Toorslag van die poësie tydens die US Woordfees: 6 – 16 Maart 2014

Vanjaar se US Woordfees neem hierdie week ‘n aanvang en die program is omtrent gepak met besonderse items vir die liefhebber van die digkuns. Volgens die fees se tuisblad is die temafokus vanjaar inderdaad iets magies: “Ons transformeer kulkunstenaar Martino se bekende ‘Kul jou hier, kul jou daar – en siedaar!’ vanjaar tot ‘Kuns hier, kultuur daar – siedaar 15 jaar!’ en toor allerlei husse uit die feeskeil. Hoe bonter hoe beter, ons hele program ’n kaleidoskoop vol kreatiewe ontploffings en wonderwoorde .”

Lina Spies

Die poësieliefhebber se vreugde begin reeds op Vrydag, 7 Maart, wanneer Lina Spies in die JS Gericke Biblioteek se ouditorium oor haar skrywersloopbaan gaan gesels. Agterna sal items uit se Lina Spies se dokumenteversameling in die Dokumentasiesentrum besigtig kan word. Kaartjies vir dié geleentheid kos R50. Op Maandag, 10 Maart, is Lina Spies wéér in die kollig; dié keer as deel van ‘n spesiale program om haar 75ste verjaarsdag te vier: “Lina Spies is nie alleen alombekend op Stellenbosch nie, maar het met haar herkenbare digterstem ’n wye aanhang verwerf by sowel leerders en studente as by die breë publiek. Die afgelope jare het bekronings gebring vir haar vertaling van Anne Frank se dagboek uit Nederlands. Kom luister hoe Murray La Vita haar uitvra oor haar beskouings. Alida Potgieter gesels oor haar werk en Hendrik Hofmeyr lewer saam met Minette du Toit-Pearce ’n gloednuwe toonsetting van Lina se verse, geskryf in opdrag van die US Woordfees!” Kaartjies kos R50 en die praatjie duur 50 minute.

Nog ‘n besonderse item is Elders aan diens; ‘n produksie deur Nicole Holm, Luna Paige en Frieda van den Heever wat aan die immergewilde Jeanne Goosen opgedra word. Albert Maritz is verantwoordelik vir die regie. Volgens die US Woordfees-program die volgende: “Dié kombinasie van teater, musiek en poësie bied hoë kwaliteit en baie variasie – ’n uitstekende manier om die verskillende verrassende fasette van die veelsydige Jeanne Goosen se woordkuns te belig. Jeanne het nie alleen gedigte, kortverhale, romans, toneelstukke, kabarettekste en talle rubrieke agter haar naam nie, maar ook ’n lisensiaat in klavier.” Dit vind plaas op 9 Maart (14:30), 12 Maart (12:00) en 16 Maart (13:00) in die Klein Libertas Teater en kaartjies kos R90.

Mengelmoesdigters, ‘n program op Woensdag, 13 Maart, om 09:00, beloof eweneens ‘n kwylbeklekkerte, want met Diana Ferrus aan stuur van sake kan dié geleentheid net prettig verloop: “Kom maak kennis met hierdie opwindende groep digters wat hul kreatiwiteit gereeld by die Breytenbach-sentrum in Wellington slyp onder die bekwame leiding van die bekende Diana Ferrus. Hulle kriewel rond in Afrikaans en is ernstig op pad om ʼn duidelike merk te maak in die Afrikaanse literêre wêreld.” Die digters wat saam met Diana Ferrus gaan optree, is: Gaireyah Fredericks, Nazlee Jeppie, Merle Danhouse, Annelize Laban, Theresa Carstens, Fiona Fertyn en Edroy Kyster. Kaartjies kos R40 en dit vind plaas in die Erfurthuis.

Ester Naomi Perquin

Iets waarna ook uitgesien kan word, is om die twee Nederlandse digters, Bart Moeyaert en Ester Naomi Perquin, in aksie te sien. By wyse van lusmaker, die volgende: “Moeyaert, wat o.m. stadsdigter van Antwerpen was, is al veelvuldig bekroon vir sy jeugverhale, poësie, toneel en vertalings. Sy werk word ‘gebruikersvriendelik’ maar tog diepsinnig genoem. Die jong Nederlandse digter Naomi Perquin, ook skrywer van rubrieke en radioverhale, word as ’n ster beskou. Haar eerste drie digbundels het talle pryse verower (o.m. van die tydskrif Het Liegend Konijn!), sy was redakteur van die bekende tydskrif Tirade en stadsdigter van Rotterdam.” Hulle optrede is geskeduleer vir 13:00 op Maandag, 10 Maart, in die Erfurthuis. Kaartjies kos R20.

Vir die liefhebber van die digkuns gaan Digtersparadys, op 15 Maart, om 16:00 in die Boektent, ongetwyfeld ‘n besonderse hoogtepunt wees. Hoe dan anders wanneer vier van ons mees gerespekteerde digters die verhoog gaan deel? “Kom luister saam na baie spesiale voorlesings uit hul jongste bundels deur drie van die grootste digters in Afrikaans: Hierdie mens – Wilma Stockenström; Klawerjas – Adam Small, en Karnaval en lent – TT Cloete. Hennie Nortjé sluit by hulle aan met In die skadu van soveel bome, sy dubbelbekroonde debuutbundel. ’n Hoogtepunt op die feesprogram!” Inderdaad. Kaartjies kos R50.

Omslag

Nog twee poësie-items, waar daar pertinent op twee digbundels gekonsentreer word, is Joan Hambidge se Meditasies (15 Maart om 12:00 in Erfurthuis) en Louis Esterhuizen se Die afwesigheid van berge (11 Maart om 12:00, eweneens in Erfurthuis).  Volgens die program se lokteks die volgende: “Uitgewer Etienne Bloemhof gesels met die bekende literêre figuur Joan Hambidge oor haar jongste digbundel, Meditasies, ’n ryk geskakeerde bundel wat ’n beduidende bydrae tot die breë Afrikaanse digterlike leksikon lewer. Humor en satire tree dikwels op die voorgrond, en so ook besonder skerp herinneringe. Haar bundel Visums by verstek is in 2012 met die ATKV-prys vir poësie bekroon.” En oor Esterhuizen se nuutste: “Francois Smith gesels met Louis Esterhuizen oor sy heel persoonlike, maar baie aktuele digbundel. Die drie uitgesponne gedigte wat die kern van dié bundel vorm, slaan die leser met die een kragtige golf van poëtiese besinning na die ander. Dit is die spreker se reis onderweg na die dood – die gedagtevlugte, die besinnings, die fantasieë waartoe die bewussyn geskok word. ’n Ander faset van die feestema.”

Ten slotte is daar onder die vaandels van Woordkuns en Woordmusiek ook nog ‘n hele aantal items waarby die liefhebber van gedigte aanklank gaan vind. Hulle is die volgende:

die afwesigheid van berge

Woensdag, 12 Maart, om 17:30 in die kykNET Endler-saal: 15 Verse. “Met Stellenbosch Universiteitskoor o.l.v. Andre van der Merwe. Margot Luyt, Anna-Mart van der Merwe, Antoinette Kellerman, Chris van Niekerk en andere. Regie: Juanita Swanpoel. Kom vier die Woordfees se 15de verjaarsdag saam met die internasionaal bekroonde Universiteitskoor en 15 kunstenaars wat hul persoonlike gunsteling-gedigte voorlees. ‘n Viering van vers en klank se towerkrag!” Kaartjies kos R80.

Donderdag, 13 Maart (20:30) en ook 16 Maart (11:00) in die Klein Libertas Teater: Tweesprong. “Deur Sanet Taljaard, met gedigte van Susan Smith. Ons dek saam feëtjie-tafeltjies, hou later moeder-en-dogter-tee’s, glimlag hartlik vir die wệreld en byt mekaar agteraf. Kry ’n glas wyn en kom giggel saam met dié aktrises. Teug diep aan jou glasie oor die plofbare, maar altyd nimmereindigend liefdevolle verhoudings tussen ma’s en hul dogters.” Kaartjies kos R80.

Vrydag, 14 Maart, om 10:00 in die kykNET Endler-saal: Boerneef sing. “Samesteller: Gerrit Loots. Toonsettings: Ansie Loots. Sangers: Jannie du Toit, Tinarie van Wyk Loots, Gerrit Loots en Clinton Zerf. Musikante: Clinton Zerf (pianis), Susan Mouton (tjellis), Mia Martens (klarinettis). Musiekregie: Clinton Zerf; Regie: Albert Maritz. Boerneef kon sy taal betowerend laat sing, maar op ʼn deuntjie wat vandag vir baie onbekend is… Want dit was die taal van die Koue Bokkeveld wat hy in sy grootwordjare met die boorlinge van sy kontrei sy eie gemaak het. Sy verse sing van sy verlange na sy Boplaas, van liefde en van oud word.” Kaartjies kos R100.

Saterdag, 16 Maart, om 18:00 in die Boektent: God die digter. “Met TT Cloete, Olga Leonard, Babette Viljoen. Regie: Lize Beekman. Daar is meer poësie in die sneeuvlokkie en toktokkie, as in die letterkunde, want die aarde is deur ʼn digter gemaak…’ Die skeppingsverhaal word oorvertel met poësie en toonsettings van die bekroonde TT Cloete (90) wat self sy gedigte voorlees. Toonsettings deur Babette Viljoen en Olga Leonard. ʼn Viering van die digter se 90ste verjaarsdag!” Kaartjies kos R100.

Wat ‘n fees! Maak seker dat jy jou kaartjies betyds kry, want dié een gaan geweldig wees.

Vir jou leesplesier volg Zandra Bezuidenhout se gedig wat spesiaal vir die Woordfees geskryf is.

***

Woordfees-Toorfees

 

Liedere en verhale

lok ons na ‘n reis in towertale.

‘n Wonderwêreld lê haar bloot:

die tafels is gedek,

aanstons begin die spel.

Kunstenaars tree aan,

elk met ‘n keil vol hase.

Geluk is ‘n gordyn wat oopgaan

oor ‘n teater-tentedorp

bekend as Woordfees-Stellenbosch.

 

© Zandra Bezuidenhout

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •