Lykdig 30: Zandra Bezuidenhout. By die graf van D.J. Opperman

By die graf van D.J. Opperman

 

Waar die gestorwe ou kolos

nou tussen ʼn werweling van Negesterre

ʼn vloot van skippies in kristalle pas,

snoer hy volgens loslip-engele

sy kommer oor wendinge

in digterlike takelwerk.

 

Koggel hy die slap reëls en mor hy

oor verslete of gesogte beelde

van nuwerwetse stemme,

of bespeur hy in die newel

ʼn flikkering of eiesinnige kompas?

 

Intussen klink die Groot-Groot-Gees

in verseboeke, lesingsale en programme;

enkeles hoor snags in dennenaalde

die geruis van fyn stellasies woord.

Onbewus hou aficionados

aan die kadans, die bas en die gebeente vas,

volg hul die bamboesstok

van ʼn Sonklong wat onder Papegaaiberg rus.

 

 

 

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Lykdig 30: Zandra Bezuidenhout. By die graf van D.J. Opperman”

  1. Johann Lodewyk Marais :

    Hierdie gedig tree mooi in gesprek met Opperman se lewe en werk.