Annette Snyckers. Adam Small

Adam Small in Samespreking. Vrydag 16 Mei, 14:30 –15:30.

Lokaal: Art in the Yard Gallery.

 

Op ‘n reënerige Saterdagmiddag in September verlede jaar in Wellington was ek een van die gelukkiges. Die poësiefees, Die Tuin van die Digters, was in volle swang by die Breytenbach Sentrum. Groot getalle mense het begin toustaan vir die gebeurtenis van die dag: Die digter Adam Small sou voorlees uit sy jongste bundel Klawerjas wat in 2012 verskyn het. Sy eerste bundel verse na ‘n stilswye van veertig jaar – en slegs sy tweede openbare optrede in ‘n tydperk van twaalf jaar. Die vorige optrede was toe hy in 2012 die Hertzogprys vir drama  ontvang het.

Ons het lank gewag voor die lokaal waar hy sou voorlees, maar die deur is op die bestemde tyd nie oopgemaak nie. Dit was duidelik dat die teatersaaltjie hopeloos te klein sou wees. Daar is besluit om die geleentheid na die groot tent te verskuif. Die skare het haastig binnegestroom en ek was gelukkig om een van die laaste stoele op te eis. Mense het agter in die tent en teen die kante van die tentmure gestaan.

Adam Small, nog steeds die skraal figuur soos ons hom onthou, maar nou met ‘n spierwit kop, het onder luide applous die podium betree en was duidelik bewoë. In sy emosionele voorlesing het hy gedigte met temas van ou bitterheid en uiteindelike vergiffenis voorgedra. Openhartige gedigte wat reguit praat en geen uiterlike vertoon weerspieël nie. ‘n Stem uit ons verdeelde verlede en ‘n stem van die hede. Mense was diep geraak en die gehoor het die digter lank staande toegejuig.

Adam Small sal op Vrydag 16 Mei by Franschhoek se Literêre Fees in gesprek wees met Joan Hambidge, welbekende en bekroonde  Afrikaanse digter en akademikus wie se jongste bundel Meditasies in 2013 verskyn het. Die unieke bydrae van sy werk tot die Afrikaanse drama- en digkuns sal onder bespreking wees. Die ontmoeting tussen hierdie twee uiteenlopende digters beloof ‘n intens-stimulerende en insiggewende belewenis vir liefhebbers van die digkuns.

 

 

‘n Soort chemiese proses   Adam Small

 

Die skryf van poësie tref my soms

as ‘n soort chemiese proses.

Jy sit ‘n woord, ‘n frase, ‘n reël neer

op papier, en dis ‘n klein kern, ‘n pit,

wat dan fomenteer, bruis en skuim

met die taal rondom, totdat daar –

dit verstom jou – ‘n gedig vorm

en jou papier versier.

 

ARS POëTICA   Joan Hambidge

 

Stilte, eensaamheid

dryf haar van geboorte af

van wieg tot kis:

soekend na ‘n ander

se aanraak of troos.

Op verskeie reise,

vlugtend van om verlaat-te-wees,

weg van pynlike ervarings,

terug tot in die andersoortige kissie:

hierdie klein brose ding,

genaamd ‘n gedig,

nes die amberkamer

in die Hermitage.

Te vertelle,

eenling is jy gebore,

en só sal jy die gom

van die bome sny.

 

 

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •