Robin Williams
– Let be be finale of seem
Wallace Stevens: The Emperor of Ice-cream
“I love you. I miss you.
I will try looking up”, twiet
jy vir oulaas voor jy
hierdie wêreld-en-sy-mense,
wat jy so uniek
kon vertolk, abandoneer.
Russies het jy soos blits geleer
en alle stokkies vir ‘n grappie,
selfs eenkeer ‘n twyfelende mevrou vertolk.
Jou blou oë, medespelers,
in ‘n soektog: koning, keiser,
bontvisvanger van gebare en wyshede.
Jy het jou kykers ontstig,
van die lag laat stik,
geïmproviseer,
gedoebliseer,
gefloreer,
geskerpskets: ra-ta-ta-tat-bam-bam
gesnuif,
gesuip
en vir die laaste rol,
‘n grootse animasie,
die djinn vir ewig
uit die bottel
geskaai
toe jy
stik
die knie buig
die keel om-
gordel
sonder
‘n doubleur.
© Joan Hambidge /2014
(Ingegee deur Laetitia Pople se artikel in Die Burger 13/8: “Hy had geen komiese eweknie”.)
Sjoe.
Jou gedig ontroer, Joan. Die wêreld gaan nog lank oor Robin treur, ek ingesluit.