Joan Hambidge. Huldeblyk : Charles Fryer (1946 – 2014)

Charles Fryer  (1946 – 2014)

Ek het intiem met Charles Fryer saam gewerk met my bundels Geslote baan (1988) en Lykdigte (2000).

Ook het hy die satire Die swart sluier (1998)  versorg met die gekke buiteblad deur Piet Grobler. Die satire het hy gate uit geniet. Dit was ook my eerste kennismaking met Susan Bloemhof, wat later sou sorg vir etlike ontwerpe vir my waarvan die hoogtepunt vir my Lykdigte bly.

In 1988, so om ag die aand lui my foon. Dis Charles. Geslote baan gaan moreoggend drukkers toe en hy wil net weet of ek gelukkig is met ‘n woord wat ek in ‘n gedig gebruik het.

Stipleser. Nougeset. Met proewe waarop sy ronde handskrif staan.  Oor hierdie bundel het hy vir my geskryf:”Die gedigte is subtiel. Maar onder alles kan ‘n mens die pyn voel prik.” Hierna het ek hom beter leer ken en ‘n hele paar keer met hom en Petra Grütter tee gedrink en Danie van Niekerk, toe die hoof van Tafelberg, leer ken.

Hierna het ons paaie (tydelik) geskei en toe ek met Interne verhuising in1995 na hom toe is, was hy nie gelukkig met die bundel nie. Ek het dit later uitgegee by Kagiso, wat my roman Die Judaskus gepubliseer het.

My grootste waardering vir Charles het egter in 2000 gekom met die bundel Lykdigte. Ons gaan vir oulaas die bundel deur. Charles se horlosie is afgehaal en hy sit met ‘n potlood en werk aan die bundel.

“Hierdie gedig is nie klaar nie, Joan,” gee hy raad op sy sagte manier. Ons het ook altyd ‘n speelse, grappige manier van gesels gehad.

Die gedig lui aanvanklik so:

14  Vraag

Wie het die een oog van Nefertiti uitgekrap?

Sodat sy blind moes uitkom aan die anderkant?

Dit handel oor die dood van my kollega, Maggie Mezzabotta, dosent in Klassieke Tale aan die UK en iemand met wie ek gereeld kon gesels oor klassieke verwysings. Sy is een Sondagoggend oorlede toe sy in Fresnaye afgery het en ‘n man oor ‘n rooi robot gejaag het. Haar eggenoot, ‘n bekende veearts, het ‘n ruk later op die ongeluk afgekom.

Charles stuur my na die aangrensende kantoor waar ek die gedig in een sitting klaarskryf. Na Maggie se dood, het ek en haar man en twee ander vriende na ‘n wynplaas gegaan. Haar man stukkend oor haar dood, verduidelik vir ons by ‘n wynplaas dat ‘n bottel wyn aan “bottelskok” ly indien dit te gou oopgemaak word.

Vraag

Vir Margaret Rosabel Mezzabotta

.

Ontydig, voortydig jou vertrek

na ‘n ander onbekende oord.

Die siel, onthou ek vanoggend,

is soos ‘n wyn wat stadig moet verouder.

Iets glo soos bottelskok

as dit te gou ontkurk of geskink word.

Jy sou my dadelik kon reghelp:

dit staan in die Egiptiese Boek van die Dood.

Om jou dood te begryp

Is ‘n hiëroglief onontsyferbaar

in ‘n donker gang onbegaanbaar.

Die dood keer woordordes om,

dit laat ons terugkyk, onthou, selfs gryp

na klein momente van die toeval –

soos hoe ek eenmaal jou bril skoongemaak

het, oor duister simbole met jou praat.

Vir hierdie lykwaak, groot gelykmaak,

is ek as digter onvoorbereid,

nee, eerder onbereid.

Die sogenaamde consolatio of vertroosting

van ‘n medium (Kyk, sy stuur ‘n roos)

of die flikker van ‘n kers

maak niks ongedaan nie. Wat beteken ontval.?

Dat jy te vinnig – na my sin –

paradyswaarts

moes gaan. Dat jou siel

oënskynlik sonder voorbereiding

weggeruk is. Dat rose verwelk,

kerse ophou flakker…

Ek wou nog vra:

“Wie het die een oog van Nefertiti uitgekrap

sodat sy blind moes uitkom aan die ander kant?”

*

Charles Fryer was in eie reg ‘n uitmuntende digter.

Weens ‘n siekte moes hy voortydig sy werk verlaat – ‘n slag vir die uitgewersbedryf as sodanig, want Charles Fryer kon ‘n boek agter die manuskrip gaan haal en regruk.

Dit is jammer dat hy ons ook ontval het sonder dat sy digkuns volle wisdom bereik het. Ek sal hom altyd eer vir hierdie treffende gedig:

 

Oulaas

–          Charles Fryer

Dis oulaas stap, Pa:

jy in die middel en ons,

stram in kispakke,

maar regop, jóú seuns,

elk aan ’n handvatsel.

 

Dis half swaar, Pa.

 

Ons is gewoond saamstap

en die suidewind

is bitterbos en reën.

 

Voor die kampie op die bult

wag die volk

om vir Pa te sing,

hul gesigte dobberend in die middagson.

 

Pa het dié tyd

altyd

’n bietjie gaan skuinslê.

 

Calvinia, 1970

*

In 1978 verskyn Rooiwielwa – ‘n helder debuut.

Hoe jammer is dit dat daar nie nog verse uit hierdie wonderlike mens gespruit het nie. Dalk was dit omdat hy al sy energie in ander se skryfwerk geplaas het …

Joan Hambidge

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Joan Hambidge. Huldeblyk : Charles Fryer (1946 – 2014)”

  1. Heilna du Plooy :

    Met my eerste bundel, Die donker is nooit leeg nie, het ek Charles leer ken as ‘n werklike kundige uitgewer, iemand wat die poësie nie net ken nie, maar ook voel. Toe hy siek geword het, het hy ‘n leemte gelaat in die hele boekebedryf, en nou sal sy plek heeltemal leeg wees vir sy naby mense en vir ons wat hom van verder af geken en waardeer het.

  •