Breyten Breytenbach. Twee vertaalde verse van Octavio Paz

Voor die Begin

(‘n moontlike lesing van Octavio Paz se Antes del Comienzo)

 

deurmekaar klanke        onsekere ontwaking

nog ‘n dag breek aan

dis ‘n kamer in die skemer

en twee liggame uitgelê

in my voorkop is ek verdwaal

in ‘n doolhof sonder mure

ure slyp hulle lemme

maar langs my haal jy asem

diep begrawe en afsydig

vloei jy sonder om te beweeg

onbegryplik wanneer ek jou dink

jou met my oë aanraak

met my vingertoppe sién

drome skei ons

en bloed maak ons één

ons is ‘n vloed van polsende ritme

onder jou ooglede

word die son se saad ryp

die wêreld

is nog nie dáár nie

die tyd self twyfel

al wat wáár is

is die warmwees van jou gefluisterede huid

in jou asem beluister ek

de instoot-gety van syn

die vergete lettergreep van die begin

___________________________________________________________________________

 

1 Januarie

(‘n vertaalde vers van Primero de Enero van Octavio Paz)

 

Die jare se deure gaan oop

soos dié van ‘n stiltetaal

as vredesoktaaf

na die onbekende.

Laasaand het jy my gesê:

môre

sal ons tekens moet versin

‘n landskap verteken, ‘n raster begin

op die dubbelblad

van papier en van die dag,

môre moet ons opnuut

die werklikheid van hierdie wêreld

uitvind.

Die skeute, die skure, die skuite.

 

Dit was al laat toe ek my oë oopmaak.

Vir die oogknip van ‘n oomblik

het ek aangevoel wat die Asteek af moes wag

wanneer hy vanaf die kim se kruin

lê waak op uitkyk

vir die onsekere terugkeer van tyd

deur skeurtjies in luglyne.

 

Nee, die jaar het verjaar.

Dit het die kamer volgespoel

so te sê betas deur my blik.

Tyd, sonder ons hulp of behoefte,

het geskik

in ‘n patroon presies soos gister s’n-

huise in die leë straat,

sneeu op die huise,

stilte oor die sneeu.

 

Aan my sy was jy

nog in die sykokon van nagdrome

bewaar. Daglig het jou verbeel

maar jy het nog nie aanvaar

om só geïnventeer

te wees nie.

Miskien ook nie hierdie inventaris nie.

Jy sou in ‘n ander dag bly vaar.

Jy was aan my sy

en ek het jou gewaar

vir die oogknip van ‘n sekonde

soos seile, soos die sneeu

stildromend tussen verskynsels.

 

Tyd, sonder sin of sonde of hulp

verskulp huise, strate, bome

slapende vroue.

As jy jou oë oopmaak

sal ons op stap gaan, nog ‘n keer

langs die ure en hulle versinsels,

en al dralende tussen verskynsels

getuig en getuie wees

van tyd en haar vervoeginge.

In die vroegte sal ons weer

hierdie dag se deure oopmaak –

die skeure, die skeute, die woordjiesmaatontwaak –

en die onbekende binnegaan.

 

© Octavio Paz

Vertaling deur Breyten Breytenbach / November 2014

Bookmark and Share

19 Kommentare op “Breyten Breytenbach. Twee vertaalde verse van Octavio Paz”

  1. Andries Bezuidenhout :

    Dankie hiervoor, Buiteblaf. Paz sou vanjaar 100 gewees het. Dit lyk of hierdie jaar 1968 se deure weer oopmaak.

  2. Buiteblaf Breytenbach :

    Mag jy reg voorspel, Andries. Dit wil tog lyk asof iets daar aan die verskuif is. Maar die ‘gevestigde belange’ in die diepgesetelde misdaadbestel strek wyd: Texas floreer op die dwelm- en gyselaargeld wat noordwaarts stroom, Amerikaanse bankiers poeier kokaïene oor hulle sigare en die wapenvervaardigers vryf hulle wit handjies…

    Soveel temeer rede waarom Paz en Fuentes en Aridjis en andere weer gelees moet word. Ons kan by hulle leer. As ek dit nie mis het nie, het Paz sy ambassadeurspos bedank na die doodskiet en die marteling van studente in Meksikostad in 1968?

