ’n Afrikaanse gedig oor die dood van ’n kraai onder ’n boom in ’n tuin geen enkele indruk nie. Terug by Van Gogh wat kraaie bo ’n uitgestrekte koringland geskilder het, wonder ek of daar iemand is wat ’n Afrikaanse gedig geskryf het oor Koringveld met kraaie? Cas Vos het in sy laaste bundel – Duisend dae op jou spoor – laat blyk dat hy hierdie skilder se allerlaaste skildery ken:

 

Boomwortels

Vincent van Gogh se laaste skildery

op sy sterfdag, 27 Julie 1890

 

Hy skilder wortels van bome

wat in die grond knobbelrig beur

voordat ’n doodskoot hom verplant

in ’n ander beloofde land.

 

 

Solet Scheeres by die Torenkraai van Sjon Brands tydens die tentoonstelling TWIET TWIET gedurende September 2012 in Tilburg.

Bookmark and Share

7 Kommentare op “Carina van der Walt. Kraaie”

  1. marlise :

    ‘n Genotvolle artikel Carina, met lekker verskillende perspektiewe. Die gedig van Scheeres iets besonders. Hier is baie spreeus in die Bolandse lug. Ek dink hulle dra dieselfde swart ‘baadjies’ as kraaie…

  2. Carina van der Walt :

    Dankie Marlise … ja, die aantrekkingskrag van die beklemmende simboliek in ons gevleuelde vriendjies is tog iets wat die psigoloë eendag vir ons moet uitsoek.

  3. Evette Weyers :

    Kraaie bombardeer die jong arend wat alleen probeer vleig, hier in die Overberg. Kraaie is vollop en arende skaars. Ek is ‘n kampvegter van die arende

    Daar is ander intrepretasies oor kraaie, oa ‘n Latyn Amerikaanse siening.
    Kraaie simboliseer ” ‘n Hoër Orde van goed en kwaad as ons menslike wette. En wanneer hulle aan jou verskyn, kan jy maar weet: Jy gaan getoets word met ‘n situasie buite jou huidige kennis van reg en verkeerd.
    Nou, die rede vir enige lewenstoets is natuurlik sodat ons leer om daardie stil stemmetjie in ons diepste binneste te hoor – to seek our own counsel. Om weg te breek van die veiligheid van die wette en reëls wat ons maak, en om ons eie integriteit te volg – maak nie saak WAT nie. Want dis hoe ons groei (beat) DIT is die kos vir die evlolusie van die menslike siel .”
    (uit my vriendin Anita se filmteks)

  4. Hilda Smits :

    Hallo Carina ! Ek lief daai Van Gogh skildery. Sal vir jou ‘n Nashville kraai stop & stuur. Hulle is van nature bebaard & praat in Southern drawls.

  5. Carina van der Walt :

    Hahaha,dankie Hilda! Hoeveel is al in die pos? 😉

  6. Carina van der Walt :

    @ Evette: Daar word ook beweer dat die kraai aanvanklik wit was.In ‘n Griekse sage word beweer dat die songod Apollo sy minares (Koronis) deur ‘n wit kraai laat bewaak het, maar die kraai het misluk. Apollo vervloek die kraai, kleur se vere swart en vermoor Koronis met sy pyl. Die wit kraai is aanvanklik simbolies in verband gebring met kennis, welsprekendheid, profesie, moed en vaardigheid. Later as swart kraai simboliseer hy o.a. sluheid, bedrog en diefstal.

  7. Hallo Carina

    Kraaie altyd swart? Wit kraaie? Bostaande het my terug gevoer na ‘n skryfsel vanuit Postmodere gesigspunt met kommentaar oor die vergange tydperk – Modern – wat sowat tien maande gelede uit my sleutelbord gekom het. Ek plak dit hier onder. Op die ou ent is simbole dit wat verskillende mense tussen dieselfde reels (deelteken e) lees, daar kan selfs meer simbole as lesers wees.

    Swart witbors kraai

    Jy in dineepak en borshemp,
    Jy wat blink dink en kalklig steel,
    jy wat dooies se oë uitpik, sodat
    hul spoke hul blind sal staar teen Modern
    se streng swart-en-wit, jy is getooi
    vir vuil vasvat van gekonkel
    en kuns-kaviaar by
    geleenthede vol vonkel.

    Jy wat geraamtes gulsig
    beenwit vreet – jy- pronkvoël
    vir operasie skitter-ratie – jy wat
    pasella passaat vliegtuig wil ry na die vrye
    hemel op onkoste Jan Rap en sy maat of Staat,
    jy wat frappant van skandfeite frotspeel maak,
    jy in Modern se swart en wit,
    het jy eiertjie te lê oor flagrant femel
    voor skote netnou knal?

    Want dan val voël en vere vlieg!

    (slot Swart witbors kraai)

    Vriendelik gegroet

    Henk Seymore
    13 November 2013

  •