Joan Hambidge. Tweetalige woordeboek
Tweetalige Woordeboek
Op ‘n Saterdagaand
lees ek oor die klaaglied
van Dawid oor Saul en Jónatan
in Die Tweede Boek van Samuel.
‘n Geskenk van my moeder,
‘n Bybel oorhandig op 11/9/68
met beste wense vir ‘n mooi toekoms.
My kinderhandskrif in blou balpunt
vertel van die gebed en smeking
opgeteken in Filippense 4:6.
Die wrede oorloë en die lot van Tamar
trope vir dié bloedskendige proses?
In die Tweetalige Woordeboek
van Bosman, Van der Merwe en Hiemstra,
in 1975 aangeskaf, soek ek vannag
na die regte woord vir demaskeer.
En nou? I.W. van der Merwe
is mos Boerneef, nes die digter hier
tweeledig en paradoksaal,
sowel afsydig as diep-gelowig,
vertroosting vind
in ‘n keertwending
van haar kenletter.
© Joan Hambidge /2014