Binne die bestek van enkele jare het die Breytenbach-sentrum op Wellington sy jaarlikse poësiefees, genaamd Tuin van Digters, gevestig as sekerlik een van dié glanspunte op die poësieliefhebber se kalender. En vanjaar se fees, wat presies oor ‘n maand, op 13 en 14 September, gaan plaasvind, is werklik iets wat nié gemis moet word nie; veral vanweë die verskeidenheid van aktiwiteite wat aangebied gaan word. (Kyk ook na die volledige program onderaan die bladsy).
Vir die duur van die fees is daar byvoorbeeld die kunsuitstalling (Vers & Verf) waaraan van ons vernaamste visuele kunstenaars gaan deelneem. Volgens die sentrum se progra, die volgende: “Die opdrag was eenvoudig: elke skilder moet verse uitbeeld op ’n 30 x 30-grootte doek. Die resultaat is ’n indrukwekkende groepsuitstalling waarin die wisselwerking tussen vers en verf (of ander mediums) die kyker oorbluf. Die werke is bekostigbaar en hou goeie beleggings in vir kunsliefhebbers.” Kunstenaars wie se werke te siene sal wees, is Johann Louw, Henk Serfontein, Angus Taylor, Keith Dietrich, Sandra Hanekom, Rae Goosen, JP Meyer, André du Toit, Ingrid Winterbach, Colleen Gericke, Gerrie van Tonder, Joshua Miles, Helen Vaughan, Shany van der Berg, Wim Rautenbach en Liekie Fouché.
Daarteenoor is Ukusela eKapa, of dan Slurp Kaapstad Op, is ’n amptelike World Design Capital 2014-projek, wat deur die keramiek-kunstenaar, Hennie Meyer, en die argitek, Janine de Waal, met groot opwinding deur Kapenaars ontvang word.
Nog ‘n kunsitem op die program is Digby Digters; ‘n uitstalling wat bestaan uit die werke van Dimitri Engelbrecht, een van die opkomende Wellingtonse kunstenaars wat ingeskakel het by die Breytenbach Sentrum se opleidingsprojekte in die visuele kunste, onder die mentorskap van Tessa Louw. In hierdie uitstalling is van Dimitri se lewensgetroue sketse van bekende Afrikaanse digters te sien én te koop. Dimitri sal ook tydens die Tuin van Digters in die uitstallokaal werksaam wees.
Die program vir Saterdag, 13 September, begin om 09:30 met die huldeblyk “Verse in my vingers” wat ter viering van Breyten Breytenbach se 75ste verjaardag saamgestel is. Die program is nie net deur Juanita Swanepoel saamgestel nie, maar sy het ook die regie behartig. Kunstenaars wat hieraan deelneem, is Johann Nel, Waldemar Schultz, Hugo Theart, Eugenie Wiggens en Laurinda Hofmeyr.
Om 11:00 kan nadergestaan word Diek Grobler, Lina Spies en Danie Marais se aanbieding van Filmverse, ’n visuele bloemlesing waarin twaalf gekose gedigte die inspirasie was vir ’n reeks van kort animasiefilms. Klassieke gedigte, asook die werk van kontemporêre digters, word gebruik vir hierdie boeiende proses waarin ’n dialoog tussen woord en beeld geskep word. Elke animasiefilm word vergesel van ‘n eie klankbaan waarop die gedig onder andere voorgelees word. Diek Grobler wys tydens hierdie sessie van die animasiewerk en gesels saam met digters oor die fassinerende manier hoe gedigte visueel lewe kry.
Om 12:00 begin ‘n reeks gesprekke oor bepaalde bundels wat vroeër vanjaar verskyn het. Eerste aan die beurt is dit Danie Marais wat met Alfred Schaffer gaan gesels oor sy bundel “Solank verlange die sweep swaai”; om 15:00 is Louis Esterhuizen in gesprek met Daniel Hugo oor sy bundel “Die afwesigheid van berge” en laastens, om 16:00, Andries Bezuidenhout wat oor sy bundel “Die veelvuldige gebruike van huishoudelike items” met Melt Myburgh in gesprek gaan wees.
Ander belangrike items dié betrokke Saterdag, is “Mengelmoes Digters” wat om 13:00 aangebied word: “Die Breytenbach Sentrum bied vir die afgelope jare met groot sukses ’n digters-slypskool aan vir voornemende digters, onder leiding van Diana Ferrus. Hierdie jong digterstemme, hoofsaaklik van Wellington en die Paarl, sal gehoor word tydens die Tuin van Digters. Hul verse word aangevul deur die polsende rymkletse van die alombekende Hemelbesem, asook die nuwelinge Rhyme Author en Rimestein.” Aldus die program.
Die dagprogram word op ‘n besonderse manier afgesluit met twee poëtikale musiekitems, synde “Katalekte” (om 18:30) en “Slaaptyd in die suburbs” (om 20:00). In 2013 het Breyten ‘n seleksie van die gedigte uit die bundel “Katalekte” opgeneem saam met Schalk Joubert en Ronan Skillen as musikale regisseurs en komponiste. Met die lewendige uitvoering van hierdie opnames tree Schalk Joubert saam met die perkussiespeler, Ronan Skillen, en Laurinda Hofmeyr (klavier) op. Die vertolkings en voorlesings sal deur o.a. Antoinette Kellerman, Toast Coetzer, Vicky Davis en ander behartig word.
“Slaaptyd in die suburbs” word aangebied deur Roof Bezuidenhout (stem en kitaar), Brixton Barnard (stem en baskitaar), Kapelaan Pat Plank (lead kitaar) en Louis Graham (tromme). Volgens die programnota’s het Roof Bezuidenhout die volgende oor hul musikale bydare tot die Tuin van Digters-fees te sê gehad: “Ons is nou never-has-beens wat ʼn comeback moet maak.”
Sondag beloof eweneens om ‘n opwindende program vir die poësieliefhebber te bied. Die eerste item begin reeds om 11:00 wanneer Daniel Hugo, Amanda Strydom en Janine Neethling die ontslape heer van ons letterkunde, Hennie Aucamp, op ‘n besonderse manier gaan vereer. Volgens die programnota’s sal Daniel Hugo meer oor Aucamp se digwerk vertel en ook enkele verse voorlees, terwyl Amanda Strydom oor sy invloed op haar loopbaan sal gesels en van sy getoonsette werke sing.
“Stokoud en splinternuut”, wat om 14:00 begin, is ‘n musiekprogram wat deur David Kramer en Schalk Joubert aangebied word. Volgens die programnota’s, die volgende: “David Kramer vier ’n leeftyd van liriekskryf en keer weer terug na intieme, akoestiese konserte – presies hoe hy in die laat sewentigerjare begin het. David sing van sy splinternuwe liedjies waaraan hy tans werk, maar die gehoor kan ook uitsien na van sy stokou werke wat aan hom tereg die reputasie besorg het as een van die gewildste sangers en liriekskrywers in Suid-Afrika.”
En asof hierdie fees nie reeds uit genoeg hoogtepunte bestaan nie, word die verrigtinge om 17:00 in die Goodnow-saal afgesluit met die volgende: “Die derde Tuin van Digters sluit af met hierdie klassieke musiekuitvoering waarin Boerneef besing word. Hierdie konsert is nie net ’n afsluiting van ons fees nie, maar ook ’n afskop van ons klassieke musiekreeks wat die Breytenbach Sentrum vanjaar vir die eerste keer in die asemrowende Goodnow-saal aanbied.” Musiekkunstenaars wat by die program betrek is, is o.a. André Serfontein (tenoor), Bennie van Eeden (klavier) en Geoffrey Armstrong (violis); met Johann Nel, Sanet Taljaard en Alma Nel as stemkunstenaars. Die musiek van “Boplaas sing Kro-taal” is deur Pieter de Villiers en Louis van Rensburg verskaf.
