Handeklaptyd vir Marlise Joubert

Versindaba is vandag vyf jaar oud en hierdie prestasie is alles te danke aan die visie en toegewyde ywer van één persoon: Marlise Joubert. Vandaar vandag se handeklap, want watter enorme bydrae het sy nie by monde van hierdie webtuiste tot sowel die bevestiging as die uitbouing van die Afrikaanse digkuns oor die afgelope jare vermag nie … En dit alles op haar eie, unieke manier waar elke bydrae met enorme respek vir teks sowel as skrywer hanteer word. Sonder om ooit op enige erkenning aanspraak te maak of eie werk te wil bevorder. (Trouens, hierdie hele handeklapsessie is as verrassing vir haar bedoel; sy self dra geen kennis hiervan nie, want ek weet mos dit sou haar net verleë laat voel het indien ek my voorneme vooraf met haar moes bespreek het.)

Maar eers, ter wille van volledigheid: In Desember 2008 skenk Marlise se skoonseun as verjaarsdaggeskenk bandwydte aan haar wat geregistreer is by die telekommunikasie-maatskappy waar hy in Engeland steeds werksaam is. Sy besluit summier om ‘n webblad ter ondersteuning van die Versindaba-poësiefeeste, wat ons sedert 2005 in Stellenbosch aangebied het, tot stand te bring. Op 28 April 2009 is daardie webblad op die internet gepubliseer. En glo my, daardie klompie maande was geensins maklike maande nie, veral weens haar persoonlike omstandighede. Nie net moes Marlise ‘n nuwe program, WordPress, aanleer en aanpas/bemeester nie, maar sy moes ook voorberei vir ‘n kunsuitstalling tydens die KKNK in April 2009 waar ‘n beduidende getal van haar akwarelle deel sou vorm van die amptelike ABSA-kunsuitstalling. In die geharwar van aktiwiteit het sy van haar rugwerwels verskuif en moes sy derhalwe kort na die KKNK ‘n rugoperasie ondergaan. (Haar latere bundel, Splintervlerk, was die poëtiese verslag van dié periode …) Nietemin, sy was vasberade om die webblad voor die einde van April gereed te hê vir plasing, bedlêend al dan nie, aangesien dit die onderneming was wat sy aan bepaalde belanghebbendes gegee het. Selfs toe sy later wel op doktersaanbeveling móés staan, het sy versoek dat ek vir haar bo-op haar lessenaar ‘n toonbank moes bou sodat sy regop kon staan terwyl sy haar rekenaarwerk vermag. Die uitdaging – en frustrasie – was om die rekenaarprogram, wat eintlik by uitstek ‘n blogprogram is, sodanig te wysig dat dit sowel statiese bladsye (vir data-versameling) as verskuiwende bladsye vir blogs en ander interaktiewe bydraes sou kon bied. En natuurlik om die magdom data te orden en te laai …

En getrou aan Marlise se aard, mis sy nie ‘n sperdatum nie. (Min mense weet dit, maar sy is onder andere ook ‘n oud-joernalis.) Binne enkele dae na publikasie het ons egter besef dat sowel die verrassende aantal besoeke wat die webblad van meet af aan ontvang het, as die reaksie uit poësiegeledere daarop dui dat dié webtuiste ‘n véél groter rol het om te speel as gewoon om as bemarkingsinstrument te dien vir ‘n bepaalde fees wat na vyf jaar aan al sy doelwitte voldoen het. Trouens, die webblad was ideaal geposisioneer om as platform te dien vanwaar die Afrikaanse digkuns onder die aandag van ‘n groter gehoor – hier ter plaatse en ook oorsee – gebring kan word … Derhalwe het Marlise binne enkele maande die webblad ten volle getransformeer na ‘n kollektiewe blad waartoe alle gepubliseerde digters toegang het; mits daar gehoor gegee word aan die reëls en regulasies van die blad wat sy daargestel het vir die goeie orde en konstruktiewe debat. Drie groepe bloggers is aangewys:  plaaslik (Binneblik), oorsese (Buiteblik) en ‘n besonder meelewende groep Nederlandse en Vlaamse digters (Wisselkaarten); ‘n paneel resensente is aangestel en borgskappe is verkry: Fonds Nederlandistiek (Suid-Afrika), as primêre, oorkoepelende hoofborg, plus die Dagbreek Trust (vir bepaalde bedryfskostes), Het Nationale Fonds Jan Marais (vir resensies) en Cordis Trust (vir kompetisies). Hierdie befondsing het dit ook vir Marlise moontlik gemaak om ‘n bedrewe assistent, Joan-Marie Barendse, aan te stel om haar teen vergoeding tot hulp te kan wees na gelang van werksomstandighede.

Maar watter prestasies is daar tot tans behaal?

  • Statistiek dui daarop dat die webblad maandeliks deur ongeveer 22,500 mense besoek word; hiervan is ongeveer ‘n derde uit die buiteland, met Nederland en Vlaandere as die vernaamste buitelandse sentra. Na afloop van vyf jaar staan die aantal unieke besoeke tans op 1,348,000. ‘n syfer wat uitstekend vergelyk met ander soortgelyke webtuistes wêreldwyd. (Terloops, weekliks beskou word die meeste besoeke op Dinsdae ontvang, gevolg deur Maandae en dan progressief minder vanaf Woensdag tot Sondag.) Die meeste besoeke op ‘n enkele dag was die 1,681 wat op 14 Oktober 2013 geregistreer is ten tye van die bekendmaking van die “Plekgedigkompetisie”-wenners.
  • Tot op datum is daar 3,584 bydraes op die webblad geplaas. Dit is gemiddeld 60 stukke per maand, of te wel twee per dag oor die vyf jaar periode. Hieronder is artikels, essays, resensies, onderhoude, fotobladsye en indekse wat vir bykans elke navorser en/of liefhebber van die Afrikaanse digkuns van belang is en/of mag wees.
  • Nie net word daar blootstelling gegee aan elke bundel wat by ‘n gevestigde uitgewer in Suid-Afrika verskyn nie, maar so ook aan die meer prominente bundels in Nederland en Vlaandere. Afrikaanse bundels word aangekondig met sowel ‘n onderhoud (met die digter) as ‘n uitgebreide, omvattende resensie; Nederlandse en Vlaamse bundels met kundige bespreking deur Luuk Gruwez en Janita Monna. Eweneens word verskillende bydraes op gereelde basis vir plasing gestuur deur die vernaamste digters in al drie digkunste; bydraes wat wissel van gedigte tot essays en watter indruksbeskrywing ook al van belang mag wees vir die digkuns.
  • Deur middel van poësie-kompetisies word bydraes ontvang en blootstelling gegee aan sowel gevestigde as ontluikende digters.
  • Maar een van die grootste prestasies: Voor die einde van 2014 gaan daar ‘n bloemlesing, In a Burning Sea – Contemporary Afrikaans Poetry in Translation, verskyn waarin die verse van 32 Afrikaanse digters in Engelse vertaling opgeneem is. Ook hierdie projek was Marlise Joubert se inisiatief en watter ongelooflike bydrae tot die internasionale bevestiging van die Afrikaanse digkuns gaan hierdie bloemlesing nie wees nie! Die digters wat hierin opgeneem is, is almal digters wat sedert 2005 by Versindaba betrokke was en van wie daar ‘n tweede en/of meerdere bundel in die tydperk sedertdien verskyn het.

En dit alles danksy die onbaatsugtige toewyding van één mens. Daarom het ek dit goed gedink om ‘n aantal van die gereelde bydraers tot Versindaba te nader en ‘n kommentaar by wyse van “dankie sê” te versoek. Ek plaas hulle hieronder vir ons webmeester se leesplesier.

Marlise, hierdie is die vrug op jou arbeid. Geniet dit. En mag die volgende vyf jaar met net soveel vreugdevolle sukses verloop.

Louis

***

Andries Bezuidenhout: “Die barista se jeans is so skinny soos die latt  wat die hipster bestel. Die kafe ne sing:  Weialala leia, wallala leialala . Die koffiewinkel-jazz komponis het probeer om ‘n kombinasie van vars brood en geroosterde koffiebone by sy verwerkings in te meng, maar iewers tussen die back beat en die bass line is die oggendverkeer en sy minnares se mishoringverwyt vasgeknoop. Buite swik mense met kredietkaartkrukke, loer toeriste agterdogtig vir sakkerollers rond. Ek sit in die hoek, lees Versinbaba op my selfoon. Dankie, Marlise, vir vyf jaar se geleenthede om elke nou en dan op te kom en asem te skep, sommer ook in hierdie koffiewinkel in Rosebank, Johannesburg.“

Zandra Bezuidenhout: “Marlise, onder jou vaardige hand het Versindaba se poësiefeeste en webblad oor die afgelope jare  ʼn woord-aar raakgeboor wat borrel en lewe. Jou werk as prospekteerder, sluisbeampte en tuinier is van soveel waarde vir (veral) die Afrikaanse poësie dat jy ʼn belangrike toekenning daarvoor verdien. Versindaba vervul ʼn unieke rol in die bewusmakingsproses en stimuleer lesers en digters om die genre in diepte te verken en met sorg te beoefen. Deur jou toewyding en takt hou jy ʼn gesprek in stand wat weerstand bied teen die vervlakking en massafikasie van die woordkuns. Dankie dat jy die taal en haar sierlikste rankplant op hierdie manier dien, en veels geluk met wat jy reeds op plaaslike en internasionale vlak hiermee vermag het. Mag jy onbepaald voortgaan om die beddings van die poësie om te spit en nat te lei. En mag die bergstroom ruis!”

René Bohnen: “Liewe Marlise, vir woordliefde en omgee sê ek dankie. Dankie vir jou ywer en passie, maar veral ook ‘n besondere dankie vir die ondersteuning, aanmoediging en begrip wat jy agter die skerms so geredelik bied. Mag jy die vrugte van jou onbaatsugtige werk vir baie jare nog soet proe in die hart!”

Breyten Breytenbach: “Wanneer ek aan Marlise dink is dit om soos op reis te gaan. Ek sit saam met haar in ‘n koepee van die trein wat my deur die nag neem na eksotiese bestemmings. ‘n Geurige maar dainty aandete word bedien. Buite die treinvensters vou landskappe oop – ek sien hulle skerp alhoewel dit donker is – en vergly weer, en elke tafereel het ‘n eie storie van mensegebeure maar ook van drome. Dis eers by die bestemming, wanneer ek afklim en die groot groep digters op die perron gewaar, almal met salige glimlagte op die gesigte al kon ek sien hoe glim die messe en die strydbyltjies in sommige moue, dat ek verneem (maar ook net omdat ek nuuskierig is en aandring want my kollegas is diskreet) dat dit Marlise is wat die reis so gemaklik en sprokiesagtig maak, dat sy die disse opgetower het en die nag bevolk het met helder visoene van waarnatoe ons op pad is en waarvandaan ons kom. En so wragtie, toe moes ek hoor dat sy – terwyl ek (soos al die ander medereidigers) ingesluimer het op ritme van die tok-tok-tok – nog bowendien die stoker ook is! So ‘n reis in sulke veilige en bekwame hande is mos ‘n lewenservaring!”

Heilna du Plooy:

 

‘n Rympie vir Marlise

Hulle het gesê die geld gaan opraak,

dis waarom hulle minder boeke maak

Dit het die woordsmede benoud laat dink:

Hoe vreeslik as die toekoms woordloos wink!

Ongelees is woorde mos op ‘n anoreksiese kuur;

hulle staan veroordeel met die rug teen die muur.

Maar Marlise gaan sit en bou ‘n wye werf

dat lesers en skrywers mekaar se woorde kan erf.

In die kuberdorp is daar vir elkeen ‘n woning

en in elke kamer kraai iets anders koning.

Daar is neste vir verse en blogs en resensies,

daar is nisse vir groot gedagtes en klein wensies.

Die webmeester ken al die gange van die groot labirint;

sy werskaf tot sy vir elke bydrae ‘n plekkie vind.

Nou dans baie woorde in ‘n uitdyende kring

waarin selfs hierdie rympie se dankie kan saamsing.

Jeffreysbaai

3 April 2014

 

Tom Gouws: “LiefMarlise, dankie vir die eerlike en behendige hartgrondelikheid waamee jy Versindaba verpak. Diep waardering.”

Luuk Gruwez: “Dag Marlise, ik prijs mij gelukkig dat jij elke maand weer bereid bent om een volslagen digibeet als ik onder je vleugels te nemen en ervoor te zorgen dat zijn teksten in de rubriek ‘Wisselkaarten’ telkens weer in de juiste outfit op het podium van Versindaba mogen verschijnen, alsof zij niet de minste hinder ondervinden van het digitale onvermogen van zijn schrijver. Maar evenzeer voel ik mij bevoorrecht doordat jij een brug bouwt tussen – in mijn geval – Hasselt en jouw Stellenbosch, waar ik ooit te gast mocht zijn. Ik koester voor jou en Louis de warmste sympathie en hoop dat je met een blikverruimend webblad als Versindaba ook in de toekomst en tot in lengte van dagen de heimwee bevorderende relatie van onze beide continenten zult blijven ondersteunen. Veel moed om het allemaal vol te houden in een tijd waarin alles van waarde, naar het woord van Lucebert, meer en meer weerloos is.”

Joan Hambidge: “Marlise Joubert en Versindaba – Die waarde van hierdie webblad vir my as digter is dat ‘n mens ‘n gedig stuur na ‘n webblad waar daar lewe is. Vir my is dit nodig om ‘n gedig te publiseer sodat dit “buite” my kan asemhaal. Hierna kan ek dit verbeter of kallibreer. Marlise het ook deur die jare altyd flink gereageer op my gedigte, resensies en kritieke op die webblad. Hierdie soort proses van (voorlopige) publikasie van ‘n gedig wat dan transformeer en binne bundelverband ‘n nuwe identiteit kry, moet beslis nie onderskat word nie. Hierom dan ‘n gedig:

Bedizen

Kon nooit musiekteorie begryp:

daardie skewe, mal figuurtjies

vasgevang op die notebalk:

knope van doringdraad.

“Leen” my suster se teorie-boek

tot die klavieronderwyseres,

streng, bebrilde oujongnooi,

haar bolla styfgedraai, ‘n solsleutel,

dié bedrogspul aan die kaak stel

en my ma besef daar’s geen musiek

te make uit haar aweregse, buite-kind.

Maar die musiek van woorde,

dié boei my reeds van jongsaf:

die osse-wat-aanstap-in-die-stowwe,

die verkluimende Klara Majola en veral

die-geurige-nooi-in-‘n-nartjie,

wat op die maan se loskom wag

nes die Juffrou wat te-ver-geefs

klanke in onritmiese kinders inhamer.

My bloemlesing in standerd drie bult

onder hierdie metriese woordmusieke

se jambes en veral trochee’e.

Nou teen dusketyd, teen dusketyd

probeer ek die hart, sonder spyt,

se ritmes opteken, nee naskryf:

opskik, optooi, optakel, ja ópDirk.

© Joan Hambidge

Amanda Lourens: “Die blote bestaan van Versindaba, nog voor ’n mens die betekenis daarvan vir die Suid-Afrikaanse literêre wêreld in oënskou neem, ondermyn elke woord wat al ooit gespreek is oor die “irrelevansie” van die poësie. Voorwaar kan geen randaktiwiteit soveel belangstelling en gesprek ontlok nie. In ’n baie kort tyd het Marlise die blad uitgebou tot dié ruimte vir die studie van en gesprek oor die Afrikaanse en Nederlandse poësie. Dit is waarheen jy jou eerste wend vir resensies en gesprekke van gehalte; ook vir prikkels van allerlei aard uit die verskeidenheid van blogs en menings. Wat dan ook merkwaardig is, is om die groei in die publikasie van nuwe bundels (en die toename in gehalte) oor die laaste vyf jaar op te let, en dan te wonder of dit dalk te danke is aan die soort kreatiewe simbiose wat Versindaba tussen lesers en produksie skep? Bravo, Marlise – ons wag op die volgende vyf!”

Bernard Odendaal:

Te boek by Marlise (en Louis)

Die jonger boertjies van die woordvallei

dink verniet hul verse wei op tóénterveld;

nog anderdag wou net die doodswyg hier gedy.

Toe kom jul Versindabas, jul koöp op die Web

met pioniersaad, sê, op die boek te kry.

Nou, as bundels stoet maak, of koers soos troppe wild,

verbeel ons ons by julle pensdiep in die skuld.

Leon Retief: “Liewe Marlise: ek wonder of jy destyds geweet het wat jy aanpak! Maar dankie tog dat jy dit gedoen het! Ek wonder ook of jy weet wat Versindaba als vir so baie mense beteken – vir my nie net die persoonlike plesier om gedigte en gedagtes te lees nie maar ook om vertaalde Afrikaanse gedigte hier in Canuckistan aan Kanadese bekend te stel – iets wat vir my werklik baie beteken. Dankie nogmaals!”

Alfred Schaffer: “Beste Marlise, dank voor al je harde werk en goed zorgen. Je hebt van Versindaba (samen met Louis) echt “’n tuiste” gemaakt voor iedereen die van poëzie houdt, Afrikaanse én Nederlandse. Ik denk dat veel gedichten niet gepubliceerd zouden zijn, en zelfs geschreven (als ik nu denk aan de speciale schrijfwedstrijden) zonder Versindaba – een internetplatform dat voor iedereen open staat, voor de stille lezer én de kletskous, voor beginnende én gevestigde dichter. Van harte gefeliciteerd met de eerste 5 jaar!”

Marlies Taljard: “Marlise, in ‘n tyd waarin al hoe minder mense lees, en veral poësie lees, het jy daarin geslaag om poësie deel te maak van gemiddelde mense se belangstellingsveld – eers deur die Versindaba Poësiefeeste en die afgelope 5 jaar deur middel van die gewilde Versindaba-webblad. Die kanoniserende bydrae van dié webblad kan kwalik onderskat word. Die hoogstaande kwaliteit debat wat tans op Versindaba gevoer word, stimuleer nie net die uitgewersbedryf nie, maar het ook ‘n belangrike meningvormende funksie in dié sin dat dit bydra tot die akademiese beoefening van literêre kritiek én vir die deursnee poësieleser riglyne verskaf oor wyses waarop gedigte gelees, waardeer en beoordeel kan word. Die belangrikste is egter dat dit Afrikaanse digters ‘n publikasieforum van hoogstaande gehalte bied en kreatiewe uitsette stimuleer. Hoe sê mens daarvoor dankie …?”

Yves T’Sjoen: “Lieve Marlise, het is nu enkele jaren dat we elkaar – meestal van op afstand en ergens elders op een ander halfrond – hebben leren kennen. Onvergetelijk zijn de gesprekken aan de oever van de Eerste Rivier in Stellenbosch, de viering van de verjaardag van Breyten Breytenbach in september bij jullie thuis. Ook de meer afstandelijke gesprekken, alleen in de meest letterlijke zin des woords, zijn hartverwarmend. Klunzig als ik ben met blogs en andere digitale tools bied je altijd een helpende hand en jouw onbaatzuchtige erkentelijkheid voor de berichten die ik vanuit Gent stuur, is telkens weer verblijdend. We moeten méér tijd hebben om over poëzie en beeldende kunst te praten en ik weet dat die tijd ooit aanbreekt. In zijn debuut Rode oever nam Arjen Duinker de regels op: “Veel tijd is er niet//Geen bezwaar/Verzamel verder!”. Om te besluiten met: “Noem de dingen bij hun naam/Eet ze op!//Is morgen onzichtbaar voor de logica?”. We hebben de logica niet nodig om de dingen bij hun naam te noemen. Die gedachte maakt onze wederzijdse talen zo zinvol. Alle hartelijks en gefeliciteerd met alles wat je altijd weer verwezenlijkt.”

Gisela Ullyatt: “Versindaba laat my altyd willekeurig dink aan die ou gesegde ‘voor in die wapad brand ‘n lig’. Die ‘wapad’ stel vir my die webblad self voor, wat dus die weg baan vir die Afrikaanse poësie. Terselfdertyd spruit afdraaipaadjies uit hierdie Afrikaanse wapad wat uit anderstalige poësie bestaan. Kuns en ander wonderlike uiteenlopende onderwerpe bevind hulle ook in  hierdie vertakkings van die wapad. Die ‘lig’ in die gesegde is Marlise Joubert wat met haar fakkel altyd seker maak dat die Versindaba-wapad vars grond het vir begaanbaarheid en nie te papgery en uitgetrap raak nie. Dus is die leser altyd bewus van die vroulike ‘touch’ op die webblad: keurig versorging deur ‘n webmeester wat self ‘n digter is en die uitgewersbedryf ken. Haar bedrewenheid met moderne tegnologie verseker die ‘manlike’ deel van die webblad. ‘n Aantrekliker vertoonruimte vir poësie kan ek my kwalik voorstel. Veels geluk, Versindaba, en mag julle olielampies nog lank skyn!”

/ 28 April 2014

Bookmark and Share

15 Kommentare op “Handeklaptyd vir Marlise Joubert”

  1. Leon Retief :

    Marlise: Staande ovasie!!! Klapklapklapklap!!!

  2. Marie Bredenkamp :

    Leon: Ek sekondeer – en klap hande namens al die gesigloses, names al die naamloses – elkeen wat Afrikaans en poësie liefhet vir Marlise. Versindaba is ‘n bakermat, ‘n fondament, ‘n monument sonder weerga. En ‘n plek waar ek en baie ander ons so tuis voel! Baie dankie, en geluk!

  3. Marlise Joubert :

    Sjoe, wat ‘n verrassing! So vroeg op hierdie nugterhelder oggend. Ek is skoon bewoë en ja, die trane het opgewel. Baie, baie, baie dankie vir almal se kommentare van waardering!! As stoker is ek steeds bevoorreg om soveel prima kole uit alle oorde vir Versindaba te ontvang. Mag die trein dan nog so paar jaar voortstoom…!

  4. Ivan Mocke :

    Ja-nee, waaragtig. Hierdie is welverdiend. Baie geluk, Marlise. Soos Marie hierbo sê: Namens al die gesiglose lesers “Dankie!”.

  5. René Bohnen :

    Hoera, en mag daar vandag méér as 22 000 dankies op jou neerrëën, Marlise!

  6. Hier kom nog n GROOT dankie Marlise ! Mag die kole ewig gloei!
    In A Burning Sea klink pragtig – wat van n Duitse vertaling?

  7. Carin Lawrie :

    Baie dankie en baie geluk, Marlise!

  8. Poëziecentrum feliciteert Marlise Joubert met haar web-jubileum. Dankzij de Versindaba-blog kunnen geïnteresseerden ook in Vlaanderen en Nederland de Zuid-Afrikaanse poëzie volgen

  9. Margot Luyt :

    Jy verdien elke woordjie van dank en applous ‘n duisendmaal oor en oor. Baie geluk, liewe Marlise, mag jy nooit moeg word nie.

  10. Maria Snyman :

    Marlise, maar ek sien mos jy het ‘n kat wat jou gehelp het?! Wel, vir my verklaar dit alles. Net so ‘n kat soos daardie kan daardie magiese digterlike digitale vingers van jou verklaar! Baie geluk met hierdie gedugte prestasie, en BAIE dankie! Versindaba is ‘n ster in my lewe. Gee asseblief die kat vir my part dus ook ‘n bedankende streeltjie en drukkie. Dis ‘n pragtige foto! Ek wonder wie het dit geneem? Lyk vir my na iemand met ‘n oog vir skoonheid!

  11. Louis Esterhuizen :

    Maria, katte het nog altyd ‘n belangrike rol gespeel in Marlise se lewe. Die kat op die foto is Alpha. Haar pa was Strooi. Marlise het hierdie fantastiese gedig ten tye van Strooi se afsterwe geskryf. Dié gedig, wat ten eerste op die Nederlandsse webblad Meander (http://meandermagazine.net/wp/) geplaas was, het ‘n uiters direkte en bepalende invloed op ons verhouding (en uiteindelike huwelik) gehad. Geniet die gedig, vir indien jy dit nog nie gelees het nie …

    In Memoriam: Strooi

    sonder die veld se geur
    van wit lelies in ’n vuis
    of die trae note van gesang en gebed
    sonder ’n graf of ’n woord van eerbetoon
    sterf hy op die vaal handdoek
    op ’n skoongeskropte tafel
    eerloos
    en ek onthou Lucebert:
    alles van waarde is weerloos

    sonder ’n sug en sonder protes
    sterf hy stil en donker
    terwyl die bloed oor die lip
    bly stoot
    terwyl die pyn die gapende wond verlaat
    en elke pupil al groter rek
    om verlossing in te laat
    terwyl my kind se hand
    die troetelkop bly troos bly troos
    en ek onthou Lucebert:
    alles van waarde is weerloos

    sonder dat hy weet dat ons hom groet
    word sy lyfie riemslap onder die naald
    lê die swart pels in ’n boog gestol
    half verleë die wit sokkies
    van sy pote oor mekaar gevou
    die bors se wit ster
    gevlek en rou
    en ek onthou van Lucebert
    so moes ek hom verlaat
    sonder ’n lied of die veld se geur
    en ek onthou terwyl ek huil
    teësinnig teen die misreën op die ruit
    my vingers om die stuur geklem en koud

    dat ook hy, ja tog,
    soos ’n mens van waarde was
    ’n keelronde warmte kon gee
    met kromgeskuur teen jou kuit
    weerloos in sy dierlikheid
    en onvoorwaardelik elke dag
    veertien jaar lank
    getrou op ons tuiskoms kon wag

    18.5.98)

    (c) Marlise Joubert (2001: Protea Boekhuis)

  12. Buiteblaf Breytenbach :

    Dankie Marlise (en dankie, Louis): hierdie lieflike gedig maak mens se hart stil.

  13. Maria Snyman :

    O hemele, rol my hart nou warm op, soos die kat toevallig nou op my skoot. Baie dankie, Louis! Klink of dit reg is dat beide Strooi en Alpha se name op hierdie handeklapblad vir Marlise staan – haar “partners in crime”:

    A Cat’s entitled to expect
    These evidences of respect.

    Sê Eliot mos in sy Old Possum’s Book of Practical Cats.

  14. Marlise, jy verdien elke woord van lof en dank hierbo. Ek voeg myne daarby.

  15. Johann Lodewyk Marais :

    Ditto.

  •