Taal as die mensdom se senuweestelsel
(Praatjie by Departement Afrikaans en Nederlands, US, 27 Februarie 2014)
Wanneer ons dink waarmee ons almal besig is, weet ons ons werk met taal. Ons bestudeer taal en talige produkte op ’n wetenskaplike manier – soos dit op verskillende maniere in menslike samelewings waargeneem en gebruik word.
Tog vang die persepsies van mense buite ons veld my soms onkant. ’n Mens hoor ook gereeld hoe kla oor die persepsies oor hulle beroepe – soos dokters wat beskou word as gerieflike raadgewers en voorskrifuitreikers tydens ’n naweekbraai. Ek self werk as dosent en ook taalpraktisyn en ten opsigte van laasgenoemde doen ek veral redigering.
Wanneer mense my vra wat ek doen en ek probeer verduidelik, kry ek die idee dat hulle baie gou tot die gevolgtrekking kom dat ek tot die nare spesie van die “taalpolisie” behoort. Oftewel, iemand wat met ’n rooi pen en ’n meewarige houding besig is om te veroordeel en te verdoem. Mense vra dikwels sommer by voorbaat om verskoning vra vir al die “foute” wat hulle glo gaan maak en Engelse woorde wat hulle gaan gebruik as hulle met my praat. Daarop sê ek gewoonlik “Dis ok, ek doen dit elke dag.” Daarmee verloor jy klaarblyklik onmiddellik alle geloofwaardigheid.
Ander hoop weer dat ons wat met taal doenig is ’n wandelende naslaanbron is, en bel jou graag om te hoor wat die “regte” opsie is of “wat die woordeboek sê”. Tot my groot frustrasie wil mense nie altyd hoor dat daar soms in taal nie sprake van reg of verkeerd is nie – konteks neem dikwels die besluit. Soms ís die vakterm aangewese, ís dit nodig om “diskoers” te sê, en soms gaan ons wel saamstem dat dit beter is om “maniere van praat” te gebruik.
Of mense wil nie hoor dat hulle sowaar sélf ’n woordeboek moet aanskaf nie. Dit laat my dink aan ’n onverkwiklike stryery wat ek op ’n keer met ’n belangrike kliënt gehad het. Hy het ’n woordeboek uit die tagtigerjare gebruik, en daarvolgens daarop aangedring dat “buitestaander” met twee a’s gespel word.
Die dinge wat ek eintlik vir my bure, baie van my vriende en veral vir kliënte wil sê, bly dikwels versweë. Daarom het ek gedink om my praatjie vanaand te wy aan dié dinge wat ek dikwels vir myself sê wanneer daar geen gehoor is nie, maar wat ek eintlik graag met halsstarrige kliënte en skeptiese bure wil deel.
Taal weet ons, is dinamies en meervoudig. Die skoonheid daarvan word in die reëls én die kreatiewe moontlikhede daarvan gesien. En veral is taal dalk dié een ding wat ons waarlik mens maak: sonder taal sal min – of selfs geen – menslike bedrywighede moontlik wees. Ons is verbind tot taal, of ons daarvan hou of nie. Alle mense bevind hulle in taal.
Ons glo so maklik dat taal maar net daar is, en dat jy veral jou moedertaal op ’n “natuurlike” wyse baasraak en beheers. Let maar op hoedat leerders steeds reken dat hulle nie tale hoef te leer nie. Dit is dalk juis hierdie aard van taal om deel van alle mense se leefwêreld te wees wat tot die persepsie lei dat dit nie so gesog is as byvoorbeeld die fisika of die wiskunde is nie. Die algemene beskikbaarheid daarvan lei as’t ware tot ’n swak markwaarde. En tog wéét ons almal in die wêreld van tale dat dit nié so is nie, en wonder jy lank na die Saterdagaandbraai nog steeds waarom taal en die studie daarvan ’n lewenslange fassinasie is. Want ware taalmense verraai hulle beroep maar selde: Dink maar die toegewyde taalonderwyser, die kopieredigeerder wat dien as hekwag om ’n publikasie se eer te verdedig, die vertaler wat die teks in die ander taal laat leef, die digter vir wie lewe en poësie onlosmaaklik in mekaar verstrengel is.
