Die virus tref haar tussen twee verkeersligte naby Wespark. Sy sweet en bestuur, sweet en bestuur, konsentreer deur die spitsverkeer en die yskoue prikkels in haar voete en hande. Genadiglik maak sy dit tot by die parkeer-area, sluit die motor en storm dramaties verby die wit tafels met die wynglase, verby die silwer ysemmer en camembert-broodjies, tot by die badkamer. Hoe lank bly sy daar, nee sy weet nie – deur die venster hoor sy vaagweg hoe lag en gesels die gaste wat nou reeds aangekom het vir die boekbekendstelling. ʼn Skoonmaker kom in met emmer en mop, verbaas om ʼn vrou op die vloer te sien lê naby die wasbak. Is daar fout, wil sy weet. Nee, antwoord die vrou, ek is doodreg, ek het kom foto’s neem. Ek voel soos ʼn karakter in ‘n film van David Lynch, dink sy. Of in een van Gary Cummiskey se kortverhale.
Die digter, Arja Salafranca, voer gesprek met die digter Gary Cummiskey oor sy eerste prosaversameling, Off-ramp.(Ten spyte van die weer, is ons ʼn boekwinkeltjie vol mense. Net ʼn paar het op die nippertjie laat weet hulle kan ongelukkig nie meer kom nie, hulle en die kinders en die eggonote is die hele wêreld vol naar. Jip, dink ek.) Hoe maak ʼn digter die sprong na die skryf van kortverhale, wil Arja by Gary weet. Sy antwoorde is insiggewend en hy bieg dat hy moet terugskarrel van sy gevleuelde woorde elf jaar tevore, toe hy verkondig het dat digters moet wegbly van prosa skryf.( Ek tel ses ander digters in die gehoor. Hulle is ook diegene wat later vrae vra tydens die “oop mikrofoon”.)
Gary vertel dat hy aangetrokke is tot die “onvertelde” in ʼn kortverhaal – dit was juis nie op die bladsy verskyn nie. Hy deel sy siening van alternatiewe realiteite, wat afspeel in die paadjies net langs die snelweg van die lewe. Vandaar dan ook die titel van hierdie versameling kortverhale van hom. Een verhaal is gekonstrueer rondom ʼn man wat droom dat hy ʼn moord gepleeg het. Wanneer hy wakker word is hy beangs omdat hy nie kan onthou of dit alk werklik gebeur het nie – hy besef dat hy die vorige nag in besope of bedwelmde toestand deurgebring het. Naderhand weet die leser ook nie meer of die moord werklik is nie en die spanning bou op… In ander verhale is daar dalk ‘n bom op die bus, hou afloerders iemand dop, val ‘n kind deur wit lug.
Cummiskey is bekend vir sy surrealistiese aanslag in sy gedigte en daardie aangetrokkenheid is ook in sy prosa te bespeur. Hy erken ook dat Lynch en Antonioni van sy gunsteling fliekmakers is, dat hyself sekere outobiografiese inligting tot die uiterste grense druk met die invoeg van bisarre, maar moontlike, verbeelde insidente en karakters.
Off-ramp mag dalk die begin wees van ʼn langer reis met prosa, voorspel Arja Salafranca, voordat sy aankondig dat die nuus pas ontvang is: Gary is aangestel as die nuwe redakteur van New Coin, die poësiepublikasie van Rodes Universiteit. Die raad reik die volgende verklaring uit: “New Coin was founded in 1965 by Guy Butler and Ruth Harnett and is published twice a year by the Institute for the Study of English in Africa (ISEA) at Rhodes University. Cummiskey will work with an editorial board made up of the four poets who teach on the Rhodes MA in Creative Writing course: Mxolisi Nyezwa, Brian Walter, Joan Metelerkamp and Robert Berold – the latter two past editors of New Coin.” Berold, die vorige redakteur, sê ook: “Gary Cummiskey has a good grasp of the range of voices and sub-cultures that make up South African poetry in English. His approach to publishing is the only way to keep poetry vital. His appointment is good news for South African poetry.”
Die Junie en Desember 2013 uitgawes van New Coin is nou aan intekenare beskikbaar teen R170 vir albei. Teken in by die e-pos adres: isea@ru.ac.za of bel 046 603 8565. Ek blaai deur een van die eksemplare op die winkelboekrak en ek sien ook Afrikaanse werk daarin. Ek weet dat Cummiskey se verse deur ander digters vertaal is in Frans en in Grieks, vir versamelbundels in daardie lande en dat hy ook ingesluit is by publikasies wat in 2013 in Indië verskyn het. Sy bereidwilligheid om oor grense heen te werk is nie net ʼn element van sy prosa nie, dit is ook deel van sy lewensinstelling en een wat hy sekerlik sal deurvoer in sy redakteurskap van ʼn poësiejoernaal.
Mense staan in groepies rondom die wyn en southappies, maar ek en ʼn blondekopvrou trek ons skoene uit en hardloop deur poele water uit na ons motors toe. Dan ry ek die tien, vyftien killometer huis toe. Die storm is elektries. Dit reën, dit hael. Aanhoudende weerligstrale dans teatraal oor die stad. Ek voel alweer verskriklik naar. Al die motors ry baie stadig. Dit is so ʼn soort nag. Enigiets kan gebeur.
Thank you, Jacqui – if I were young and beautiful, this could have been a scene from Blue Velvet. Alas, though…
Arja’s questions were insightful and Gary’s responses very generous; providing ample background and texture for the stories.
This is a wonderful account of the launch of ‘Off-ramp’. I had fully intended to attend, but closer to the time succumbed to the ranks of sick and lame. Having missed out, I was delighted to be able to read your blog, It is so funny. I shan’t easily forget the image of the surprised cleaner finding you supine on the floor, and then you assuring her that there was nothing wrong with you, you were simply there to take the photographs — all in a day’s work!