Wicus Luwes. Oor honde en hul halsbande

Ek reken ‘n mens kan iets wys word oor die stand van ‘n samelewing deur na die stand van die hond in daardie samelewing te kyk. Die Westerling sien die hond as ‘n maat en waghond en word ook ingespan vir sekere take. Terwyl ek probeer rondsnuffel het op die internet, het ek heelwat raakgelees oor historiese sienings van honde oor die wêreld, maar min gekry oor hoe sake tans staan. (Miskien kan die mense wat bekend is met ander wêreld-dele hul ervarings deel) Een persoon het vertel dat Indië se laer- en middelklas nie regtig honde as troeteldiere aanhou nie. Hul word meer as pestilensies as iets anders gesien en lewe uit asblikke. Selfs toe hy vir ‘n ruk op ‘n plantasie in Indië gewerk het, was daar honde teenwoordig, maar dit was nie regtig ‘iemand’ se hond nie. Hy het selfs begin wonder of honde dalk slegte jagters is en dus by die mens rondhang om kos te kry.

Honde word nog in sekere lande geëet en party gelowe beskou honde as onrein. Die Chinese vier alle honde se verjaardag op die tweede dag van die Chinese nuwejaar. Hulle het ook ‘n twaalf jaar astrologiese siklus waarin die jaar van die hond elfde op die lys is. Ek dink baie mense glo dat honde ‘n mens gesond kan maak, alhoewel daar nie regtig wetenskaplike bewys daarvoor is nie. Die Franse Katolieke se Sint Rocco, het volgens oorlewering ‘n ernstige siekte opgedoen en besluit om na ‘n woud te gaan om te sterf. Hy het ‘n hond daar raakgeloop wat hom oor ‘n tyd lank genees het deur aan sy wonde te lek. Party mense reken dat die hond eintlik dooie weefsel uit wonde lek, maar ons almal weet genesing is nie net fisies van aard nie. Ek reken dat die hond as sielkundige eerder ‘n rol in die genesing te speel het. Die hondesielkundige se metodes is eenvoudig, dog doeltreffend: Stap 1) Gee vir die mens ‘n stok of bal om te gooi en hou aan om dit terug te bring totdat die mens moeg is; Stap 2) Gaan staan by die hek totdat die mens inwillig om te gaan stap.

Vriende uit my kinderdae uit, het ‘n hond gehad wat jou altyd vriendelik by die hekkie ingenooi het. Jy kon tot by die voordeur vorder, maar dit was waar die vriendelikheid gestop het. Daarna het die hond se persoonlikheid verander en jy moes bontstaan om weer terug te gaan en uit te kom. So moes ek eenkeer (miskien met behulp van ‘n bietjie adrenalien) die hond uit die pad stamp, want niemand was tuis nie en ek wou nie daar vasgekeer wees totdat die mense besluit om huistoe te kom nie. Ek dink altyd aan Cerberus, die hond wat die ingang van die hel bewaak in Grieks-Romeinse literatuur. Cerberus het ‘n paar koppe, alhoewel die hoeveelheid koppe tussen verhale verskil. Interessant genoeg word die brug na die hemel in Chinese volksoorlewering ook deur honde bewaak.

Cerberus
deur Marlise Joubert

sal die rooigrond en die berg en rivier
en al die visse om die maan jou gevreet
sagter maak, jou drif blus, jou maag voed,
jou gierigheid beloon?

ek verstaan niks meer nie.
jy is die hond in hierdie bloeiende
land, jy verwissel van plek,
verander van ruimte en kleur,
van vodde na uniform na snyerspak.

kyk, o kyk net weer na die opgekerfde
vrou, kyk, sy het haar kind verloor,
en die kind het haar ma en pa verloor,
die plaashuis en die sinkkaia in die modder
het ’n gesin verloor, en die druiweplukker
en die slaper in die bos en die ouvrou
met haar vurk in die bord het jy geheel
en al verslind, wreed ontheg van enige reg
op bestaan, oopgekloof met jou geslypte
mes, jou monsterkoeëls, die onsigbare
harde vuis.

jy gee mos geen flenter om nie –
alles vir ’n ring,’n beurs, ’n sel
of ’n waansinnige ideaal,
vir ’n eenrigtinglaan na jou kamma
hiphopland – anderkant die Styx –
waar jy glo koning van jou bende
beendere is, waar jy uiteindelik,
so glo jy mos, al seëvierende
volledig méns gaan word.

as ek jou ooit teëkom
sal ek waarskynlik nie weet wat nie.

as ek eerlik moet wees,
weet ek nie wát ek weet van veg
en woede en skop en pleit nie.

elke dag hou ek jou dop, sien
ek jou sit langs swart populiere
onder bleek steriele wilgers,
die prooi en afwag met jou vyf
geslangde koppe of meer.

en ek hiberneer verslae. slaan hortjies
dig. hou splinters asem op.

 

Geen dier kan die dood ontwyk nie en so gebeur dit dan ook dat ‘n hond die tydelike met die ewige verruil op ‘n bepaalde tyd. (Die mens se etiese kompas laat wel toe dat honde die genadedood ontvang wanneer hulle sieklik is of in die pad is wanneer mense verhuis.) Ons woef, Rocco, het onlangs langs my bed in sy slaap gesterf. Ek het soos normaalweg bo-oor hom geklim, want hy was begaafd in die kuns van versperring. Sy gunstelingplek om te gaan lê, was altyd midde-in ‘n deur of ander opening waardeer ‘n mens gereeld moes loop. Eers toe ons hom probeer roep, het ons agtergekom dat dinge nie pluis is nie. Ek mis die ou dier wat my in die aande wakker gesnork het en waaroor ek moes klim. Ek mis sy eiesinnigheid, en die kere waar ek hom met mat en al by die voordeur moes uitsleep as jy verseg het om uit te gaan. Ek dink dis bitter nodig om iets in ‘n mens se lewe te hê waaroor jy nie volkome beheer het nie.

 

A Dog Has Died
deur Pablo Neruda  (Vertaal deur Alfred Yankauer)

My dog has died.
I buried him in the garden
next to a rusted old machine.

Some day I’ll join him right there,
but now he’s gone with his shaggy coat,
his bad manners and his cold nose,
and I, the materialist, who never believed
in any promised heaven in the sky
for any human being,
I believe in a heaven I’ll never enter.
Yes, I believe in a heaven for all dogdom
where my dog waits for my arrival
waving his fan-like tail in friendship.

Ai, I’ll not speak of sadness here on earth,
of having lost a companion
who was never servile.
His friendship for me, like that of a porcupine
withholding its authority,
was the friendship of a star, aloof,
with no more intimacy than was called for,
with no exaggerations:
he never climbed all over my clothes
filling me full of his hair or his mange,
he never rubbed up against my knee
like other dogs obsessed with sex.

No, my dog used to gaze at me,
paying me the attention I need,
the attention required
to make a vain person like me understand
that, being a dog, he was wasting time,
but, with those eyes so much purer than mine,
he’d keep on gazing at me
with a look that reserved for me alone
all his sweet and shaggy life,
always near me, never troubling me,
and asking nothing.

Ai, how many times have I envied his tail
as we walked together on the shores of the sea
in the lonely winter of Isla Negra
where the wintering birds filled the sky
and my hairy dog was jumping about
full of the voltage of the sea’s movement:
my wandering dog, sniffing away
with his golden tail held high,
face to face with the ocean’s spray.

Joyful, joyful, joyful,
as only dogs know how to be happy
with only the autonomy
of their shameless spirit.

There are no good-byes for my dog who has died,
and we don’t now and never did lie to each other.

So now he’s gone and I buried him,
and that’s all there is to it.

 

Honde se energie en lojaliteit is eienskappe wat ons as mens eintlik by hul kan afkyk. Iemand met ‘n groentetuin en ‘n hond lewe myn insiens ‘n gelukkige lewe. Die lewe sal nie sonder probleme wees nie, maar die hond sal alles wat gebeur meer draaglik maak. (Alhoewel die hond somtyds die groentetuin self sal verwoes.) Daar is ‘n spreekwoord wat die volgende idee vasvang: as jy min van jouself dink – kry dan ‘n hond en as jy te veel van jouself dink – kry dan ‘n kat. ‘n Hond se verwelkoming is iets wat elke persoon eenmaal in hul lewe moet ervaar. In ons wêreld van manipulasie, hoop ek dat hul dit nooit reg sal kry om die impuls, wat die hond teen jou laat opspring, uit te teel nie.

Van honde en leibande

kan mens werklik iets vertrou
wat jy aan ‘n mensgemaakte leiband hou
dieselfde ding wat die band afkou
en gate onderdeur die grensdraad grou

my buurman had ‘n Calvinistiese hond
wat kwyl as die kerkklok lui
en net ‘n streng dieët
van hondepille en Pavlov-pudding kry

my ander maat se honderas, sê hy
is wetenskaplik bepaal
jy sien sommer die simmetrie
wanneer Wagter die koerant
uit die posbus gaan haal

hoe kies ‘n mens ‘n hond
om aan ‘n leiband te lei
want net miskien
lei die brak dalk vir my

elke hond kry sy dag
party honde kry twee
watter hond sal ek verkies
om tussen my en helshonde
in te tree?

 

Honde blaf regoor die wêreld eintlik eenders, maar die mens probeer dit in sy eie taal interpreteer. Dit beteken eintlik dat dieselfde hond op twee verskillende manier kan blaf.
Hier is ‘n paar voorbeelde:
Afrikaans: blaf-blaf; woef-woef
Arabies: hau-hau; how-how
Sjinees (Mandaryns): wang-wang
Engels: woof-woof; ruff-ruff; arf-arf
Frans: wouaff-wouaff; ouah-ouah; whou-whou
Koreaans: mung-mung; wang-wang
Spaans: guau-guau; gua-gua; jau-jau
Sweeds: voff-voff; vov-vov

Ons leef in ‘n wêreld vol teenstrydighede en semantiese kontras, maar dit is wat die samelewing interessant maak. Mense gooi vullis in die strate as hul skoner strate wil hê. Honde wat vrot dinge eet, kan ‘n wond gesond lek. Persepsies van regskonsepte word verskillend gesien deur verskillende mense in dieselfde land. Geneeskundiges wat bewustheid oor Ebola doen en sodoende lewens probeer red, word vermoor deur die mense wat hul probeer red. Kindersiektes is die gevaarlikste vir volwassenes en honde vrek as gevolg van katgriep. Die hond is lief vir en lojaal aan elkeen  wat ons as goed of sleg interpreteer en klassifiseer. Hulle hoef nie om verskoning te vra as hul vir iemand blaf wat hul nie vertrou nie. Hul bly ‘n unieke voorbeeld van onvoorwaardelike liefde in ‘n samelewing wat daardie konsep stelselmatig uitgeteel het.

Pootnota:
1.Gaan loer gerus na die volgende mooi voorblaaie van die New Yorker Book of Dogs:  http://www.brainpickings.org/index.php/2012/11/07/the-big-new-yorker-book-of-dogs/
2. Die effek van aardverwarming en ontbossing op honde:

(Bron: http://gadabout-blogalot.com/2010/04/04/real-effects-of-global-warming-climate-change-and-deforestation/)

Bronne:
1. Internet. http://boards.straightdope.com/sdmb/showthread.php?t=679237
2. Internet. http://en.wikipedia.org/wiki/Dogs_in_religion
3. Internet. http://www.poemhunter.com/poem/a-dog-has-died/
4. Internet. http://www.psychologytoday.com/blog/canine-corner/201211/how-dogs-bark-in-different-languages
5. Joubert, M. Splintervlerk. Pretoria: Protea Boekhuis, 2011

Prente:
1. His Master’s Voice deur Francis Barraud
2. http://gadabout-blogalot.com/2010/04/04/real-effects-of-global-warming-climate-change-and-deforestation/

Bookmark and Share

6 Kommentare op “Wicus Luwes. Oor honde en hul halsbande”

  1. Leon Retief :

    Wicus, ‘n bufferplakker wat ek eenkeer gesien het: Lord, help me to be the man my dog thinks I am.

  2. Wicus Luwes :

    Goeie een, Leon. Het lanklaas n goeie bumpersticker gesien, maar ek onthou die volgende stelling oor honde & katte: dogs have owners, cats have staff

  3. Mal oor die bumper sticker, Wicus! Wie kan dit nie beaam nie?

  4. Gisela Ullyatt :

    Mooi blog, Wicus. Ek het veral die gedeelte oor jou hond wat so langs jou bed geslaap het roerend gevind. Hierdie beskrywing van ‘n ontslape hond het my laat dink aan ‘n pragtige gedig deur Charl Cilliers (apologie aan Charl oor sommige van die inkorrekte afkappings aan die einde van versreels; die kommentaarspasie breek dit op):

    ‘A Corgi Nearing Death From Cancer’

    One day she began to swell,
    her stomach bloating,
    and her breath began to smell
    of death: she walked as if floating.

    Unsteady on her feet,
    she’d pretend she was not
    on her way to het bowl to eat:
    when she faltered she’d simply squat

    as if wanting to urinate.
    She lay in the darkest corner under the bed.
    Eventually stopped drinking and hardly ever ate,
    though she always appeared to be overfed.

    She made no sound of complaint.
    Never went to her spot where she sunned
    herself normally near the door. As the faint
    glow in her eyes grew fainter she increasingly shunned
    the light, but still her every breath
    was a rasping growl against the skulking prowl of death.
    (Collected Poems:229)

    Mary Oliver het ook ‘n bundel in 2013 gepubliseer genaamd ‘Dog Songs’. Tematies handel dit slegs oor honde, maar natuurlik terselfdertyd oor soveel meer. Ek haal ‘n kort gedig hier aan:

    ‘If you are holding this book’

    You may not agree, you may not care, but
    if you are holding this book you should know
    that of all the sights I love in this world –
    and there plenty – very near the top of
    the list is this one: dogs without leashes.

  5. René Bohnen :

    ‘n Hond bly maar ‘n goeie spieël. Dankie vir hierdie blog en gedigte. Ek kan my kopie van “Bloodsong” nie nou dadelik opspoor nie, maar as ek reg onthou het Leon de Kock daarin ‘n gedig oor ‘n hond – ek dink haar naam is Lucy…?

  6. Wicus Luwes :

    Dankie vir die kommentaar Gisela en René. Ek geniet altyd die boeke / gedigte wat mense in die kommentaar noem en het al ‘n paar in die verlede aangekoop. Jul noem weer ‘n paar wat ek op my wenslys kan sit.

  •