Jannie Malan. Op die spoor van die Sehnsucht en Saudade

 

Daar is ‘n gevoel. Moeilik om te verwoord. Ek word soms bewus daarvan wanneer ek in die Hoëveldmiddae in die trae stoet van die daaglikse N1 verkeer sit en uit staar oor die konstruksiestellasies waaronder nog ‘n sekuriteitskompleks verrys. En skielik is dit langs my in die passasiersitplek. Ek het dit meermale raakgeloop in die aankomslokale van lughawens, tussen die vlugtige vertoef van mense wat van en na wêreldwye bestemmings arriveer en vertrek. Die gevoel het teen ‘n tydskrifkraampie aangeleun; tydsaam ‘n sigaret gerook. Ek het dit ervaar waar ek langs ‘n geliefde gesit het, hulle hand skielik vreemd in myne. Dit is soms daar wanneer ek saam met vriende om die kampvuur sit, gesigte gloeiend bo die vlamme. En altyd, altyd langs die see, veral wanneer dit skemer word. Ek gee my dus, soos Laurika Rauch, oor aan die nostalgie. Hoe beskryf ‘n mens hierdie gevoel. ‘n Hunkering, ‘n onbeskryfbare begeerte na iets of iewers anders as hier – maar nie duidelik gedefinieer nie. ‘n Melankolie, ‘n heimwee. Dit is ‘n gevoel wat ek baie maal in gedigte raakloop. Opgekrul tussen die woorde, versteek agter die letters, styf teen die wit van die bladsy. Soos hier, in ‘n gedig van Gilbert Gibson.

 

Stealing copper

’n verbleikte kleurfoto verklap hier

die draai van ’n seisoen: jy

dra trui en staan gedogter en

selfbewus voor ’n lukwartboom

op wit van die winter is die grasperk

en die boom is

met die meeste takke leeg, julle

op wag vir die weerkoms van trekvoëls.

skuins oor die kop

loop telefoondrade en sing,

op die agtergrond

gaan daar ’n tweespoorpad na

die skuur. Jou hare waai deurmekaar, gepunt;

 

ek luister en hoor

ek hoor die wind

 

Gilbert Gibson uit Kaplyn (2007)

Die stewels van herinnering

Soos dit ‘n digter betaam, gaan soek ek dus ‘n woord vir hierdie ‘ding’. As jy die onbekende ‘n naam kan toedig, dan het jy besit daarvan geneem en kan dit jou nie meer bang maak nie. Ek kom op die volgende af: “Nur wer die Sehnsucht kennt” (slegs hy wat die die hunkering ken) is ‘n gedig van Johann Wolfgang von Goethe. Die gedig verskyn in sy bildungsroman Wilhelm Meister’s Apprenticeship, waar dit deur die karakter Mignon gesing word. Verskeie komponiste het die gedig getoonset waaronder Pyotr Tchaikovsky se melankoliese “None but the Lonely Heart” ‘n verwerking van die Russiese weergawe van  Goethe se gedig is. Goethe se gedig kan as volg vertaal word:

 

Net hy wat die hunkering ken

Weet hoe ek ly

Alleen en verwyder

Van alle vreugde

Kyk ek na die hemel

Na die ander kant

Ai! Die een wat my lief het en ken

Is ver weg

Ek voel duiselig, my ingewande brand

Alleen hy wie die hunkering ken

Weet hoe ek ly

 

Die Duitse word ‘Sehnsucht‘ is ‘n selfstandige naamwoord en ‘n samestelling van die woord vir ‘n diep verlange (das Sehnen) en dié vir verslawing (die Sucht).  Alhoewel ‘n mens dit na ‘hunkering’ of ‘smag na’  sou kon vertaal, skiet die woorde kort wanneer hulle poog om hierdie emosionele toestand akkuraat te beskryf. Sehnsucht is ons gewaarwording van ons lewensbegeerte, wat terselfdertyd gepaard gaan met die besef dat meeste van hierdie versugtinge onbereikbaar sal bly en gaan hierdie gevoel meermale gepaard met beide positiewe en negatiewe gevoelens.

Soms ervaar jy dit as ‘n hunkering na ‘n ver land. Geen land wat jy ken of al besoek het nie. ‘n Land wat in werklikheid nie eens bestaan nie, maar wat ervaar word as die ‘tuiste’.

Sehnsucht het ‘n besonderse belang vir die outeur  C. S. Lewis, van die Narnia-reeks faam, gehad. Hy beskryf  Sehnsucht as die “inconsolable longing” in die menslike hart vir “we know not what.” Hy noem enkele voorbeelde van dinge wat veral hierdie begeerte in hom aangewakker:

That unnameable something, desire for which pierces us like a rapier at the smell of bonfire, the sound of wild ducks flying overhead, the title of The Well at the World’s End, the opening lines of “Kubla Khan”, the morning cobwebs in late summer, or the noise of falling waves.

 

Vir my word hierdie gevoel nie deur die eerste versreëls van Samuel Taylor Coleridge se Kubla Khan nie verwek nie. Nee, vir my sit dit eerder in Leipoldt se “Wys my die plek”:

Wys my die plek waar ons saamgestaan het,

Eens to jy myne was –

 

Net daar. Keer op keer. Daardie gevoel. Sehnsucht blyk dus subjektief te wees.

‘n Mens hoef bloot te dink aan die gevoel wat ervaar word wanneer jy na die Kreoolse sanger Cesária Évora se gelyknamige lied luister. Dit beskryf ‘n diep emosionele en profound melankoliese begeerte vir ‘n geliefde iets of iemand wat afwesig is. Onderliggend hieraan is daar ook ‘n onderdrukte wete dat hierdie persoon, tyd of voorwerp dalk nooit mag terugkeer nie.

Jy’t weggegaan

Jy’t weggegaan en jy bewoon

‘n silwer herberg in die sneeu

jou vensters kyk nog elke nag

met drie blink oë na die plein

 

die plein is boom en wind en boom

en wind en wind

en wintermiddag voer daar iemand

die meeue krummels teen die wind

 

N.P. van Wyk Louw uit Tristia 

 

Aankoms en vertrek

Iemand het Saudade eens  beskryf as “die liefde wat agterbly” nadat die geliefde weg is. Dit is ‘n ‘leegheid’, ‘n holte in die siel. Dit is belangrik om daarop te let dat die Portugese ook ‘n woord vir nostalgie het, en gevolglik is Suadade soortgelyk, maar anders geskakeerd.

Waarom hierdie spesifieke woord in Portugees voorkom het dalk te make met die tyd toe die Portugese ‘n groot ontdekkingsmoontheid was met seevaarders wat veraf lande gaan verken het, weg van geliefdes en baie maal om nooit weer terug te keer nie. Dit is ‘n romantiese gedagte, maar ongelukkig het die Portuguese ontdekkingsvaarte in 1415 begin, lank na die woord reeds in Portugees bestaan het. In sy boek In Portugal, gepubliseer in 1912, skryf A. F. G. Bell:

The famous Saudade of the Portuguese is a vague and constant desire for something that does not and probably cannot exist, for something other than the present, a turning towards the past or towards the future; not an active discontent or poignant sadness but an indolent dreaming wistfulness.

 

Ek wonder of jy soms

 Ek wonder of jy soms, wanneer

Die wolke soos galjoene seil,

Dink aan die helder dae, toe ons

Kon loop deur songedrenkte lande?

Want niks was daar wat jou en my

In daardie dae meer kon verbly

As om te sien, hoe een vir een,

Hul dryf oor goudgevlekte lande,

Met skaduwees vir ankers

Wat tastend oor die bosse sleep

En nuwe bodems peil –

Ek wonder, as die wolke seil,

So voortgedryf deur frisse winde,

Of jy nog aan dié dae dink,

O welbeminde?

 

I.D. du Plessis uit Groot Verseboek

 

Wanneer ek deur bundels blaai, ervaar ek gereeld hierdie gevoel van Sehnsucht of Suadade. Miskien is dit omdat die gedig op sigself  ‘n poging is om ‘n verskriklike vlietende gevoel in woord te kristalliseer. Net soos hierdie twee woorde hard probeer om ‘n moeilike gevoel vas te vat draai die gedig ook maar baie maal om die essensie, hopelik in ‘n al hoe nouer sirkel wat al nader na die kern van waarheid kring. Meermale herroep gedigte ook ‘n gegewe uit die verlede, ‘n plek, ‘n tyd, ‘n persoon, en word dit – intensioneel al dan nie – met nostalgie gekleur.

Miskien kan hierdie gevoelens so sterk met gedigte geskakel word omdat die gedig ook besef dat die ware betekenis of emosie wat dit prober beskryf nooit werklik bereik kan word nie. Tog is die ervaring van hierdie gevoel paradoksaal – terwyl daar ‘n diep nostalgiese komponent is, is daar terselfdertyd ook ‘n vorm van blydskap, byna ‘n herbevestiging van die wete dat deur hierdie emosie te ervaar, jy steeds lewendig is, jy steeds kan voel.

bladspieël

in die verbygaan sien ek soms

by dié kafeetafel ‘n eensame man

wat skryf – dan verbeel ek my

hy skryf oor sy weerkaatste self

die tafel en die verbyganger

wat hom verbeel: daar sit ‘n man

wat oor sy eensaamheid skryf

 

Daniel Hugo uit Die boek Daniel (1986)

Versadig en leeg

Foto’s: outeur

Bookmark and Share

2 Kommentare op “Jannie Malan. Op die spoor van die Sehnsucht en Saudade”

  1. Maria Snyman :

    Sjoe Jannie, voer jy my nou mee met ‘n pragtige stuk skryfwerk! Ek het juis ook onlangs vertroud geraak met die woord Sehnsucht.

    Derrida (1989:80) – mens kan hom dalk ook net ‘n woordeskatverryker noem – verwys in Of Spirit: Heidegger and the Question na Schelling wat, soos Derrida stel, “reminds us” dat die term “Sucht has, etymologically, nothing to do with the suchen of research, but with evil, siech, illness, epidemic.” Derrida (ibid.) vervolg ‘n entjie verder en skryf: “The evil of this Sehnsucht which gives the impulsion to go out of oneself in order to return to oneself, or to return to oneself so as to go out of oneself, is the essence of spirit of which Hölderlin speaks as poet. “In spirit,” says Heidegger, “there reigns the nostalgia for its own essence.””
    Derrida (ibid., 43) skryf vroeër in die boek en dui op ‘n “awesome equivocality” (ibid., 41) ingeskryf in gees (en waar Heidegger se onderhandelinge met die Duitse woord Geist dit veral goed demonstreer):
    “Spirit wakes, awakens rather [plutôt] – earlier [plus tôt] – from the Vor-fragen of the Führung. (…) As Führer, it goes or comes on the way, in front, up in front, before all politics, all psychology, all pedagogy.”

    “Daar is ‘n gevoel. Moeilik om te verwoord.”

    Eensaamheid is asof voorgeskryf, dit dryf party tot wrede waansin (die dinge in die midde-Ooste ontroer my erg), ander tot waansinnige wonderlike poësie … Hoe hou mens huis met so ‘n dubbelsinnigheid? “Ek voel duiselig, my ingewande brand”!

    Mooi, maak weer so.

  2. Leon Retief :

    Baie dankie Jannie!

  •