Blanche DuBois
Ek moes altyd genadebrood
eet, in die Flamingo-hotel
minnaars teenskunnig onthaal,
toe ek Belle Rève verloor.
Op soek na ‘n holte vir my voet
met vele vereboas,
vertrek ek na Stella,
my swangersus
in New Orleans.
Genagmerrie ek
oor ‘n lewe tus-
sen grense,
tussen tye:
ek onthou daardie skoot
in die donker nag
toe…
Ek is Blanche, Blanche DuBois,
‘n lenteboord,
ek is die Dame van die Kamelias,
ek is, ek is…
*
Altyd voor
altyd voor
spieëls
staan Blanche DuBois,
altyd weg van lig
van lig
‘n vlermuis
gevang
nes die soekligte
van waarheid
deur haar skyn…
*
Die brutale Kowalski
ek walg van sy
lyf en reuk
in die Elisiese
velde
tussen illusie
en ‘n gekraakte spieël
*
In ‘n donkernag ver-
geet sy die pinnommer
van Vodamail,
skakel in die nag
‘n vergete nommer,
ontdek ‘n vreemde selfoon
in haar sak ná ‘n nag
soekend soekend na ‘n Blanche duBois
op ‘n “Streetcar named desire”…
*
Vivien Leigh en Cate Blanchett
word één met Blanche:
“…I’ve always depended
on the kindness of strangers…”.
Droewe, melancholiese Blanche,
alkoholis en self-bedrieër,
met hierdie vers
verlos ek jou
van eensaamheid
en waansin:
nou speel ek vrolike
Weense walse
net vir jou net vir jou
word één met jou
soos ‘n gerekende aktrise
dansend dansend
wég van verguising
en verkragting.
© Joan Hambidge / 2014