  3. Desmond :

    Ek het pas hierdie gelees:

    http://america.aljazeera.com/opinions/2014/11/mexico-pea-a-nietoprotestsdemocracy.html

    “Since Peña Nieto took power, the U.S. government has not issued a single condemnation of corruption or human rights violations in Mexico. This in a context in which leading international organizations such as Human Rights Watch, Article 19 and dozens of local NGOs have documented a scandalous increase in the repression of protest and violence against the press during the present administration.

    The muted response by the U.S. government to the Sept. 26 student massacre is part of a broader trend of looking the other away.”

  4. Andries Bezuidenhout :

    Dis wat my aan 68 laat dink het, Breyten. Ek sien grootskaalse hervorming aan die polisie is aangekondig. Sien is seker glo. My indruk is dat die probleem by die verstrengeling van plaaslike en deelstaat politici, bendes en die polisie se eiebelang sit. Finish en klaar, om ‘n voormalige polisiehoof ter plaatse aan te haal. Desmond, ek dink die Amerikaners is heel tevrede met die privatisering van Meksiko se oliereserves. Dis dalk deels hoekom hulle tjoepstil is. As hulle daardie olie begin pomp gaan Venezuela bv. met minder beweegruimte sit. Dis van my Meksikaanse kollegas se verklaring vir die situasie.

  5. Andries Bezuidenhout :

    Ek sien dis die artikel op Al Jazeera se punt. Goed opgesom.

  6. Desmond :

    Andries, wat ’68 betref: ek weet nie hoe dinge vernader het sedert ek in Aug. 2012 daar was nie, en dit hang seker ook af van waar mens jou in die land bevind, maar ek het destyds ten spyte van groeiende protes tog ‘n gevoel van vuisvoos-moedeloosheid gekry, eerder as revolusionêre energie. Miskien was dit maar net Morelia, ‘n plek waar die dwelmoorlog intens gevoer word en die gemaskerde polisiemanne met hulle M-16’s (of is die M-16 ‘n vliegtuig?! – ek vergeet nou) die strate nogal ‘n onheilspellende atmosfeer kan gee. (Miskien moes ek nie Bolano se 2666 voor die tyd gelees het nie….)

  7. Desmond :

    Verander, nie vernader nie. Maar dalk sommer vernader ook.

  8. Hilda :

    “in jou asem beluister ek
    de instoot-gety van syn
    die vergete lettergreep van die begin”

    So mooi.

    ___________________________________________________________________________

  9. Buiteblaf Breytenbach :

    Mens word weer daaraan herinner hoe ‘n groot verbeeldings- of projeksieruimte Meksiko was vir so baie van die denkbewegings en kreatiewe strominge van die 20ste eeu en vroeër – vanaf die bevrydingsveldtogte deur werklike revolusionêre groepe tot die Zapatistas en Chiapas; vanaf Trotski wie se skedel daar met die yspik oopgekloof is deur die Katalaan in opdraag van Stalin (en laat ons in die verbygaan ook ‘n gedagte afknyp vir die Suid-Afrikaanse ‘andersdenkende’ revolusionêre wat eweneens fisiek deur die Stalinisme in Moskou geëlimineer is); met perdekommando’s (‘n paar Meksikane het glo saam met die burgers geveg in die Boere-oorlog) en pagteropstande en militante vakbonde; as toevlug vir uitgewekenes soos Marquez en Craven en Eisenstein en Breton en Duchamp en Lowry en Neruda; waar so baie van die modernistiese wisselwerking tussen intieme beeldskepping en visuele geskiedskrywing ‘n beslag gekry het in die werke van mense soos Frida Kahlo en haar paddakoning, Riviera; en tot hoe ‘n mate dit ‘n ontvlugtingsruimte was, ‘suid’, vir Amerikaanse afvalliges en dwelmdromers – die Beats, en ek dink veral aan Burroughs… Ek is uitermate trots daarop dat my enigste volwaardige bundel in Spaans in Meksiko gepubliseer is, vertaal deur ‘n Meksikaan.

    En hoe vinnig het dit in duie gestort! Mens kan skaars glo dat Paz vanjaar 100 jaar oud sou wees… (Wanneer ek skielik onthou dat ek hom nog meegemaak het hoor ek my litte kraak soos dié van ‘n kruiwa wie/wat se stembande te dun geraak het vir ordentlike dienslewering, of soos proppe geskiet uit leë sjampanjebottels by die viering van vervloë en nou verslane utopieë, voor ons ook verneder is deur die vernaderende verbruikerspornografie.) ‘n Vriend vertel dat Paz in sy laaste jare ‘n baard gehad het en ‘n kluisenaarsbestaan gevoer het in sy woonstel in Meksikostad, omring deur die boekery wat sy leefreise ingebind het, en al die dooie vlinders tussen die blaaie.

  10. Leon Retief :

    Breyten ek het nogal gedink ek soort van ken Stalin se geskiedenis maar weet niks van SA revolusionere wat deur hom uitgewis is nie. Wie was hulle?

  11. Buiteblaf Breytenbach :

    Leon: Ek weet self nie hoeveel van die Trotskiste en ander ‘deviationists’ daar omgekom het nie. Skat dit was enkele gevalle. Mens sal moet gaan kyk na dokumentering van Suid-Afrikaanse Trotskiste. Ek sou begin by die werk van Baruch Hirson – maar daar is ook ander.

  12. Desmond :

    Een voorbeeld, Albert Nzula van Aliwal-Noord: volgens amptelike rekords in 1934 in Moskou oorlede aan natuurlike oorsake, maar sy kamerade het geglo hy is vermoor omdat hy ‘n Trotskis was.

  13. Ook Anna Seghers was in Meksikaanse ballingskap (1941 – 1947). Hier het sy ‘Der Ausflug der toten Maedchen’ ( The Excursion of the Dead Girls)
    geskryf, die antifascistiese Klub Heinrich Heine, El Libro Libre (uitgewer)
    en die maandelikse kultuurtydskrif ‘Freies Deutschland’ gestig.

  14. Andries Bezuidenhout :

    Ook Lazer Bach. Gillian Slovo skryf oor hom in “Every Secret Thing”.

  15. De Waal Venter :

    Ek het die twee gedigte wat Breyten van Octavio Paz, “Antes del Comienzo” en “Primero de Enero”, vertaal het, baie geniet. Dit is in aantreklike, soepel Afrikaans herskep en kom na my mening baie na aan Paz se “bedoeling” met die gedigte. Hierdie vertalings verryk ons Afrikaanse letterkunde.

    Nota: Ek is met vakansie en ver van my gewone rekenaar. Ek is ongelukkig nie in staat om leestekens soos kappies ens. Aan te dui nie. Ek hoop die leser sal my verskoon. DWV

    Om die leser se leeservaring verder uit te brei, wil ek kommentaar lewer op die vertaling. Let op, dit is nie kritiek nie. Die opmerkings is bedoel om te wys daarop watter magiese proses vertaling is en hoe wydomvattend die herskepping (vertaling) proses eintlik is.

    Hierby twee uittreksels uit professor Peter Newmark se boek om ons te help perspektief kry. (Newmark is een van die belangrikste grondleggers van moderne vertaalkunde).

    A Textbook of Translation. Peter Newmark. Prentice Hall 1988.
    Chapter 17. Translation Criticism.

    “Thus there are various aspects of translation criticism: you can assess the translation by its standard of referential and pragmatic accuracy, but if this is inappropriate and rather futile, because there is so much to ‘correct’ you can consider why the translator has apparently transposed or changed the mood so drastically; whether any translator has the right to change ‘en meme temps immobile et comme entre …dans une espece d’eternite’ to ‘unchanging and fixed in a sort of eternity’. How far is a translator entitled to get away from the words, to devote himself to the message, the sense, the spirit?

    “Creative translation usually has the following features: (a) a ‘surface’ translation is not possible; (b) there are a variety of solutions, and ten good translators will produce this variety; (c) the translation is what the writer meant rather than what he wrote. The solution closest to the original is the best pragmatically, has to be weighed against referential accuracy, and there is no clearly superior version.”

    Samevattend: die vertaling van ‘n literere teks kan verskeie (ewe goeie) resultate lewer; en ‘n geslaagde vertaling gee eerder die skrywer se “bedoeling” weer, teenoor ‘n “getroue” weergawe wat nader aan die leksikografiese aard staan van die gedig.

    Kom ons kyk hoe verskillende benaderinge verskillende weergawes van die Spaansee gedig in Afrikaans kan lewer.

    Ruidos confusos, claridad incierta
    Breyten: deurmekaar klanke onsekere ontwaking
    Die Spaanse woord “claridad” beteken letterlik “helderheid”, “opklaring” ens.
    Hier het die vertaler besluit dat die digter bedoel het dat dat ‘n “ontwaking” bedoel word, dus “‘n helder word” van die denke.

    y dos cuerpos tendidos
    Breyten: en twee liggame uitgelê
    Letterlik: twee liggame uitgestrek.
    Deur die keuse van “uitgele” voer die vertaler hier ‘n suggestie in van sterfte. Lyke word “uitgele”, maar lewende mense strek uit.

    por un llano sin nadie
    Breyten: in ‘n doolhof sonder mure
    Letterlik: op ‘n vlakte sonder enige mense
    Die vertaler wil die doelloosheid en hulpeloosheid van die antagonis in die gedig beklemtoon deur “vlakte” te vervang met “doolhof” en “sonder mense” met “sonder mure”.

    entrañable y remota
    Breyten: diep begrawe en afsydig
    Die verteller verkies om “entranable” as “diep begrawe” te vertaal terwyl dit letterlik iets is soos “liefderik”, “sjarmant” ens.

    Dit is genoeg voorbeelde. Daar is ander ook. Ek dink dit is duidelik dat ‘n ander bekwame vertaler ‘n weergawe van die gedig sou kon gee wat die leser nogal ‘n heel anderse leeservarings sou gee. Dit laat mens besef hoe wyd die grense van ‘n gedig se “landskap” le. Verskeie reisigers sou verskeie reiservaringe kon he, indien hulle die gedig binnereis.

  16. Buiteblaf Breytenbach :

    Baie dankie, De Waal Venter. Natuurlik is daar doelbewuste ‘afwykings’, ‘interpretasies’ en ‘n ‘wegbeweeg’. Of dit werk word aan die leser se waardering of belewenis oorgelaat. Soos met die werke van Darwish is die oorspronklike vir my ‘n vertrekpunt. Darem binne perke, hoop ek. Ek is nie veel van ‘n ‘vertaler’ nie en probeer my ook nie uitgee as sodanig nie. (Het baie respek vir die taak van ‘n vertaler wat met ander oorwegings moet werk, en nogtans iets moet maak wat ook lewe in die aankomstaal.) Dis hoekom ek na my goed verwys het as “moontlike lesings”. Of dit enigsins die nodige eerbied betoon aan Octavio Paz se “bedoeling”… wel, ek respekteer sy werk, hou trouens baie daarvan, maar sal nie wil bevestig dat ek altyd die bedoelings en verwysings snap nie.

  17. Desmond :

    Tja, bedoelings… is dit nie Afrikaans vir ‘penalty shoot-outs’ nie?

    (Maar ernstig: die ‘afwykings’ is fassinerend; dankie De Waal.)

  18. maria snyman :

    “vertalings verryk ons Afrikaanse letterkunde” sê De Waal. Vertaling dien ‘n wye verskeidenheid doele – en vanuit ‘n Derrideaanse perspektief, ‘n buitensporige wye verskeidenheid doele wat ek meen nog nie na behore besef word nie.

    Een daarvan is “the resurrection of the ghost or of the glorious body that rises, rises again [se relève] – and walks,” soos Derrida dit effens enigmaties en hoogdrawend aan die einde van “What Is a “Relevant” Translation?” stel (in nabootsing, dink ek, van Benjamin wat ek elders gelees het sy tekste doelbewus enigmaties afsluit), terwyl ‘n ander doel baie eenvoudiger en nederiger is, naamlik, dat “a word is added (…), a word in a word” tot die teikentaal, soos JD dit vroeër stel omtrent sy vertaling van Hegel se Aufhebung met relève. Hy gebruik relève dan ook om die woord “seasons” in Portia se opmerking oor “mercy seasons justice” te vertaal …

    “vlakte” bevat nou ook ‘n spoor van “doolhof” – ek wonder al lank oor die baie ruimte in hierdie land van goud cum sonskyn waarmee ons so geseënd. Is dit nie dalk wat ons so laat ronddool nie, ons ons
    “Dearly-Bought Freedom” so laat “Squander” nie in J.C.Buthelezi (2003) se woorde (n.a.v Clinton du Plessis se “Hallusinasie – onthou is drogbeelde” se versreël “Derrida dekonstrueer die dooie Thembisile”).

    Portia het gesê/”geargumenteer”:
    “But mercy is above the sceptred sway;
    It is enthroned in the heart of kings,
    It is an attribute to God himself;
    And earthly power doth then show likest God’s
    When mercy seasons justice.”

    Ek wonder soms of genade nie verwar word met speel vir tyd in hierdie land nie. Ek moet ook bieg ek het “The last king of Scotland” toevallig onlangs te siene gekry en het redelik rof geruk gevoel.

