Andries Bezuidenhout. Die einde van die gedig

hésitation prolongée entre le son et le sens,
sê valéry. dus hou ek my asem op
resiteer als wat nog moet gebeur
binne die leegte van twee longe of wat oorbly van ʼn jaar.
hoor hoe kalenders verby neusvleuels sug
om golfies in oogballe te laat bewe,
ʼn gety wat dít wat verby is omroer en deurdink,
ʼn nasmaak, ʼn rilling, ʼn gevoel in die nek –
iets duskant begrip wat met albei palms
aan die vlies tussen “sopas” en “netnou” druk.

agamben, jý met jou filosofiese bles-en-bek kombinasie,
aan die einde van nóg ʼn annus sonder gedigte
verpoos ek om stip na geraas te luister,
maar soos hierdie tyd verlede jaar
hoor ek net mooi niks.

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Andries Bezuidenhout. Die einde van die gedig”

  1. Tja, gaudeamus met die niks alom. 😉

  •