Marlies Taljard: Koos Kombuis en die ‘i-Tjieng”

In sy Poëtika skryf Aristoteles dat die belangrikste eienskap van ʼn digter is om ʼn meester op die gebied van metafoorgebruik te wees. Betekenisgewing deur middel van metafore, vergelykings en simbole word oor die algemeen as kenmerke van poëtiese tekste beskou, benewens verdere aspekte soos klank, ritme, metrum, versbou en herhaling. Hieruit vloei voort dat poëtiese tekste dikwels uiters gelade en betekenis-intensief is. Daarom is dit besonder moeilik om poësie te vertaal. Volgens kenners is die Psalms egter ʼn uitsondering op dié reël, aangesien die estetiese bevrediging dikwels net soveel geleë is in die balans van idees as in die spesifieke taalvorm waarin dit gegiet is.

Een van die vernaamste verskille tussen prosa en poësie is dat prosa meestal daarop gemik is om eenduidig en onomwonde betekenis te genereer deur van logiese argumentstrukture gebruik te maak wat aan lesers bekend is. Daarteenoor is taalgebruik in gedigte dikwels daarop gemik om dubbelsinnig en meerduidig te wees. Hoewel daar natuurlik ook ʼn argumentstruktuur in gedigte voorkom, is dit nie altyd met die eerste oogopslag duidelik sigbaar nie, omdat digters dikwels juis probeer ontsnap aan die logika wat soms verblindend in die pad kan staan van nuwe insigte. Hoewel poësie meestal aan sy vorm herken word, is dit natuurlik nie noodsaaklik dat ʼn gedig in versvorm geskryf moet wees nie. Sommige van die mooiste poëtiese tekste is immers in prosavorm geskryf – soos die meeste Westerse vertalings van die I Ching, hoewel daar wel van tyd tot tyd pogings is om dit in Westerse poëtiese vorm te giet, soos dié vers van Tom Williams:

“Escape the shadow

By giving away your own.

Let the sun see through you.”

 

Hierby moet natuurlik onmiddellik gevoeg word dat daar ʼn oseaan van verskille bestaan tussen tradisionele Oosterse genres en dié wat aan ons bekend is.

So ver ek weet is die eerste poging om die I Ching in Afrikaans uit te gee, Koos Kombuis se i-Tjieng wat in 2013 by Penguin Books verskyn het. Hoewel die teks nie in poëtiese vorm geskryf is nie, is die poëtiese kwaliteite daarvan vir my een van die belangrikste kenmerke van die teks soos dit nou ook in Afrikaans verskyn – veral beskou in die lig van die voorafgaande opsomming van die kenmerke van gedigtekste. Soos die Psalms word ook die I Ching gekenmerk deur ʼn besondere harmonie en balans van gedagtes en insigte. Nog ʼn eienskap wat dit vir my as besonder poëties laat uitstaan, is die feit dat die filosofiese uitleg van die heksagramme ʼn mens in kontak bring met dieperliggende aspekte van die self – onder andere sekerlik weens die spirituele substratum van die werk, maar ook deur middel van die sterk simboliese en metaforiese lading van die teks. Die weglaat van logiese skakels plaas onmiddellik die teks in die domein van die poësie, omdat die leser die logika self moet naspeur en in die proses dikwels verbasende en innoverende denkspronge maak, asook tot kreatiewe en ongewone gevolgtrekkings kom – byvoorbeeld: “Hy skiet ʼn fisant en verloor in die proses sy pyl. Tog word hy geprys en beloon.” (p.147)

Die tipies Suid-Afrikaanse uitleg by die bronmateriaal is Kombuis op sy beste en humoristiese. Ten spyte van verskeie ander vertalings van die I Ching wat op my boekrak staan, het ek die afgelope maande besondere plesier aan die Afrikaanse teks gehad. Daar is iéts aan wat mens laat tuis voel, asof hierdie antieke teks deur baie palimpses heen tot ons spreek in die hedendaagse, eg-voorstedelike Afrikaanse idioom.

Ek plaas hieronder ʼn resensie van Retha Fritz oor Koos Kombuis se i-Tjieng in Afrikaans om die voornemende leser ʼn voorsmaak te gee van hierdie besondere publikasie:

 

I-Tjieng: ‘n GPS vir verdwaalde siele deur Koos Kombuis
Resensent: Retha Fritz – Skool vir Tale, Noordwes-Universiteit

Die I Ching, ook bekend as die Boek van Veranderinge, is een van die historiese bakentekste van die Sjinese kultuur. Alhoewel die I Ching deesdae meer algemeen bekend is as ʼn divinasiesisteem, was die fokus in antieke Sjina meer op die filosofiese beginsels, wat binne die I Ching uitgelê word, gerig. Die boek wat hier geresenseer word, is Koos Kombuis se eie vertaling van die I Ching (sy sogenaamde i-Tjieng). Hierdie vertaling behou dan ook die hedendaagse gewilde fokus op die I Ching as divinasiesisteem, eerder as lewensfilosofie.

Vertalings van hierdie klassieke werk is niks nuut nie. Inderwaarheid, vir ʼn boek wat een van die oudste klassieke Sjinese tekste is, kan verwag word dat daar vele vertalings behoort te bestaan. Die vraag is egter of nog ʼn vertaling, en dan juis ʼn vertaling in Afrikaans, vir Suid-Afrikaners, werklik nodig is?

In terme van Koos se vorige skryfwerk, is hierdie definitief ʼn nuwe genre wat betree is. Dat Koos nie skroom om in ʼn eiesoortige dialoog met die godheid te tree nie, is alreeds in 2008 bewys met die publikasie van sy The complete secret diaries of God. Alhoewel daar humor in Koos se vertaling van die i-Tjieng voorkom, is dit nie dieselfde satire wat teenwoordig is in  The complete secret diaries of God nie. Die i-Tjieng is ook nie Koos se eie vertelling van ʼn godheidsverhaal nie, maar eerder ʼn manier vir elke persoon om self leiding vanaf ʼn groter en dieper wysheid te vind.

Is dit blote toeval dat ʼn Sjinese inkarnasie van Koos soos ʼn profeet op die voorblad staan? Die illustrasies binne hierdie teks, deur Koos self, is natuurlik nog een van die besondere aspekte van hierdie vertaling. Die illustrasies ondersteun telkens die boodskap uit die toepaslike hoofstuk van die i-Tjieng, waar dit voorkom. Die tekeninge is dan dikwels ook ʼn humoristiese uitbeelding van die boodskap in die spesifieke hoofstuk.

Nog ʼn unieke aspek is die teksverwysings uit die Bybel wat by die i-Tjieng boodskappies ingeweef word. Alhoewel dit uniek is, mag dit sommige lesers aanstoot gee. My persoonlike indruk is dat die teksversies gepas en in pas is met die boodskap van die i-Tjieng self en sou raakpunte vir diegene wat die i-Tjieng nuut betree, kon verskaf. In sy wese is die I Ching egter ʼn filosofiese benadering tot die lewe en nie ʼn godsdienstige werk nie. Wat Koos dus as ʼn ‘GPS vir verdwaalde siele’ voorhou, impliseer meer ʼn alternatiewe wyse van dink, of ʼn nuwe benadering tot problematiese situasies, na aanleiding van die filosofiese inslag van die I Ching.

Wat hierdie vertaling van die I Ching besonders maak, is dat dit die eerste keer is dat die I Ching in toeganklike Afrikaans aan die deursnit Afrikaanse Suid-Afrikaner voorgehou word. Dit alleen behoort hierdie teks in die Afrikaanse literatuur ʼn bakenteks te maak en ʼn plekkie op elke versamelaar se boekrak te verseker – om natuurlik nie te praat van die waarde wat dit vir die soekende man op straat kan bied nie.

Bookmark and Share

12 Kommentare op “Marlies Taljard: Koos Kombuis en die ‘i-Tjieng””

  1. Gert :

    When Tao is lost, there is goodness. When goodness is lost, there is kindness. When kindness is lost, there is justice. When justice is lost, there is ritual. Now ritual is the husk of faith and loyalty, the beginning of confusion.

    Hierdie is uit die Tao te Ching.

    Beteken die wereld vir my.

  2. marlies taljard :

    Gert, vir my is die vers wat jy aanhaal ook een van die treffendste en skrikwekkendste uit die Tao te ching. Dit is wat so wonderlik is van dié teks en ander soos die I Ching, naamlik dat hulle nie voorskriftelik is nie, want waar voorskrifte en rituele gekom het, is die direkte konneksie met die Waarheid dood.

  3. Gert :

    Kyk bietjie hier

    http://gertrautenbach.blogspot.com/2005/02/tao-te-ching.html

    Ek het nog nooit die I ching gelees nie.

    G

  4. Evette Weyers :

    Marlies, baie dankie vir nog ‘n heerlike en insiggewende blog.
    Koos Kombuis is die hofnar of trickster wat met sy kaalgat metafore die waarheid praat en selfs transformasie mag bewerkstellig.. Na die dood van Kerkorrel het hy ‘n openbarende beskouing geskryf ‘is kerkorrel se dood ‘n kleedrepetisie vir DIE DOOD VAN MANDELA?’

    ‘Die dood van ‘n geliefde openbare figuur het ‘n groot effek op die samelewing as geheel. Asof mens se hele wêreld perspektief verskuif met ‘n paar grade…Net soos met Kerkorrel (maar op ‘n veel groter skaal) gaan die dood van Mandela ons, die kollektiewe mens, die groepsdier , voor sekere kardinale en baie moeilike keuses stel.
    Kerkorrel se dood was ‘n wake-up call vir strydende faksies binne die plaaslike en Afrikaanse musiekindustrie.

    As Kerkorrel die simbool is van iets groter as hyself, as eenheid in die aangesig van tirannie, van jeug-identiteit, hoeveel te meer Nelson Mandela.
    …’Wanneer ek aan Mandela dink dan wroeg ek met iets wat naby aan Christus is. Jy worry oor iets wat jy gedink het ons het al lankal vergeet; die reënboognasie. Dit gaan weer klink soos ‘n nuwe uitvindsel. Ons gaan wens dit was waar. En dis goed. Want as ons in RSA die ideaal van ‘n reënboognasie verloor, het ons ons doel gemis.

    Die ou helde se tyd is weldra verby. Wanneer Mandela te ruste gelê word sal sy voete nog na vryheid stap. Ons is vry om hom te volg.

  5. Marlies Taljard :

    Dankie vir jou insigte, Evette. Ek dink ook dat hierdie trixterteks van Koos die potensiaal het om idees wat vasgeroes het, los te maak, veral as die leser erns maak met die teks.

  6. Gert :

    Is dit aanlyn beskikbaar, iewers?

  7. Marlies Taljard :

    Gert, ek vind nie ‘n elektroniese weergawe nie – lyk my nie dis beskikbaar nie.

  8. Gert :

    Het jy al die Zen metafoor gesien waarin die soeke na “enlightenment” as die soeke na ‘n Bul geteken word.

    http://gertrautenbach.blogspot.com/2013/08/10-bulle.html

    Gee my koue rillings.

  9. Marlies Taljard :

    Ja, ek ken dit – baie indrukwekkend, eenvoudig en gekompliseerd.

  10. Evette Weyers :

    Gert , ek het jou Zen metafoor baie geniet. Ek het Koos Kombuis se openbare brief as harde kopie maar kan dit inskandeer en vir jou aanstuur. Ek het net gepaste dele daarvan op hierdie blog gesit. Naas die fenominale artikel wat Antjie Krog in die Sunday times geskryf het (2 of 3 jaar gelede) na oorseese joernaliste vir swart Suid Afrikane gesê het hulle is mal om die wittes sommer so te vergewe. Is Koos se brief ook ‘n raaksien van iets in ons kollektiewe psige.

  11. Evette Weyers :

    Die Antjie Krog artikel was oor vergiffenis geskryf, na die WVK, en na nog aksies om Neuwoud

  12. Gert :

    Marcia Khosa, dogter van Portia Shabangu, het Eugene de Kock in die tronk besoek en hierdie inskripsie vir hom gegee

    I have been hurt and had a rough childhood without my mother, since 12 Feb 1989

    I am healed and free from bitterness and hatred.

    I freely and fully forgive you, and I am ready to help others to heal.

    Let the power of peace and forgiveness guide you, be with you and others for for the rest of our lives. You’re totally forgiven

    DIT is wat ons kinders op skool moet leer.

  •