Hilda Smits. Oor Hemingway se snor & tuimeldroërs
Een van ‘n reeks foto’s wat Walker Evans op New York metro treine geneem het
Ek was onlangs in New York en het myself voorgeneem om ‘n gedig van formaat te skryf. ‘n Gedig met Lorca se verwoede wenkbroue, Hemingway se vreeslose snor en Kafka se formidale neus. My gedig wou ongelukkig niks weet van sulke dinge nie, en het soos ‘n hardnekkige pug terug gebeur Nashville & tuimeldroërs toe. En my beledig van chauvinisme. Al wat ek kan sê is dat ‘n hele paar talentvolle dames ook verwoede wenkbroue, vreeslose snorre en formidale neuse gehad het. Dink maar aan Frida Kahlo, en Gertrude Stein en Virginia Woolf op die neus front. Ek het darem ‘n paar kiekies van plasse water in Central Park geneem.

Lig & water & die lig was water & die water lig & hier groei hart blik tak & die roes van dit alles onthou jy in die nag as die water met jou eie bene uit die bad loop & die lig
hier in die huis onder die lamp in die stilte
my hond sug in haar drome
dra sy hoenders & bene so groot soos die maan
in haar neusvleuels rond
in die kelder skommel die tuimeldroër solied & eensaam
soos Hemingway se vrouens
onder drie lae muurpapier het ‘n noukeurige hand 1903 & Wright
geskribbel vir ons om oor te wonder
verbeel myself die straatligte hang soos die sagte ingewande van magnolias
oor die pad & hoe gelei die maan vannag soos ‘n swaar silwer mot water
al langs die telefoonlyn af
hier drup die bad haar rooi siklus soos ‘n horlosie tussen kraan & prop
slaap die hond in‘n gedig wat waterig wil wortel skiet
in ‘n droom wil vuur word & die sneeu van vier hande
soos ‘n vliegtuig teen die muur soos die senuweestelsel van ‘n lamp
Dankie vir die blog Hilda – veral die atmosfeer wat tussen die foto’s en die gedig tot stand kom. Dit maak hierdie Maandag minder Maandag vir my.
Ek is bly om dit te hoor, Andries. Ek het liederlik verdwaal in Central park oppad na die Met toe. Dit was heerlik gewees – sneeu & plasse ys & min mense.
As v-e-r-kyker weet ek nie of julle hierdie
fees ken nie:
ZEBRA Poetry Film Festival on FilmFestivalLife
http://www.filmfestivallife.com/ZEBRA-Poetry-Film-Festival
Wie (met of sonder sokkies) byt die gogga?
Gepraat van “(met of sonder sokkies) byt die gogga”, Engela, ken jy BlackMilk Productions se films? “started innocently enough in 2008 with a photo shoot that occurred, of all places, in Ronnie Belcher’s attic.” Baie mooi. Skakel: http://vimeo.com/blackmilk. Sien hulle is ook op FB.
Maria, baie dankie – het BlackMilk Productions nie geken nie.
Groot waardeer.
Plesier, Engela. Baie bly om BlackMilk te kan adverteer, hou baie van hulle werk.
Dankie, Engela! Sokkies & al. Dit lyk baie interessant en Berlyn is ‘n besonderse plek. Ek kry eintlik juis hierdie week ‘n video kamera, so dit moet karma wees. Ek wens daar was meer sulke dinge in Suid Afrika ook. Hopelik is vliegtuig kaartjies en hotelle ingesluit 😉
Baie dankie Hilda vir n lekker stukkie Groot Appel. Jou foto’s is manjifiek!
Dankie ook dat jy ons aan die drie spesifieke groot dames van die kunste herinner. Ja, Berlyn is n besonderse plek. Party mense hier sien Berlyn en
en New York as suster-planete.
Geniet jou nuwe kamera – carpe diem! Die ryk Afrikaanse digkuns en Minerva
sal skitter.