Vertaling deur Hendrik van Blerk: “Soonest Mended” (John Ashbery)

Stiller Beter


 

Beswaarlik verdra, lewende op die kantlyn

In ons tegnologiese maatskappy, is ons altyd uit noodsaak gered

Op die rant van vernietiging, soos heldinne in Orlando Furioso

Voor die tyd aanbreek om weer heel voor te begin.

Daar was altyd donderweer in die bosse, ‘n geritsel van kinkels,

En Angelika, in die Ingres-skildery, oorweeg

die kleurvolle dog klein monstertjie digby haar toon asof sy wonder of die vergeet

Van die hele spulletjie dalk op die uiteinde die enigste oplossing sou wees.

En dan het die uur altyd aangebreek wanneer

Happy Hooligan in sy geroeste groen voertuig

Die weg af geploeg kom, net om te verseker als is O.K.,

Maar teen daardie tyd was ons in ‘n ander hoofstuk en verward

Oor hoe om hierdie jongste inligting te ontvang.

Was dit inligting? Was ons dit nie eerder aan die uitreageer

Ten bate van iemand anders nie, gedagtes in ‘n denke

Met oorgenoeg ruimte vir ons probleempies (so het hulle begin lyk),

Ons daaglikse penarie oor kos en die huur en rekeninge om te betaal?

Om dit alles te verminder tot ‘n klein variant,

Uiteindelik vry uit te stap, minuskuul op ‘n reuse plato –

Dít was ons ambisie: Klein wees en helder en vry.

Helaas taan die somer se energie vinnig

‘n Oogwink en dis weg. En nie meer

Kan ons die nodige rëelings tref, eenvoudig al dan nie.

Ons ster meer skitterend miskien toe dit nog water bevat het.

Nou is daar selfs daarvan meer geen sprake nie, maar slegs

Van vasklou aan die harde aarde ten einde nie afgegooi te word nie,

Met ‘n droom soms, ‘n visie: ‘n janfrederik vlieg

Oor die boonste hoek van die venster, jy vee jou hare weg

En kannie mooi sien nie, of ‘n wond sal teen

Die skatlike gesigte van ander flits, amper soos:

Dít is wat jy wou hoor, so hoekom

Het jy daaraan gedink om na iets anders te luister? Ons is almal praters

Dis waar, maar onder die gepraat lê

Die bewegende en die wil nie beweeg wees nie, die los

Betekenis, slordig en eenvoudig soos ‘n dorsvloer.

 

Dié was dan enkele hindernisse van die weg,

Tog al het ons geweet dat die weg hindernisse wás en niks anders nie

Was dit steeds ‘n skok toe, amper ’n kwarteeu later,

Die helderheid van die reëls jou bygeval het vir die eerste maal.

Hulle was die spelers, en ons wat toe nog gesukkel het met die spel

Was blootweg toeskouers, ofskoon onderworpe aan sy wisselvallighede

En bewegend daarmee saam die tranerige stadion uit, op skouers gedra, eindelik.

Nag na nag keer hierdie boodskap terug, herhaal

In die flikkerende gloeilampe van die lug, bo ons gestel, ons ontneem,

Nietemin oor en oor ons s’n tot die einde wat agter betekenis is,

Die wese van ons sinne, in die klimaat wat hulle koester,

Nie vir ons om te besit, soos ’n boek, nie maar vir bystand en soms

Afstand, alleen en radeloos.

Maar die fantasie maak dit ons s’n, ‘n soort draadsittery

Opgehef tot die vlak van ‘n estetiese ideal. Dié was oomblikke, jare,

Stewig van die realiteit, gesigte, noembare gebeurtenisse, soene, heldedade,

Maar soos die vriendelike begin van ‘n meetkundige reeks

Nie té gerusstellend nie, asof betekenis eendag opsy gegooi sou kon word

As dit ontgroei is. Beter, het jy gesê, om só te bly koes

In die vroeë lesse, aangesien die belofte van geleerdheid

Waan is, en ek het saamgestem, en bygevoeg dat

More die sin van wat alreeds geleer is, sal wysig,

Dat die leerproses op hierdie wyse uitgebrei word, sodat vanuit hierdie standpunt

Nie een van ons ooit ’n kollege-graad behaal nie,

Want tyd is ‘n emulsie, en waarskynlik is die gedagte aan nimmer grootword

Die skitterendste soort van volwassenheid vir ons, tans in ieder geval.

En jy sien, ons was altwee reg, alhoewel niks

Op ‘n manier op niks uitgeloop het; die beliggamings

Van ons gehoorsaamheid aan die reëls en tuis rond kuier

het – wel, in sekere sin, “goeie burgers” van ons gemaak,

Die tande borsel en so meer, en leer om die welsyn te aanvaar

Van die moeilike oomblikke soos hulle uitgedeel word,

Want dít is aksie, hierdie nie seker wees nie, hierdie agtelosige

voorbereiery, skeef saai van sade in die voor,

Aanstaltes maak vir vergeet, en ewige terugkeer

na die vasmeer aan die begin, daardie dag so lank gelede.

 

 
(c) Vertaling: Hendrik van Blerk / Februarie 2015

Bookmark and Share

5 Kommentare op “Vertaling deur Hendrik van Blerk: “Soonest Mended” (John Ashbery)”

  1. Waldemar Gouws :

    Jy het baie moed, Hendrik, baie dankie hiervoor. Dis ‘n hewige (helse) teks om te vertaal, so met betekenis se losse sedes en al.

  2. Joan Hambidge :

    Dis ‘n baie ingewikkelde gedig om aan te pak.
    Die konvensie in Afrikaans is kleinletters aan die begin wanneer ‘n rl oorgaan na ‘n volgende.
    Op die rant van vernietiging?
    Ek dink hierdie vertaling het moontlikhede.

  3. Buiteblaf Breytenbach :

    is dit nie juis die konfênsies wat mens tot op die rant van die afgrond druif nie?
    😉

  4. Hendrik van Blerk :

    Dankie aan almal vir die terugvoer; en die stof tot nadenke.
    Joan, hoe nodig dink jy is dit om by die Afrikaanse reelkonvensies te hou, eerder as by die van die Engelse oorsprong? Ek was nie bewus van die konvensie nie (moet ek erken!); tog hou ek, nou dat jy my aandag daarop vestig, van die staatlikheid van die hoofletters – miskien ‘n soort staatlikheid wat Ashbery iewers besig is om op subtiele (en dalk ‘camp’) wyse te ondermyn?
    Ek wil ook graag meer hoor oor jou vraag ‘Op die rant van vernietiging’? Die reel het my baie lank aan die dink gehad…daar is ook ‘aan die rant’ (‘on the edge’/’at the edge’?)

  5. Joan Hambidge :

    Hendrik, inderdaad: aan die voet is aan die rant …
    Albei kan dan miskien …
    Dis ‘n ingewikkelde vers wat ‘n mens laat nadink.

    http://yeshivathsharashim.org/jesaja-7-8a-op-de-rand-van-vernietiging-en-redding-gods-handen/

    Vir die Bybelse verwysing.

  •