Joan Hambidge. Charles Fryer (1946 – 2014)
Charles Fryer (1946 – 2014)
Ek knip my naels so eksie-perfeksie
vir my indertydse uitgewer
vir die man met die groot-groot lag
vir hóm met die bont-bont das
in wie se netjiese hart
soveel onrustige digters kon pas.
Sonder horlosie op die arm
potlood in die hand
stip hy nougeset
in die kantlyn vrae aan
oor ‘n rymdwang, slot
of onsoepele toespel.
Nou is die sirkel voltooi
en die o-klanke
van mý klein rooiwielwa
sou hom beslis nie ontgaan.
Heengaan, weggaan, trustaan?
Gaandeweg verlaat ons tog dié spel.
In die omtes van jou groot-groot hart,
vergeef tog dié ongebreidelde smart:
“van julle sal ek niks meer vra,
ek gaan saam met die rooiwielwa.”
Dit prik, dit vlym, dit skryn
hierdie afskeid aan die Hantam-man.
© Joan Hambidge /2014
Ai! Dis ‘n man wat ek altyd graag wou ontmoet. Dit was my nie beskore nie. Maar deur hierdie woorde en dié van ander leer ek hom beter ken. En ek treur oor iemand wat ek nooit geken het nie. Soos om na vreemde foto’s te kyk, en om klein grepies wat vir jou ook waar is, daaruit te neem.
Ek salueer jou, Joan, vir hierdie egte hulde aan hom.
Joan jou poësie is vir my so veelkantig, vol weerklanke en intiem soos asem. Baie dankie.