poësiewerkwinkel
wroeging angs verlange wring en tuimel in die klein
huis
waarvan sy lees in haar gedig in die hoek
van ’n strofe woer ’n
tuimeldroër dáár is jou beeld
sê die werkwinkelleier en bekroonde digter
smyt maar die abstraksies uit daardie beeld vol vuil wasgoed
sê genoeg van wroeg haar oë skiet vol trane
nee dis meer as wasgoed sy voel
vasgekeer
presies die tuimeldroër sê die bekroonde
nee die agterkamer wat hul huur haar man
(haar onderlip die beef) wat jare lank al skryf
’n boek oor kernfisika vroeg afgetree bedank so sonder
eintlik pensioen sy boek gaan egter opskudding bring glo sý
hou huis en sonder hulp dis klein genoeg hy wou nooit kinders hy is só
’n eksplosiewe persoonlikheid punteneurig opvlieënd ’n fiksasie
uit waarskynlik die anale fase volgens ouderwetse freud ’n psigoloog
is sy ja opgelei maar wou nog
altyd eintlik
skryf
haar uit opkropsels úít
in skryfwerk
in gedigte (“gedugte” dik die padda in haar keel)
in gedigte agterdeure vind
vervat ’n ander werkwinkelganger sag haar sin die vers
as bres dáár is nou ’n beeld roep ’n derde
reël vir reël die trap af
straat
toe
bou ’n vierde voort
nee (’n snik as tussenwerpsel)
’n trap vanuit ’n kelder boontoe
bó-uit sy is hier om uit te vind
hóé
almal die bekroonde swyg
toe: hy was ook al in die
ondergrond van die gemoed berading bied die uitkoms waaraan
dit die verskuns moet
ontbreek dit weet sy mos (professioneel)? ’n gedig stel nie
die regte vrae het nie raad nie redes nie
dit is oukei sê sy sy ís vermoed net skrywe
moet sy úitskryf tot oukei toe
die werkwinkelgedigte swart op wit
die reël op reël die strofes in gelid
staan voor ons oë bot- ’n roltrap stop-
gesit in ’n dolleë stasiehal
© Bernard Odendaal / Mei 2015
Sjoe, Bernard, dis ‘n kragtoer van ‘n gedig! Die leser ervaar die hortende gedagtegang/asemhaling/sinskonstruksies op eie tong. Baie geslaagd!
Interessante gedig.