Lykdig 24: Karlien van der Merwe. Met leedwese

Met leedwese: talentvolle digter Ingrid Jonker (1933 – 1965)

verdrink in ‘n liefdeswoestyn

 

Die kind in my het stil gesterf

Verwaarloos, blind en onbederf

 

In ‘n klein poel stadig weggesink

En iewers in die duisternis verdrink.*

 

Jou onbedorwe ruimheid van gees,

jou skoonheid en talent, jy,

bring die inkeer van ‘n ebgety.

 

So ‘n dooiegety is ‘n kruipsand-gebeur;

meer voetslepend as Drieankerbaai toe stap,

sleurender as bakhand seeskuim skep,

langsamer as bevrug.

 

Jou nalatenskap in woorde

is veel, veel meer

as die meesleur

van die bakenlig.

 

Dit is kwesbaarder as rou seelieslug,

kneussagter as koraalrif

en donkerder as die vlerkslag

van seevoëls wat afswiep

soos avondmaalpriesters.

 

Hulle sê hulle het daardie nag

wakker gelê, beangs op die ergste gewag,

maar soos woestynlopers was hulle gedaan

van op eindelose soeke na die vlak grafte

van lawende volstruisdoppe

met jou gaan.

 

Hulle kon jou nie langer abba nie

en die grawekieries was stomp;

toe stik jy aan opdrifsels in jou mond.

 

Hoe balanseer ‘n kaalvoet-meisie

op glibklip?

*Uit: Puberteit

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •