Daniel Hugo. Erik Menkveld en Villa Hellebosch

Dit is gister bekend gemaak dat een van Nederland se vernaamste digters, Erik Menkveld (1959), Sondag in die ouderdom van 55 jaar oorlede is. Hy was onder meer ‘n redakteur by die Uitgeverij De Bezige Bij en ook redakteur van die literêre tydskryf Tirade. Menkveld het in 1997 as digter gedebuteer met De karpersimulator, ‘n bundel wat vir die VSB Poëzieprijs genomineer was en bekroon is met die Van der Hoogtprijs en ook die C. Buddingh-prijs.

Onderstaande essay is deur Daniel Hugo ingestuur ter nagedagtenis aan die ontslape digter

*

In Oktober 2007 was ek twee weke lank ’n gas aan ‘n internasionale skrywershuis in België, waar ek op ’n herfstige Sondagmiddag aangekom het.

Villa Hellebosch (www.residentiesinvlaanderen.be) lê in ’n pragtige bos teen ’n helling van die dorpie Vollezele – vandaar die naam Hellebosch. Dit is ’n enorme dubbelverdiepinghuis met ’n rietdak. (Die mense van die omgewing verwys daarna as die “kasteel”, sou ek later in die dorpskroeg verneem.) Die bos bestaan onder meer uit populiere, kastaiings, eike en – my asem slaan weg – beukebome. Dit is die eerste keer in my lewe dat ek hierdie lang en slanke wolkekrabbers aanskou. My kamer is op die boonste verdieping van die villa en kyk uit op die beuke. Snags word ek bewus van hulle gerusstellende geritsel.

In die onderste gang van die villa is daar ’n rak met die publikasies van die skrywers wat al hier gebly het. Aan die oorkantste muur hang ’n hele galery foto’s van die einste outeurs. Een van hulle is die Nederlandse digter Erik Menkveld, van wie daar drie bundels op die rak staan. In Prime time (Uitgeverij GA van Oorschot, Amsterdam) ontdek ek “Dichter en fazant te Hellebosch” opgedra aan Alexandra Cool, eienaar van die villa en ons gasvrou.

Een klaroenstoot haalt hem uit zijn werk.
Vanachter zijn tafel een blauw gemarmerd
knaloranje spektakel in de herfstige
spikkelpopulieren achter de haag.

Onder zijn appelrodewingerdrankomaderde
raam versprinkt een geelvink
in de rozelaar, staart hem scheef
aan en schiet weg in de boomgaard.

O kleurloos getsjilp in mijn hersens
denkt hij. Een fazant laat zich niet zien
onder onmiddellijke woorden als vermiljoen,
paarlemoer, valavond, zwerk.

In Afrikaans klink dit só:

Digter en fisant by Hellebosch

’n Trompetgeskal steur hom in sy werk.
Hy kyk op en sien ’n blou marmergestreepte
knaloranje spektakel in die herfstige
spikkelpopuliere agter die heining.

Buite sy appelrooiwingerdblaarberankte
venster spring ’n geelvink rond
in die roosboom, kyk hom skeef aan,
vlieg skielik weg na die boord.

O die kleurlose getjilp in my kop,
dink hy. ’n Fisant bly onsigbaar
in onmiddellike woorde soos vermiljoen,
perlemoen, skemeraand, swerk.

Die gedig gaan oor die uitdaging om die klinkende, kleurryke, bewegende werklikheid te beskryf – sonder om in geykte taalgebruik te verval. In die slotstrofe gee die digter ’n rytjie “poëtiese” woorde wat hy as verslete en daarom as onbruikbaar beskou. As teenvoeter skep hy die neologismes “spikkelpopulieren” en “appelrodewingerdrankomaderde”.

Soos te verwagte is daar onvertaalbaarhede in Menkveld se gedig wat minder bevredigende Afrikaanse ekwivalente moes kry. Daardie “klaroenstoot” waarmee die vers so welluidend begin, word ’n veel lomper “trompetgeskal”. Die enkele helder noot word ’n kermisagtige fanfare. Die halfrymende “klaroen”/“knaloranje” gaan ook daarmee verlore, maar word in ’n mate voor vergoed deur die klankooreenkomste tussen “geskal” en “spektakel”. (Dit val my nou op dat die “blauw gemarmerd / knaloranje spektakel” van ’n fisant inderdaad as ’n soort kermisattraksie voorgestel word.) In reël 2 van dié strofe is my “blou marmergestreepte” weer eens omslagtiger (en minder presies) as “blauw gemarmerd”.

Daardie lang nuutskepping in die openingsreël van strofe 2,  “appelrodewingerdrankomaderde”, is noodgedwonge anders weergegee in Afrikaans, omdat die woord “omaarde” vir “omaderde” onduidelik en selfs dubbelsinnig is – die leser sou kon dink dit verwys na die “aarde” en nie na “are” nie. Die “raam” (venster) word in die Nederlandse gedig deur die wingerdranke “omader”, waarmee assosiatief na die woord “gemarmerd” in die eerste strofe verwys word. Marmer vertoon naamlik kronkelende strepe of are. Van Dale praat van ’n “mozaïektextuur” en gee die frase “geaderd marmer” aan. Dit alles gaan in my vertaling verlore. Die allitererende b-klank wat uit die Afrikaanse strofe opklink, vergoed nie vir dié semantiese verlies nie.

In die slotstrofe kom die poëtiese woorde – wat die digter onmiddellik en alte maklik te binne skiet – naamlik “vermiljoen”, “paarlemoer” en “zwerk” gelukkig ook in Afrikaans voor. Tog jammer dat die Nederlandse “valavond” in donker Afrika heeltemal verduister geraak het.

Nog ’n bewoner van die villa-in-die-beukebos is Paul Buekenhout. (What’s in a name?) Hy is die hoofbestuurder van Het Beschrijf, wat hierdie huis bedryf. Ek ry saam met Paul na Brussel, waar ek ’n paar Nederlandse boeke wil koop. Hy kies smal kortpaadjies tussen weivelde en suikerbeet- en mielielande deur. Skielik vlieg daar ’n fisant uit ’n heining op. Presies die pragtige spektakel wat Erik Menkveld in sy gedig beskryf het. So kry die woord vlerke.

(c) Daniel Hugo

Bookmark and Share

22 Kommentare op “Daniel Hugo. Erik Menkveld en Villa Hellebosch”

  1. Marlene van Niekerk :

    Beste Daniël,
    Dankie vir jou interessante stuk hierbo en vir die mooi vertaling van die gedig van Menkveld. Dit werk uitstekend, dink ek, maar ek het net gewonder oor hoe jy staan teenoor verinheemsing en veruitheemsing (foreignizing) in vertaling van veral poësie.
    Let wel, ek skryf hierdie nota in absolute vriendelike medevertalersgees, en: baie geluk ook met jou vertaalprys, welverdiend!

    Ek het in my 2005 Pharos tweetalige woordeboek gekyk , op p.274 staan “klaroen” en ook die verbinding
    “klaroenstoot”. Ook “perlemoer”staan op p.446 as wisselvorm vir perlemoen. ook “gemarmer(d)”staan op p.175 en “blougemarmerd” sou dus volledig korrek wees in Afrikaans. Ook “gaarde” staan op p.158 , gemerk met “(poët)”, “boomgaarde”
    sou dus ook korrek wees. Jy behou wel “swerk” wat vir talle Afrikaanse lesers ‘n vreemde woord sal wees, en laasgenoemde keuse is dus nie heeltemaal koherent met jou ander keuses vir meer vertroude Afrikaanse woorde soos “trompetgeskal” en “blou marmergestreepte” nie, dit sou, indien koherent met die ander keuses, gewoon “lug” kon geword het. Verder is “ver/sprinken” geen Nederlandse werkwoord nie, dit is dus ook in Nederlands ‘n vreemde opgemaakte werkwoord en sou om dieselfde redes net so in Afrikaans ook vreemd kan bly, naamlik as “versprink” in die gedig, en dan sou mens die myns insiens bietjie hinderlike “rond” in “spring rond”, ook nog met “rond” as werkwoorddeel in die voorkeurposisie aan die einde van die reël kon skrap.( “Sprink” is wel ‘n Nederlandse woord vir “bron” sover ek kan agterkom.)
    Dit is dus vir my interessante vertaalkeuses wat jy maak en vertaalbeleid wat jy voer ten opsigte van vertaling van Nederlands na Afrikaans, miskien kan jy dit nogmaals toelig? Gaan dit daaroor om die Nederlands so Afrikaans as moontlik te laat klink en dus om die vertaling sover as moontlik te verinheems? Gaan dit daaroor om alle “vreemdheid” uit die vertaalde teks te weer sodat die (gemiddelde) leser glad nie vashaak as hy die vertaling lees nie en glad nie agterkom dat hy iets lees wat vertaal is uit ‘n vreemde taal nie? Sommige mense sou miskien aanvoer dat dit ‘n politieke keuse ( politiek in die breë sin van magsuitoefening) is wat gemotiveer sou kon wees uit die relatiewe onmag-posisie van ‘n klein taal, naamlik om alle tekste (ook bv Engelse tekste) wat na die klein taal toe vertaal word so veel as moontlik te verinheems en geen weerstandigheid as spoor van vreemdheid in die vertaalde teks na te laat nie – alles ten einde die kleiner taal te bemagtig.
    Ek hoor graag jou idees hieroor!
    Vriendelike groete,
    Marlene v. N.

  2. Marlene, ek sal later uitvoeriger antwoord, maar wil net gou daarop wys dat die Nederlandse “versprinkt” ‘n tikfout is. Dit moet doodgewoon “verspringt” wees.

  3. Beste Marlene, baie dankie vir jou mooi woorde i.v.m. die vertaling en die prys. Baie geluk ook met jou Akademieprys.

    Ek antwoord graag op jou prikkelende vrae. Ons woordeboeke (verklarend en vertalend) staan nog vol Neerlandismes wat neerkom op argaismes in Afrikaans. En dit is tog sekerlik nie die bedoeling om ‘n alledaagse Nederlandse woord (“boomgaard”) met ‘n Afrikaanse argaisme (“boomgaarde”) weer te gee nie. Myns insiens is “stoot” in “klaroenstoot” ook ouderwets, minder as “klaroen”. Miskien moes ek “klaroengeskal” i.p.v. “trompetgeskal” gebruik het. Wat “swerk” in Afrikaans betref: dit staan in ‘n rytjie (by implikasie onbruikbare) po”etiese woorde waarvan die digter wil wegskram, en is dus heeltemal op sy plek – ook omdat dit die enigste rymwoord in die gedig is wat ‘n sikliese sluiting met die eerste re”el bewerkstellig. Oor “blougemarmerd” moet ek nog dink.
    Vertaling is vir my per definisie verinheemsing, want ‘n taal is altyd kultureel en geografies bepaald. Daarom kry ‘n mens soveel soorte Engels. Wat verinheemsing met taalbemagtiging te doen het, verstaan ek nie. As daar by vertaling van bemagtiging sprake is, is dit van die leser wat toegang kry tot die letterkunde van ‘n vreemde taal. En waarom sal die vertaler in die doelteks iets vreemd maak wat nie in die bronteks vreemd is nie?

    Vriendelik
    Daniel

  4. Marlene van Niekerk :

    Dankie, Daniel, vir die verduideliking, ek verstaan alles wat jy sê in verband met jou keuses.Die debat in verband met verinheemsende en veruitheemsende vertaling (foreignizing) kan sekerlik nie maklik opgelos word nie. Die idee van laasgenoemde is soos ek verstaan om weerstandigheid of vreemdheid in die vertaling te bewaar ( in hierdie geval moontlikerwys deur Nederlandisme/Afrikaanse argaïsme) sodat mense duidelik kan begryp dat dit ‘n vertaling is en dat dit uit ‘n vreemde taal kom. So ‘n vertaling lees doelbewus nie “glad” nie. Mense soos Venuti vind dat veral vertaling van ‘n klein taal na Engels, hierdie weerstandigheid moet te kenne gee, anders lees die Engelse leser die vertaalde werk moeiteloos en gladweg as sy eie. “Foreignizing” het dus te doen met ‘n opponerende taalpolitieke praktyk ten opsigte van taalimperialisme – wat sekerlik nie relevant is re Nederlands en Afrikaans nie.
    Vriendelik,
    marlene.

  5. Beste Marlene, ek ken nie Venuti en ander se teorie”e nie, maar dit klink nie vir my asof hulle rekening hou met die praktyk van vertaling nie. Vertaling is in die eerste plek deel van ‘n ekonomiese sisteem, sekond^er van ‘n letterkundige een. Geen uitgewer sal ‘n roman publiseer wat soos ‘n vertaling lees nie. (In die po”esie is daar meer ruimte vir “vreemdheid”, toegegee.) Dit verg besonder oningeligte lesers wat nie besef dat hulle ‘n vertaling in die hand hou nie. Die vreemde skrywersnaam en die kolofonbladsy van die boek sal dit reeds duidelik maak dat hulle met ‘n vertaling te doen het. Die naam van die vertaler staan in elk geval prominent op die voorblad van die meeste boeke wat uit Nederlands in Afrikaans vertaal word. Verder moet vertalers van Nederlandse boeke deur die Nederlandse en Vlaamse vertaalfondse goedgekeur word voordat ‘n produksie- en vertaalsubsidie toegestaan word. ‘n Neerlandistiese vertaler sal moeilik geakkrediteer word. Ek neem aan dieselfde prakties-ekonomiese oorwegings geld vir ander tale.

  6. Desmond Painter :

    Hallo Daniel. Die prakties-ekonomiese oorwegings ten spyt, Marlene maak ‘n geldige punt: die manier waarop ‘n imperiale taal (Engels bv.) sigself uitbreidend reproduseer is nie bloot deur die kleiner taal te ignoreer nie, maar juis dit (deur soomlose vertaling, bv.) te verorber… die soort vertaling waarna Marlene verwys sou dalk beskryf kon word as ‘n beentjie wat in die keel vassit en ‘n kuggie veroorsaak. Daai kuggie is die kleiner ‘brontaal’ se weerstandigheid…

    Die taalpolitieke dimensie waarvan sy hierbo skryf sou sekerlik ook in die spel kom as ek bv. Nathan Trantraal se gedigte en rubrieke, ter wille van gemakliker ‘kommunikasie’, in ‘Standaardafrikaans’ sou vertaal.

    Die moontlikheids- en onmoontliheidsvoorwaardes van vertaling herinner ons immers nie net aan semantiese en ander taalkundige grense nie, maar ook politieke grense. Deur net aan eersgenoemde aandag te gee, en dan as suiwer praktiese probleem wat deur die vertaler opgelos moet word, verdoesel mens dalk laasgenoemde, wat vertaling dan in ‘n sekere sin ‘n ideologiese praktyk maak – soms, ‘n soort KY Jelly vir taalimperialisme….

  7. Beste Desmond, met alle respek: Die enigste weerstand wat ‘n veruitheemsende vertaling gaan wek, is by die leser. Afrikaans word op geen manier bedreig deur vertalings uit Engels of Nederlands nie. Daar is doodgewoon te min daarvan, want Afrikaanse lesers verkies – ironies genoeg – om die w^ereldletterkunde in naatlose Engelse vertalings te lees.

  8. Desmond, ek verstaan nie jou Trantraal-analogie nie. Dit lyk asof jy jou daarmee uitspreek teen alle vertaling, of dan ten minste teen vertaling uit Nederlands wat vir die Afrikaanse leser met struikelblokke en al in ‘n mate toeganklik is. Van wanneer af is “gemaklike kommunikasie” ‘n polities verkeerde begrip? Die vertaler moet uiteraard die stilistiese kenmerke en vreemdhede van die oorspronklike probeer weergee, maar dit sekerlik nie vreemder of ontoegankliker maak as die oorspronklike nie.

  9. Nog’n gedagte, Desmond, die staus van ‘n taal en daarom sy relatiewe posisie teenoor ‘n groter (imperialistiese?) taal word onder meer bepaal deur die aantal vertalings wat daarin verskyn. Volgens hierdie maatstaf het Afrikaans ‘n baie lae status. En dit het niks te doen met die vertalers se “vertaalbeleid” nie. Nederlands is ‘n relatiewe klein taal, maar daar word op ‘n enorme skaal in Nederlands vertaal. Kom jy in ‘n Nederlandse boekwinkel staan daar meer vlot, naatlose vertalings as oorspronklike Nederlandse boeke. Die Nederlandse taal word sekerlik nie daardeur opgeslurp of bedreig nie. Inteendeel.

  10. Korreksie: die status van ‘n taal.

  11. ‘n Laaste gedagte: Die teorie van taalimperialisme via vertaling klink vir my na ‘n suiwer akademiese bedinksel.

  12. Desmond Painter :

    Daniel, natuurlik word Nederlands nie deur vertaling bedreig nie; tale bestendig en brei hulself uit o.a. deur vertaling. Geen taal meer so as Engels nie: die meerderheid ‘Engelse’ boeke wat ek lees, is vertalings uit ander Europese tale. Ek kla nie; dit is ‘n fantastiese voorreg, net soos ek baie bly is dat ek Nederlandse gedigte in Afrikaanse vertaling kan lees.

    Dit verander nogtans nie die feit dat die bestendiging en uibreiding van tale nooit polities neutraal is nie, en dus het ek gedink Marlene se opmerkings is interessant – teoreties, maar ook prakties – juis omdat dit hierdie taalpolitieke of taalideologiese dimensies probeer deurtrek na die vertaalpraktyk.

    Dit is dalk suiwer akademiese bedinksel, but I thinks not. Ek kan myself indink dat ‘n Nederlandse of Engelse vertaler wat Nathan Trantraal se verse of prosa in Nederlands of Engels wil vertaal oor veel meer sal moet besin as bloot vlotheid van die vertaling. Daar is nie net praktiese oorwegings nie, maar eg politieke oorwegings wat in die spel kom.

    Trantraal se werk (om hom nou maar as voorbeeld te gebruik) bied reeds in Afrikaans weerstand teen appropriasie, teen die vanselfsprekendheid van kommunikatiewe gemene grond, dus sou dit dalk problematies wees as hy sonder ‘weerstand’ in Nederlands en Engels geapproprieer word.

    So ek kritiseer nie vertaling as sodanig of jou vertaalpogins in besonder nie; ek improviseer maar gewoon rondom Marlene se gedagtes hierbo.

  13. Desmond, ek stem saam: Dialekskrywers se keuse van hulle taalmedium is per definisie ideologies gekleur. Vertaling uit dialek is bykans onmoontlik, want een dialek kan nie met ‘n ander vertaal word nie. Die interne taalpolitiese situasie van die brontaal en sy dialekte verskil meestal drasties van die doeltaal s’n. Die ideologiese lading van die oorspronklike taalmedium sal dus noodwendig verlore gaan. Dit is ‘n spesialisterrein en nisgebied wat nie regtig argumente bied vir die algemene vertaalpraktyk nie.

  14. Marlene van Niekerk :

    Beste Daniel en Desmond,
    Interessante gesprek. Die volgende vrae.

    Is “algemene vertaalpraktyk” nie altyd en noodwendig ekstreem ideologies belade nie? Waarom sou dit aanspraak wil maak op neutraliteit?

    Is Kaaps ‘n “dialek” of is dit ‘n selfstandige taal? Wie (het) bepaal wat dit is? Wie se opinie tel en waarom en by wie?

    Mag ‘n wit “”non-native”” spreker/skrywer dit literêr gebruik of aanhaal of in ander variasies as standaard Kaaps spel/vertaal? Wie bepaal dit? Met watter effek? Wie gehoorsaam en waarom?

    In terme waarvan word die herstandaardisering van standaard Afrikaans tans oorweeg?

    Wanneer het vertaling van Afrikaans na Nederlands die status van’n transaksie op gelyke voet begin kry? Deur historiese navorsing sal mens dit seker kan uitwys.

    Is “lost in translation” nie dalk ook ‘n kwaliteit van eksistensiële bevindelikheid nie? Miskien is tydens sommige historiese situasies (van linguïstiese stroomversnelling), vertalers self meer “lost” as in andere?

    Tot slot drie eksploratiewe stellings:
    1. Skrywers wat nie probeer om deur die grys gordyn (Kundera) van die funksionele/instrumentele taal van “vlot kommunikasie” te breek en sodoende iets van die weerstandigheid van die werklikheid self sigbaar te hou/te kry nie, is baie kwesbaar indien vertalers hulle werk wil “uitstryk” terwille van “vlot kommunikasie”in die doeltaal.

    2.”Vlot kommunikasie” is altyd “in verhale verstrik”.Literêre taalgebruik kan dit soms uitwys of “laat sien”.

    3. Ek kan op ‘n eerste dag in ‘n vreemde land ‘n hoender by iemand koop op ‘n mark, sonder ‘n woord, net met gebare van welwillende ruil, vlot, seepglad. Voorlopig.

    4.Ek kan met die uile praat (hoe-hoeeee), dikwels kom kyk hulle wie de ef met so ‘n rare aksent na hulle roep. Dit is suiwer genade(of gedeelde DNA).

  15. Buiteblaf Breytenbach :

    Wat mens bring by die oervraag: “Wat maak so oe-oeee?”

    Antwoord: “‘n Koei sonder lippe.”

  16. Leon Retief :

    Marlene, mbt jou hoender koop in ‘n vreemde land: dis nie altyd so maklik nie. Ek weet van ‘n Italiaanse chirurg wat ‘n paar jaar in Beijing gaan werk het. By die hospitaal was haar kollegas net soos sy Engels magtig maar sy kon nie Mandaryns praat, verstaan of lees nie en buite haar werksomgewing was sy maar allenig. So stap sy eendag by ‘n troeteldierwinkel verby en sien ‘n klomp hondjies agter die venster, besluit sy sal maar een aanskaf vir geselskap. Sy stap in en beduie vir die man agter die toonbank sy wil ‘n brakkie hê. Glimlaggend en kopknikkend beduie hy vir haar ja, gerus, kies maar een. Sy kyk hulle deur en besluit daai enetjie is tog al te pragtig en dierbaar, en wys hom aan die eienaar. Hy neem die hondjie, vat ‘n knuppel en… kadwaf! slaat hy die arme dingetjie morsdood en oorhandig dit aan haar, steeds met ‘n groot glimlag. Dit was toe olliewhaail nie troeteldierwinkel nie maar ‘n winkel waar mens jou hondjie-aandete kan gaan uitsoek, net soos mens elders jou lewende kreef in ‘n glasbak kan gaan uitkies.

  17. Marlene, jou knuppels laat nou die hoenders, koeie en brakkies in alle rigtings spaander.Ek kan onmoontlik op al jou vrae antwoord. Ek waag een. Kaaps is myns insiens ‘n dialek in die sin dat dit nie gestandaardiseer is nie. Daar bestaan ook meer as een variant van Kaaps, soos wat duidelik geblyk het uit die Trantraal-Small-debat. Breyten Breytenbach het selfs die moontlikheid geopper dat Trantraal Kaapse Engels besig. Dit maak nie van Kaaps ‘n onselfstandige of onvolwaardige taal/tale nie. Dit het Adam Small baie oortuigend uitgespel in sy nawoord by “Kitaar my kruis”. Die outentieke anti-establishment statement (daar begin ek nou ook in tale praat!) gaan myns insiens wel verlore as ‘n nie-moedertaalspreker Kaaps as letterkundige medium aanwend. In hierdie verband dink ek veral aan Peter Blum en Uys Krige. Die feit dat hulle Kaaps vir gedigte gebruik het, het wel baie bygedra tot die feit dat Kaapse Afrikaanse skrywers soos Small, Snyders, Kamfer en Trantraal tot die hoofstroom van die Afrikaanse letterkunde toegelaat is. In ander tale word dialekskrywers selde gekanoniseer.

  18. Marlene, ek verset my net teen “vreemdheid” in ‘n vertaling waar dit nie in die oorspronklike voorkom nie. Ek is beslis nie ‘n voorstander van “vlot kommunikasie” ten alle koste nie. Maar ‘n vertaling wat soos ‘n vertaling lees, is ‘n ideologiese onding.

  19. ‘n Los gedagte: Mense wat praat van die herstandaardisering van Afrikaans, praat maklik. Hy besef waarskynlik nie watter politieke, ekonomiese en organisatoriese kragte daar nodig is om so ‘n proses te laat slaag nie.

  20. Die “mense” wat “hy” hierbo geword het, is klaarblyklik ‘n Freudiaanse glips!

  21. Marlene van Niekerk :

    Dankie Daniel, ek begryp jou standpunt re vreemdheid/veruitheemsing in vertaling. Daar sal seker maar altyd hieroor verskillende menings wees. Nabokov het byvoorbeeld geglo mens vertaal alles so letterlik moontlik, woord vir woord,iets wat sekerlik tot hipervreemde vertaling gelei het. Die punt is maar seker net dat mense kennis neem daarvan dat daar so iets soos ‘n vertaalteoretiese debat oor hierdie kwessies is, selfs al is dit “akademiese bedinksels”. As ‘n mens nou byvoorbeeld ‘n nie-Kaapse Afrikaanse gedig wat wemel van Engelse woorde in Duits moet vertaal, sal mens dan alles in Duits oorsit of sal jy die Engelse woorde in Engels laat en ‘n aantekening onder die vertaling skryf oor die toenemende normalisering van Engels in die Afrikaanse skryftaal?
    Beste,
    Marlene.

  22. Marlene, ook Duits tango vrolik met Engels! Denglisch kan vir buitepraters
    vermaaklik wees: bv. ‘Handy’ (selfoon), ‘Oldtimer’ (vintage car), ‘Backshop’
    (bakkery). Soos altyd moet vertalers wakker en ligvoets dans.

  •