Kaartjiespryse is soos volg:
Naweekpakket: R250 (sluit alle aanbiedings in).
Toegang vir 13 September: R180 (sluit alle aanbiedings in vir 13 September)
Toegang vir 14 September: R120 (sluit alle aanbiedings in vir 14 September)
Besprekings kan via e-pos gedoen word by Jeanne-Mari Gerber, of telefonies deur 021-8732786 te skakel.
Hoe ook al – maak tog net absoluut seker dat jy nie dié vreugde misloop nie.
Besoek gerus die amptelike webtuiste vir meer inligting.
♦ Gedurende 12-14 September kan boekklubs heerlik ontspan in die Kaapse Wynland van Wellington by ‘n boekklubnaweek wat ook die Tuin van Digtersfees insluit.
Volledige Program
TUIN VAN DIGTERS
BREYTENBACH SENTRUM
13 & 14 September 2014
VERS & VERF
Met werke deur Johann Louw, Henk Serfontein, Angus Taylor, Keith Dietrich, Sandra Hanekom, Rae Goosen, JP Meyer, André du Toit, Ingrid Winterbach, Colleen Gericke, Gerrie van Tonder, Joshua Miles, Helen Vaughan, Shany van der Berg, Wim Rautenbach en Liekie Fouché
Die opdrag was eenvoudig: elke skilder moet verse uitbeeld op ’n 30 x 30-grootte doek. Die resultaat is ’n indrukwekkende groepsuitstalling waarin die wisselwerking tussen vers en verf (of ander mediums) die kyker oorbluf. Die werke is bekostigbaar en hou goeie beleggings in vir kunsliefhebbers.
Breytenbach Galery.
13 September | 9:00 – 17:00
14 September | 9:00 – 17:00
UKUSELA EKAPA
Met Hennie Meyer en Janine de Waal
Ukusela eKapa, of dan Slurp Kaapstad Op, is ’n amptelike World Design Capital 2014-projek, wat deur die keramiek-kunstenaar, Hennie Meyer, en die argitek, Janine de Waal, met groot opwinding deur Kapenaars ontvang word. Nou kom maak hulle ook ’n draai by die Tuin van Digters – en word jy uitgenooi om ’n spesiale handdruk te kom gee vir ’n klei-beker. Hierdie beker sal uiteindelik deel uitmaak van ’n grootskaalse uitstalling later in die jaar. Alles vir ’n goeie doel en deur klei-handdrukke, kom ons nader aan mekaar.
Breytenbach Galery.
13 September | 11:00 – 12:00
DIGBY DIGTERS
Met werke deur Dimitri Engelbrecht
Dimitri is een van die opkomende Wellingtonse kunstenaars wat ingeskakel het by die Breytenbach Sentrum se opleidingsprojekte in die visuele kunste, onder die mentorskap van Tessa Louw. In hierdie uitstalling is van Dimitri se lewensgetroue sketse van bekende Afrikaanse digters te sien én te koop. Dimitri sal ook tydens die Tuin van Digters in die uitstallokaal werksaam wees – kom kyk gerus hoedat hy met fyn potloodlyne al nader kom aan die digters wat hy uitbeeld.
Glaslokaal.
13 September | 9:00 – 17:00
14 September | 9:00 – 17:00
VERSE IN MY VINGERS
Afr. Geen o/14
Regie en samestelling: Juanita Swanepoel
Met Johann Nel, Waldemar Schultz, Hugo Theart, Eugenie Wiggens en Laurinda Hofmeyr.
In November 1975 sê Breyten Breytenbach tydens sy verhoor in die Paleis van Justisie in Pretoria: “Ek voel, ek wéét ek het nog baie gedigte in my vingers en skilderye in my oog”. By ’n ander geleentheid weer: “Wat my betref – ek wil probeer skryf vir hiér, vir nóú. Ek wil in my werk so na moontlik probeer kom aan die verbygaande – nie die ewige nie, dié was altyd daar. En die ewige sê niks. Dis die verbygaande wat seer maak, die plaaslike”. Verse in my vingers, destyds spesiaal saamgestel vir die Breytenbach Sentrum, word vanjaar herleef vir Breyten se 75ste verjaardag.
13 September | 9:30 | 90 min.
FILMVERSE
’n ATKV-produksie in samewerking met Fopspeen Moving Pictures
Met Diek Grobler, Lina Spies en Danie Marais
Filmverse bied ’n visuele bloemlesing waarin twaalf gekose gedigte die inspirasie was vir ’n reeks van kort animasiefilms. Klassieke gedigte, asook die werk van kontemporêre digters, word gebruik vir hierdie boeiende proses waarin ’n dialoog tussen woord en beeld geskep word. Elke animasiefilm word vergesel van ‘n eie klankbaan waarop die gedig onder andere voorgelees word. Diek Grobler wys tydens hierdie sessie van die animasiewerk en gesels saam met digters oor die fassinerende manier hoe gedigte visueel lewe kry.
13 September | 11:00 | 50 min.
SOLANK VERLANGE DIE SWEEP SWAAI
Met Danie Marais en Alfred Schaffer
Danie Marais se derde digbundel, Solank verlange die sweep swaai, is ‘n mymerende, soms prewelende, plek-plek tierende besinning oor die Suid-Afrikaanse middelklas-weergawe van die menslike toestand. Dit gaan oor die “roaring 40’s” en die eerste onheilspellende tekens van middeljarigheid, oor egskeiding, enkelvaderskap, ontnugtering, ‘n geliefde ma wat by die dood omdraai en die skrikwekkende relevansie van gruwelrolprente en popkultuur. Danie gesels met Alfred oor hierdie aangrypende werk en feesgangers kan ook uitsien om bietjie te luister na die musiek wat hierdie bundel gevorm het.
13 September | 12:00 | 50 min.
MENGELMOES DIGTERS
(Moontlik gemaak deur die ATKV en LW Hiemstra Trust)
Met voorlesings deur Diana Ferrus, Danhouse, Gaireyah Fredericks, Nazlee Jeppie, Annelize Laban, Fiona Fertyn, Sophia Oliphant, Ashley Fortuin, Chantelle Hartebeest, Iola Craill, Charmaine Moosaen Adriaan Williams. Optredes deur die befaamde rymkletsers Hemelbesem, Rhyme Author en Rimestein.
Die Breytenbach Sentrum bied vir die afgelope jare met groot sukses ’n digters-slypskool aan vir voornemende digters, onder leiding van Diana Ferrus. Hierdie jong digterstemme, hoofsaaklik van Wellington en die Paarl, sal gehoor word tydens die Tuin van Digters. Hul verse word aangevul deur die polsende rymkletse van die alombekende Hemelbesem, asook die nuwelinge Rhyme Author en Rimestein.
13 September | 13:00 | 90 min.
DIE AFWESIGHEID VAN BERGE
Met Louis Esterhuizen en Daniel Hugo
Louis Esterhuizen gesels met Daniel Hugo oor sy nuutste bundel, Die Afwesigheid van berge. Dié bundel handel oor ’n alleman se reis onderweg na die dood – die gedagtevlugte, die besinnings, die fantasieë waartoe die bewussyn geskok word. Maar die spreker is sterwend in hiérdie land. Trouens, hierdie land sing dikwels saam in die liedere, in refreine wat die slagspreuke, clichés en jargon is van nie net ’n nuwe Suid-Afrika nie, maar van ’n nuwe tegnologiese era. ’n Persoonlike bundel, maar ook ’n aktuele een. Kom luister na hierdie insiggewende gesprek tussen twee deurwinterde digters.
13 September | 15:00 | 50 min.
VEELVULDIGE GEBRUIKE VAN HUISHOUDELIKE ITEMS
Met Andries Bezuidenhout en Melt Myburgh
In Andries Bezuidenhout se tweede bundel word twee werklikhede wat op die oog af nie raakpunte het nie, naas mekaar geplaas. Aan die een kant is daar die groter ruimte van die Suid-Afrikaanse stad en platteland, en aan die ander kant die intieme ruimte van die huis, veral die kombuis, gevul met verskillende toestelle. In albei hierdie ruimtes is verandering aan die werk. Die slopende werking van die geskiedenis bring verval, afsondering en verlatenheid in stad en dorp mee; in die kombuis is die verandering geheimsinniger, soms meer sinister, en wonder die spreker oor die sameswerings van huishoudelike toestelle teen hulle gebruikers. Kom luister hoe Melt en Andries gesels oor gedigte, kombuise en ander ruimtes.
13 September | 16:00 | 50 min.
GEDIGTE SONDER GRENSE
(Ondersteun deur NB-uitgewers)
Met Marion Holm
Marion Holm lees van ons mooiste gedigte in Afrikaans voor en maak poësie so lekker en toeganklik soos ’n bord goeie boerekos. Bring jou gunsteling-gedig, of een wat jy self geskryf het, saam en kom lees dit ook voor.
13 September | 17:00 | 45 min.
KATALEKTE
Met o.a. Schalk Joubert, Ronan Skillen, Laurinda Hofmeyr, Antoinette Kellerman, Toast Coetzer en Vicky Davis.
Katalekte vorm ’n drieluik met Breyten Breytenbach se vorige twee bundels, Die windvanger en Die beginsel van stof. In 2013 het Breyten ‘n seleksie van die gedigte uit die bundel opgeneem saam met Schalk Joubert en Ronan Skillen as musikale regisseurs en komponiste. Saam vorm hulle ‘n beeldskone en hipnotiese musikale reis waar woorde en klank jou nader bring aan die rykheid van die taal. Met die lewendige uitvoering van hierdie opnames sal Schalk Joubert saam met die meesterlike perkussiespeler, Ronan Skillen, en Laurinda Hofmeyr op klavier optree. Die vertolkings en voorlesings sal deur o.a. Antoinette Kellerman, Toast Coetzer, Vicky Davis en ander gerekende digters en akteurs behartig word.
13 September | 18:30 | 60 min.
SLAAPTYD IN DIE SUBURBS
Met Roof Bezuidenhout (stem en kitaar), Brixton Barnard (stem en baskitaar), Kapelaan Pat Plank (lead kitaar) en Louis Graham (tromme)
“History stops where the suburbs begin,” skryf die digter Denis Hirson. Tien jaar na hul vorige album, Spergebied, is die Brixton Moord & Roof Orkes terug met Slaaptyd in die suburbs, ʼn album met twaalf nuwe snitte. In die tien jaar tussen-in het die groep hervorm, opgebreek en toe weer hervorm, maar die lede was ook besig met ander projekte, soos solo-albums, digbundels en skilderye. Toast Coetzer het die Brixton Moord & Roof Orkes beskryf as “kind of like Koos du Plessis had he ever heard Nirvana” en Pieter Redelinghuys het opgemerk: “Afrikaanse rock het liriekskrywers soos hierdie nodig”. Mariana Malan skryf die groep se “aanslag wys kennis en begrip van poësie en kombineer dit op unieke wyse met die musiekgenre wat hulle gekies het”, terwyl Angola Badprop sê hulle “is ouens wat weet hoe om te jol, maar ook weet wat hulle uit hul musiek wil hê.” Roof Bezuidenhout self: “Ons is nou never-has-beens wat ʼn comeback moet maak.”
13 September | 20:00 | 80 min.
MEESTER AUCAMP
Met Daniel Hugo, Amanda Strydom en Janine Neethling
Hennie Aucamp het ’n blywende impak op die Afrikaanse letterkunde gemaak. In hierdie program bring ons hulde aan Meester Aucamp, wat nie net vir ons met van die beste Afrikaanse kortverhale en kabarette agterlaat nie, maar ook ’n skatkis vol verse. Daniel Hugo vertel meer oor Aucamp se digwerk, lees enkele verse voor, terwyl Amanda Strydom gesels oor sy invloed op haar loopbaan en van sy getoonsette werke sing.
14 September | 11:00 | 60 min.
STOKOUD EN SPLINTERNUUT
Met David Kramer en Schalk Joubert
David Kramer vier ’n leeftyd van liriekskryf en keer weer terug na intieme, akoestiese konserte – presies hoe hy in die laat sewentigerjare begin het. David sing van sy splinternuwe liedjies waaraan hy tans werk, maar die gehoor kan ook uitsien na van sy stokou werke wat aan hom tereg die reputasie besorg het as een van die gewildste sangers en liriekskrywers in Suid-Afrika. Kom beleef die legende in die intieme atmosfeer van die Breytenbach Sentrum.
14 September | 14:00 | 70 min.
BOPLAAS SING KRO-TAAL
(Moontlik gemaak deur die Rupert Musiekstigting)
Met o.a. André Serfontein (tenoor), Bennie van Eeden (klavier), Geoffrey Armstrong (violis) asook Johann Nel, Sanet Taljaard en Alma Nel as stemkunstenaars. Musiek deur Pieter de Villiers en Louis van Rensburg.
Die derde Tuin van Digters sluit af met hierdie klassieke musiekuitvoering waarin Boerneef besing word. Hierdie konsert is nie net ’n afsluiting van ons fees nie, maar ook ’n afskop van ons klassieke musiekreeks wat die Breytenbach Sentrum vanjaar vir die eerste keer in die asemrowende Goodnow-saal aanbied. Die volledige program vir dié reeks is op ons webwerf beskikbaar.
Goodnow-saal
14 September | 17:00 | 50 min.
EEN STOP
Alle vertonings, behalwe as dit andersins aangedui word, sal in die tent in die vierkant van die Breytenbach Sentrum aangebied word. Dit stel besoekers in staat om te parkeer en alles rustig en gerieflik op een plek te kan geniet.
Tydens die Tuin van Digters kan jy ook uitsien om die digters se bundels te koop, asook tweedehandse boeke, lekker verversings in ons t-winkel en in die Bôrdienghuis Teater te geniet, kosse en drankies te geniet, asook om geskenke en ander kreatiewe produkte te koop.
WELLINGTON TOERISME
Skakel met die Wellington Toerisme-kantoor by info@wellington.co.za om jou te help met jou verblyfbesprekings en ander inligting oor ons dorp en omgewing te bekom.
KAARTJIEPRYSE
Naweekpakket: R250
(sluit alle aanbiedings in)
Toegang vir 13 September: R180
(sluit alle aanbiedings in vir 13 September)
Toegang vir 14 September: R120
(sluit alle aanbiedings in vir 14 September)
BESPREKINGS
Bespreek jou kaartjies per e-pos by Jeanne-Mari Gerber: besprekings@breytenbachsentrum.co.za
VERDERE NAVRAE
Breytenbach Sentrum, 14 Burgerstraat, Wellington.
Skakel ons by 021-8732786 of per e-pos na info@breytenbachsentrum.co.za
Volg ons op twitter, facebook en hou ons webwerf, www.breytenbachsentrum.co.za, dop vir die nuutste inligting oor die Tuin van Digters 2014.
VERBLYFBORG
Met dank aan Cummings Gastehuis. Kontak hulle gerus by 021 873 3474 of stuur ’n e-pos na mattievisser@wellington-accommodation.com en kom kuier die naweek saam met ons.
DONATEURS
ATKV, Die Dagbreek Trust, Distell Stigting, Drakenstein Munisipaliteit, Het Jan Marais Nationale Fonds, LW Hiemstra Trust, Naspers, NB-uitgewers, Rupert Musiekstigting.
Subliem, AnneGret – wens ek kon daar wees!
Wonderlik, AnneGhret, Theo Kemp en almal betrokke!!! Ek kom beslis!
Evette