Lykdig 18: Hilda Smits. vir Frank Stanford

Vir Frank Stanford, met uittreksels uit The battlefield where the moon says I love you 

 

en nou nestel drie koeëls soos druppende krane in jou hart wat onthou

van Fayetteville waar die Mississippi soos ‘n silwer stem om die sneller

van jou vinger vou *want die dood is soos ‘n anker soos ‘n geruïneerde net

dit sweet soos ‘n eier in ‘n broeikas jy proe dit in melk en seëls dit wil ‘n

drom uit jou vel maak en *hier is genoeg tekens in die wêreld ‘n gebrek

aan deernis en tog, en tog

   vanoggend staan ek in die reën op jou vlot voor

die wete van voor die voordeur soos ‘n af-vlerk voël oopspring voor jou ma

krullers in die hare jou requiem sing voor die groot lieg voor die groot mis

toeslaan sal die maan weer vol lyf hang soos die liggaam van ‘n vrou met twee

stemme sal ‘n dwerg in ‘n swart Cadillac weer die lekkende Mississippi van jou

hart met kort dik vingers bou

 

 

* Uit Stanford se gedig, The battlefield where the moon says I love you

* Uit Deepstep come shining, ‘n gedig deur Stanford se minnares, C.D. Wright

 

 

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •