Persvrystelling: 100 jaar DJ Opperman. 22 September om 19:00

Persvrystelling: 100 jaar D.J Opperman

Die bekende digter, dramaturg en bloemleser Diederik Johannes (D.J.) Opperman is op 29 September 1914 gebore op die plaas in KwaZulu-Natal.

Nadat hy eers ’n onderwyser was, toe ’n joernalis by Die Huisgenoot, en daarna tien jaar lank ’n dosent aan die Universiteit Kaapstad, was hy vanaf 1960 tot 1979 as professor in die Afrikaanse letterkunde verbonde aan die Universiteit Stellenbosch.

In 1976 was hy so siek as gevolg van lewersirrose dat verwag is hy sou sterf. Hy het egter merkwaardig herstel en ’n nuwe kreatiewe periode van lewensdrif beleef waarvan sy laaste digbundel, Komas uit ’n bamboesstok (1979), getuig. In Junie 1981 het hy ’n beroerte gekry wat hom weer bedlêend gemaak het tot sy dood op 22 September 1985, kort voor sy 71ste verjaarsdag.

Opperman het sowel die Hertzogprys as die WA Hofmeyrprys vier keer ontvang, asook die CNA-, Gustav Preller- en Louis Luyt-pryse. Hy is verder steeds bekend vir die groot verskeidenheid bloemlesings wat hy saamgestel het, waaronder Groot Verseboek, Junior en Senior Verseboek, en Kleuterverseboek.

Om sy honderdste geboortedag te vier, bied die Departement Afrikaans en Nederlands op Stellenbosch ’n spesiale aand aand aan op Maandag 22 September om 19:00, in die Wilcocks-gebou op Stellenbosch se onderste saal, waar Opperman altyd klas gegee het.

Die aand bestaan uit ’n interessante kaleidoskoop oor die mens Opperman, met twee van sy dogters en ’n hele reeks vooraanstaande skrywers en dosente of ouddosente wat staaltjies en belewenisse kom meedeel van hulle persoonlike ervaring met Opperman as pa, mentor en dosent.

Die program sluit, naas Opperman se dogters Trienke en Diederi, sprekers in soos André P. Brink, Lina Spies, Chris van der Merwe, Etienne Britz, Wium van Zyl, Ronel Foster, Bertie du Plessis, Louise Viljoen en Joan Hambidge.

Dorothea van Zyl is die aanbieder. Johann Nel kom lees van Opperman se bekendste gedigte voor. Na die tyd is daar ’n heerlike onthaal waar almal verder kan saamkuier en gesels.

Die kaartjies kos slegs R40 vir die publiek – bespreek asb. by Computicket – en R20 vir studente

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Persvrystelling: 100 jaar DJ Opperman. 22 September om 19:00”

  1. Benewens baie ander dinge was Opperman ‘n mentor. Hy het stilgebly tot ‘n mens as student begin saampraat het. Ek het sy bondige idees nog onlangs met groot plesier in ‘n kursus oor semiotiek gebruik.

  •