Party mense sê sinkronisiteit is bloot net die verhoogde bewuswording van prikkels as gevolg van gebeurtenisse in mens se persoonlike lewe. Indien dit die waarheid is, het Versindaba hierdie maand op besondere wyse daarin geslaag om kragte met my onderbewuste te snoer en het die samewerking mooi boeke op my pad gebring.
Ek was onbewus van die bundel Ronkedoor, toe loop ek dit twee keer in een week op die internet raak. Eers in Gisela Ulyatt se mooi blog oor vaders https://versindaba.co.za/2014/06/02/gisela-ullyatt-vir-n-pa/ en toe op Joan Hambidge se “Woorde wat Weeg”, wat begin met Johann de Lange se vers “Die digter as ronkedoor”. (http://joanhambidge.blogspot.com/2014/07/joan-hambidge-n-klein-nota-by-n.html)
Hou ek impulsief een kristalkoue Johannesburg-oggend stil by Noah’s Ark, ‘n pandjieswinkel in Randburg. Ek weet nie wat ek daar wou soek nie, maar digbundels was nie my verwagting nie! In ‘n ark moet daar egter mos iets van alles wees en ek is verheug met my aankope: 14 bundels vir R60.
Daar is die Ronkedoor! ‘n Eenkantolifant. Alleenloperbul. (is daar ‘n ronkedoor in Kringe in die Bos?) In die koerant was daar onlangs ʼn foto van ‘n Knysna-olifant soos ‘n skim vasgevang op versteekte kameras. Dit lyk soos die spookfoto’s van my kinderjare, toe deursigtige dogtertjies op armchairs glimlagloos vasgelê is in swart en wit.
(foto vanaf: http://maroelamedia.co.za/blog/nuus/olifant-opgemerk-knysna-woud/)
Ek blaai Ronkedoor lukraak oop, lees bladsy 54:
Vloed
Vertak deur oë, hart en nier
vloei ongesiens die Grootrivier,
dryfhout van gety op gety
pak saam, kolk in my
tot die verlossende stroming
wat opdrifsels geruisloos see toe bring;
gereed vir die ontvangenis
voel ek alreeds in díe klein moer
die ronde fetus
van ʼn aarde roer.
Getref deur die aktualiteit van hierdie vers soos gesien in die lig van “ingeplaaste skryf” (vergelyk Susan Smith se artikel http://susansmithdotcom.wordpress.com/2014/07/12/plek-die-digter-mens-die-digter/ ) kan ek ook nie help om herinner te word aan die weerloosheid van alles nie (Lucebert se woorde eggo maar altyd).Die afgelope week se wêreldgebeure skree hierdie weerloosheid uit in koerantopskrifte. Gewone mense is saam met ʼn vliegtuig afgeskiet in die lugruim van die Swartsee-gebied. In my pakkie bundels is ook Bloedsteen van Wilhelm Knobel. Die derde keer hierdie jaar lees ek die Salvatore Quasimodo-aanhaling en vertaling wat voorin verskyn:
“Ognuno sta solo sul cuor della terra
traffitto da un raggio dí sole:
ed è sùbito sera.”
Elkeen staan alleen op die hart van die aarde
deur ʼn straal van die son deurboor:
en skielik is dit aand.
Wat is die Afrikaans vir poignant? Die woorde in my Pharos voel nie reg nie. Ons begin almal dra aan die wonde van die heelal. Of dalk net van die planeet. Of van mekaar.
“Sy wond bloei nou in my
die sweer wil net nie heel
onder die gekraakte rofie
bly dit etterig en geel”
(uit “Wond”, bl.33 in Ronkedoor deur Betsie van Niekerk)
Die ligblou boekie deur M. Buys het ek gekoop omdat ek dit onthou uit ons klein dorpsbiblioteek in my kinderjare. Die Kruistogte staan daar. Daan Retief Uitgewers.En omdat ek oorlog nou maar eenmaal nie verstaan nie, trek ek my eie verbande waar ek voel emosies soos sirkels sny. Vier seuns in Gaza word doodgeskiet terwyl hulle ‘n bal skop op die strand. Foto’s op facebook. Petisies. Die woorde Israel en Palestyne in die hoofberigte. En mense wat in Afrikaans baklei oor wie reg is en wie verkeerd. Op bladsy 37 van die blou boekie word vertel van die Kinderkruistog van 1212. “Die kinderkruistogte was twee baie droewige kruistogte”. Was daar werklik iemand wat gedink het dit kan enigsens ánders wees, wonder ek. Of word die mens op ʼn spesiale manier verblind deur geloof? Ja, skielik is dit aand. Donkereeue, amper. Daar was seker kinders op die Maleisiese vliegtuig wat afgeskiet is ook.
By Noag se Ark het ek ook ʼn geisja-boek gekoop. Sowaar! Amanda Lourens se heerlike blog (https://versindaba.co.za/2014/07/15/skadus-skoonheid-die-liefde-en-die-tanka/#comment-333216) het my seker opnuut vatbaar gemaak vir dáárdie prikkel. Dit is die verhaal van Murasaki Shikibu, wat in die 11de eeu die roman The Tale of Genji geskryf het. Dit word beskou as een van die vroegste romans in die wêreld. Murasaki se pa het haar die opvoeding gegee wat net seuns van daardie tyd beskore was. Dit het beteken dat sy die Kanji- letters kon skryf. Hier is meer inligting oor haar: http://en.wikipedia.org/wiki/Murasaki_Shikibu
Murasaki Shikibu het een kind gehad – ʼn dogter. Sy het ‘n digter geword.
In The Tale of Murasaki (geskryf deur Liz Dalby, ‘n antropoloog wat blykbaar een van die enigste Westerlinge is wat ‘n geisja geword het) lees ek “the seventh month is known as the Poem-composing month” en aangesien Julie óns sewende maand is, lees ek bietjie oor die waka en ek sien ook hierdie gedig van Murasaki raak:
“In the cove at Iso the crane cries as I cry; who can it be she yearns for?”
The sorrow of human existence, “Mono no aware” word ongveer ‘n duisend keer gebruik in The tale of Genji. Die tema word beskryf as: the fragility of life.
Dankie, Marie – dit is hoe ek Versindaba ook ervaar: elke plasing lei my na nuwe onderwerpe en nuwe bronne. Ek leer baie uit elke bydraer se blog!
Laat jy my dink Versindaba kan die werf van toevallighede genoem word, waar lig op boeke en verse val…Plaas jou aanhaling my direk terug na ‘n gesprek in Welgemoed in die Kaap net voordat ek terug huis toe ry twee weke gelede – einste oor Deon se voorlesings/voordragte oor Wilhelm se werk – en spesifiek die roerende Quasimodo se “deur die straal van die son deurboor.” Jou blogs laat my altyd weer soek na boeke..