Lykdig 21: Ode Krige. Lykdig: vir Ingrid Jonker – ‘n portret

Lykdig: vir Ingrid jonker – ‘n portret

 

Ek skilder jou vurig rooi

intens

amper-wit onskuld

van ‘n diepduik meermin

dan die geel

walsende son

die diep pool

onaardse swart

wat onverwags

uit sewe hoeke kom

 

en die verfhale vlug

weg van die angs

sirkelend terug

na die eie vrees

balanseer

tussen koud en warm

hoog en laag

soos twee hande

op ‘n klavier

wat ongesinchroniseerd

aaneen

op en af beweeg

die teenstemme

probeer verjaag

 

klein dogtertjie

kop onderstebo

oral soek jy

in warm drome

op papier

in oë

mond

geblaaide boek

die liefde

dit bly glip

verdamp

verbleik

verflou

dus gryp jy

na die koue omhelsing

van die donker onrustige see

jy antwoord

die hipnotiese roep

om jou

konflik-mens

die niksheid

van vergetelheid te gee.

 

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •