Nuwe publikasie: bladspieël (marlise joubert)

bladspieël      

Marlise Joubert

In bladspieël – die digter se agste digbundel – verken Marlise Joubert in ’n kenmerkend vloeiende styl temas soos verganklikheid en verval, onthou en verewiging, liefde en familieverhoudings, reise en maatskaplike bewuswording, digterskap en die skryfproses. Die digter is intens bewus van die  naderende dood, maar hierdie besef maak die belewenis van die lewe des te meer intens, die verlange om te blý leef des te meer dringend. bladspieël is ’n sensitiewe en sensories bewuste verkenning van die eie psige en belewenisse. Die vroulike ervaringswêreld is ’n belangrike voedingsbodem vir die bundel. Sensoriese gewaarwordinge, asook primordiale prikkels vanuit die onderbewussyn, word op ’n bedrewe wyse tot taal gemaak.

Die gedigte verwoord, en word as’t ware ’n afbeelding van die ervarings van die digter as belewende subjek, en betrek só die leser op intieme wyse by haar ervarings van die alledaagse.

Marlise Joubert is gebore in Elim, Limpopo, en het grootgeword in Warmbad (Bela Bela). Sy het Biblioteekkunde en Filosofie aan die Universiteit van Pretoria studeer, was joernalis, en daarna bibliotekaresse van die Departement Visuele Kunste se biblioteek aan die Universiteit van Stellenbosch. Sy is die outeur van 11 publikasies (8 digbundels en 3 romans), die samesteller van 4 Versindaba bloemlesings en ’n antologie met Engelse vertalings van gedigte van 30 Afrikaanse digters wat in 2014 verskyn het. Sy is die mede-webmeester van versindaba.co.za. Vanaf 2001 tot 2006 het haar radiodramas eerste, tweede, en derde pryse in die Sanlam/RSG radiodramakompetisie gewen. (Human & Rousseau, R185, Datum van verskyning: Mei 2015)

agenda

die gestringde gedig
moet ʼn lang gedig wees

ʼn rankplant teen ʼn wit
ringmuur aan die een kant op

en aan die ander kant soos slingers
webbe om jou voete af

sodat jy nie kan beweeg nie, vasgevang
om die enkels van begeerde ontroering

so moet die gedig jou mettertyd tot
stilstand bring, tot absolute stilte laat basuin

sodat jy die woorde word, self die klank
en die ritme van ʼn verlore tyd, die afstand

van vrugwater na sloot
en later slegs ʼn hartklop

wat jou opraap ver verby
die stingelende dood

(Uit: bladspieël. marlise joubert)

Bookmark and Share

6 Kommentare op “Nuwe publikasie: bladspieël (marlise joubert)”

  1. Carin Lawrie :

    Dis ‘n besondere, ontroerende gedig hierdie.

  2. Maria Snyman :

    Baie mooi voor-blad, Marlise – sien uit na die lees.

  3. Leon Retief :

    Kan nie wag om dit te lees nie Marlise!

  4. Marie Bredenkamp :

    Opgewonde om dit in die hande te kry!

  5. Hartlik geluk, Marlise! Die gedig raak my diep. Pragtige voorblad!

  6. Marlise, grote geluk! Sien baie uit om jou sensuele verse te lees.

  •