Ek het onlangs Robin Allott se boek The Great Mosaic Eye (2012) gelees. Hierin gebruik Allott die metafoor van die saamgestelde insekoog wat uit duisende mikro-ogies bestaan. Al hierdie ogies se waarnemings word deur die insek se senustelsel geïntegreer om ’n bruikbare prentjie van die insek se omgewing te skep.
In die menslike wêreld het elke individu ’n perspektief op ’n stukkie van dít wat in ruimte en tyd bestaan en maak sodoende kennis daaroor bymekaar. Binne ’n gemeenskap is daar duisende, selfs miljoene sulke perspektiewe, en elk hiervan is soos een van die mikro-ogies in die insek se saamgestelde oog. Tog is die informasie wat deur elke mikro-ogie gegenereer word nie beperk tot die bepaalde individu nie – deur juis táál word hierdie miljoene brokkies met mekaar geïntegreer. Taal is die senustelsel van die groter menslike organisme wat inligting organiseer en toeganklik, interpreteerbaar maak. Taal is dit wat ons in staat stel om informasie vanuit ons breine na die eksterne wêreld te verplaas, om dit met mekaar te deel en sodoende voordurend te kan verfyn. Dit is wat akademiese besigwees, navorsing, is – dit waarmee julle as studente besig is. Sonder taal sal geen student ooit tot enige diskoers kan toetree nie – ook nie die wiskundige of die rekeningkundige nie. (En dit is juis hier dat ek daaraan dink dat “diskoers” tog die beste woord is. Studente kan gerus ook maar ’n paar nuwe woorde byleer, sou ek dink.)
Taal maak dit ook moontlik om inligting oor tyd te bewaar en oor te dra in die vorm van geskrewe taal. Op hierdie manier is taal die bewaarplek van gebeure, maar ook van persepsies daarvan en narratiewe wat daaroor gekonstrueer word. Maar taal is ook die een faktor wat die mens se groot hupstoot gegee het; volgens sekere navorsers is dit die “verlore skakel” tussen die mens se genetiese en kulturele vooruitgang. Slegs deur naamgewing word objekte en abstrakte konsepte werktuie wat gemeenskaplik benut kan word. Om vir jou jagmaat te kan sê: “Gee vir my die byl aan, nie die slagmes nie”, is wat nodig is om die werktuig te laat werk – só sê Marié Heese onlangs in ’n onderhoud oor Vuurklip.
Sonder taal is moraliteit, sosiale kohesie, godsdiens, wetenskap, regspleging moeilik voorstelbaar. Groepe vorm hulle identiteite deur taal, en dit is ook deur taal dat die mens oor sy toekoms kan nadink, dat hy hom teen die agtergrond van die kosmos kan beskou en sy eie kortstondigheid kan formuleer. Dit is deur taal as ’n integrerende senuweestelsel dat ons, as nie-fisici, sonder toegang tot daardie diskoers, kan kennis neem van verbysterende onlangse navorsing oor die kosmos – die ouderdom, struktuur en voortgang daarvan.
Ten opsigte van die individu, is die verband tussen taal en die bewussyn van die self een waaroor reeds baie gedink en geskryf is. Dit is in en met taal dat die individu van hom- of haarself bewus raak. En ná die besef van die self kom insig in die selfbewussyn van ander, wat die grondslag van ’n sosiale bewussyn is.
Waarmee ons ons dus besig hou by die studie van taal- en letterkunde, lyk dit my, is met die belangrikste bindingsmiddel in die menslike wêreld. Die taalkunde beskryf onder meer die aard van die talige strukture wat oor tyd heen ontwikkel het. Ek het min kennis oor die oorspronge van taal en daar is kollegas wat met veel meer gesag hieroor sou kon praat, maar ek verwonder my aan die boeiende navorsing wat deesdae binne die veld van die kognitiewe neurowetenskap hieroor gedoen word. So fassineer dit my dat onlangse navorsing beweer dat wanneer ons breine woorde begryp, ons dieselfde sensorimotoriese areas in die brein inspan as wanneer ons wérklik omgaan met die objekte en entiteite waarna die woorde verwys. Daar is dus moontlik ’n intieme biologiese verband tussen liggaam en taal. ’n Studie in 2005 het byvoorbeeld gevind dat die werkwoorde “lek”, “pluk” en “skop” – wat verskillende liggaamdele impliseer – nie dieselfde area in die brein aktiveer nie. Hierdie soort studies werk met die hipotese dat taal gevorm is op die grondslag van die brein se kompleksiteit, vanuit die bestaande perseptuele en motoriese stelsels.
Die toegepaste dissiplines ondersoek dan hoe ons die integrasie van menslike kennis meer effektief kan laat verloop – byvoorbeeld, hoe kan vertalings geslyp word om die oordrag van kennis tussen tale sonder haakplekke te laat verloop.
Die letterkunde werk onder meer met juis die tot-taal-maak van ervarings en stories, wat ín taal deel van die groter menslike besit word. Een digter wat my nog altyd verstom het met juis hierdie vermoë, is Sheila Cussons. Haar bundel Die sagte sprong was die eerste enkelbundel waarmee ek kennis gemaak het. En juis hoe sy haar mikro-ogie se waarnemings tot taal maak en met die leser deel, is na al hierdie jare steeds ontsagwekkend. Ek sluit af met ’n strofe uit die gedig “Die sagte sprong”:
Dit kom wanneer dit nie verwag
word nie: ’n aanraking van die verstand
lig soos ’n veer, vlugtig maar presies
en jy dink as sy ligtheid so is, so potent
dat die aandag nog lank daarna
die indruk behou, hoe moet sy vasvat wees ?
(Dr. Amanda Lourens; 2014)
Dankie Leon, ek waardeer jou moeite met die antwoord. Ek het maar eers onlangs van embodied language gehoor en dit baie interessant gevind, maar natuurlik weet ek hopeloos te min daarvan om my te kan uitspreek. Ek gaan lees graag Noë se boek waarna jy verwys.
Amanda ek weet nie veel van embodied language as sulks nie, maar dis wel soos ek dit verstaan ‘n onderafdeling van embodied cognition, waarin ek so ‘n sydelingse (let wel, sydelingse) belangstelling ontwikkel het sedert ek Alva Noë se boekie gelees het, “Out of Our Minds” as ek die titel reg onthou. Ek kan nie onthou of hy die woorde “embodied language” gebruik het nie maar hy is wel ‘n voorstander daarvan. Hy het my nie heeltemal oortuig nie maar dit was interessant genoeg dat ek so nou en dan verder daarna kyk. Kom my voor asof daar ‘n hele aantal denkrigtings in hierdie verband bestaan, van wat mens seker die “swak” embodied cognition kan noem en wat strek tot by die radikale of “sterk” rigting, miskien so min of meer soortgelyk aan die swak en sterk antropiese beginsels. Vir wat my mening werd is, my jurie is nog besig om te beraadslaag. My besware is dat die resultate van fMRI skanderings veel te dikwels oorinterpreteer word, asook dat sommige eksperimente (denk- of andersins) nie genoegsaam varieer word nie. ‘n Geliefkoosde voorbeeld wat dikwels genoem word is dié van ‘n “outfielder” (?Afrikaans) in bofbal wat ‘n bal moet vang. Ek kan dink aan verskeie maniere waarop hierdie eksperiment onder verskillende toestande uitgevoer kan word maar na die beste van my wete is dit nie gedoen nie en dit mag implikasies hê vir die daaropvolgende interpretasies. Ek sou graag hierdie variasies uitgevoer sou sien omdat ek dink dat die invloed van aanlering (ek bedoel hiermee wat die Ingelse sal noem “learning”, of dan vorige ondervinding) in baie gevalle nie in ag geneem word nie. Voorts is die konsep van die invloed van sogenaamde spieëlneurone (mirror neurons) wat ek eens op ‘n tyd aanvaar het en wat vir sommige mense integraal is tot embodied cognition nou nie meer relevant nie – dis meestal “hype.”
Gesien hoe mense se kognitiewe vermoëns kan verander as gevolg van suiwer sentrale senuweetoestande is ek geneig om baie aspekte van embodied cognition met s’n knippe sout te aanvaar en tans is ek dit grotendeels steeds eens met Pinker se stelling “the mind is what the brain does” alhoewel ek oop is vir oortuigings. Maar dalk kan Desmond help?
Plesier Leon :). Weet jy dalk iets van “embodied language”?
Baie dankie Amanda! Behalwe dat dit interessant is weet ek nou ook sommer hoe om buitestander te spel! -:)