    Op ‘n ligter noot en terug by vertaling: Lank terug, toe ek 26 was, was ek op reis deur Europa waar ek in elke stad, wat ek my “pick-ups” genoem het, gemaak het – jong mans met tyd op hande geskool in die kunste (Madrid was ‘n uitsondering, daar het ek vir ‘n paar dae saam met ‘n Duitse meisie wat beide Spaans en Engels magtig was gereis). In Duitsland was al my “pick-ups” betrokke in vertaling. Dit was vir lank ‘n grappige staaltjie, maar nou begin ek wonder hoeveel vertalers ‘n reisiger in hierdie land met sy baie tale sal “optel”?

    “”The Task of the Translator,” fortleben and überleben: prolonged life, continuous life, living on, but also life after death” skryf Derrida oor wat hy meen elke vertaling verseker, naamlik die “survival of the body of the original” en waar “survival” verstaan moet in “the double sense that Benjamin gives it.”

    Vertaling hou gevolglik uiteindelik ook verband met die feit van die dood as daardie moment wat mens jou liggaam en werke finaal en absoluut in die hande en genade (“mercy,” “merci”) van die ander oorlaat, soos Miller (2006) mens in sy teks “Derrida’s Remains: Derrida’s Memorials or Works of Mourning for Others Function Doubly. They Put the Dead Friend in His or Her Place. They Also Say the Best That Can Be Said for the Dead and Work to Ensure Their Survival” daaraan herinner.

    “die skeure, die skeute, die woordjiesmaatontwaak –
    en die onbekende binnegaan.”

    Man, dit laat mens mos dink! En ook verskriklik mooi (fisies en verstandelik) vir my:

    “al wat wáár is
    is die warmwees van jou gefluisterede huid
    in jou asem beluister ek
    de instoot-gety van syn
    die vergete lettergreep van die begin”

  19. De Waal Venter :

    Derrida het belangrike dinge te se oor die proses van vertaling. Ek haal aan uit JL Kruger se artikel, “Die vertaling van spore: dekonstruksie en die praktyk van vertaling”.

    NOTA: Ek is tans met vakansie en die rekenaar tot my beskikking kan nie leestekens verskaf nie. Ek maak verskoning vir die ongerief.

    Kruger is verbonde aan School of Languages, North-West University, Vanderbijlpark.

    Uit: “Opsomming”.

    “In hierdie artikel poog ek om te toon dat dekonstruksie en die gebruike daarvan nie gesien moet word as ‘n oproep tot veelvoudige interpretasie of relativisme in vertaling nie, maar dat dit eerder ingespan moet word as ‘n kragtige analitiese vaardigheid; ‘n manier van lees en skryf met verdiepte aandag. Om tot hierdie gevolgtrekking te kom bespreek ek ‘differance’ en die spel van spore in die konteks van die kont(r)ak tussen twee tekste wat in ‘n verhouding van vertaling tot mekaar staan. Verder voer ek aan dat veelvoudigheid soos vervat in Derrida se ‘differance’, nie ‘n voorskrif is nie, maar dat die vertaler bewus moet wees van die bestaan van veelvuldigheid (veelvoudigheid) en in ag behoort te neem dat die leser ook deelneem aan en bydra tot hierdie veelvuldigheid.”

    Aldus Kruger.

    Ek wil net hierby onderstreep dat Kruger se stelling dat “die leser ook deelneem aan en bydra tot hierdie veelvuldigheid” insiggewend is. Vertalers se veelvoudige interpretasies spruit uiteindelik daaruit dat hulle eers lesers is voor, en terwyl, hulle vertaal.

    WEBRUIMTE VIR VERTALINGS

    Dit lyk vir my of vertaling uit ander tale in Afrikaans al hoe meer beoefen word in die afgelope tyd. Ek dink dit is verblydend, aangesien daar baie voordele vir ‘n literatuur verbonde is aan vertaling.

    Daarom het ek ‘n nuwe webruimte op die been gebring waar Afrikaanse vertalings gelees kan word. Tans is daar net vertalings wat ek gedoen het. Maar ek verwelkom vertalings deur ander vertalers. As jy iets op die webruimte wil publiseer, stuur dit aan dewaalv@gmail.com

    Ons publiseer vertalings uit enige taal, nie net Europese tale nie. Streng kopiereg word deur die vertaler voorbehou op alle gepubliseerde materiaal.

    Hier is die skakel na die webruimte: http://spaansafr.wordpress.com/

  •