Gert Rautenbach. Gilgamesh

Gilgamesh

Gilgamesh

Daar is ‘n storie van ‘n koning wat die wêreld geplunder en gode gespot het, maar in die proses die enigste belangrike ding in sy lewe, nl. sy vriend, verloor het. Hierdie dood het sy lewe verander en die res daarvan het hy gewy aan die soeke na ontsterflikheid. Eers as ‘n ou man, met sy krag en jare uitgewoed, het hy die kans gekry om dit te verdien, en gefaal.

Die koning was Gilgamesh en dié manjifieke storie is, hoe ongelooflik ookal om te glo, die oudste van alle (behoue) verhale: dis reeds daar wanneer die gordyn lig oor die geskrewe wêreldbeskawing, tussen die Tigris en die Eufraat, 4000 jare gelede.

Mite… storie… godsdiens… letterkunde… geskiedenis? Ja, alles. Maar ook die eerste weerligstraal wat in ‘n bottel gevang is en vir die mensdom behoue gebly het.

In die jare tussen 1800BC – 1200BC word Gilgamesh/Bilgames in verskillende stories genoem wat later saamgeweef is in die eerste lang epos van rondom 3000 reëls wat vandag die “Epos van Gilgamesh” genoem word.

Die antieke wêreld het die “standaardvorm” van die latere Gilgamesh-verhaal toegeskryf aan ‘n man genaamd Sin-liqe-unninni, en alle studente wat leer skryf het was verplig om dit uit te skryf totdat hulle blou in die gesig was. Maar danksy hierdie breinlose, repeterende werk is dit die oudste van alle eposse wat gerekonstrueer kon word.

Die 3000 reëls is omtrent vier keer die lengte van Raka deur NP van WyK Louw. Studente het dit geskryf op elf groot kleitablette en vandag word elke tablet as een hoofstuk beskou. Altesame 73 gedeeltelike tablette bestaan vandag nog wat dele van dieselfde verhaal vertel, maar in verskillende tale en wat uit verskillende eeue dateer. Daaruit kon alles behalwe omtrent 600 reëls van die epos gerekonstrueer word. [Die jag na hierdie verlore Gilgamesh-reëls is ‘n aktiewe ondersoekveld.]

Van hierdie tablette was die grootste vonds 35 stukke wat in een antieke opgrawing in die dorp Nineveh in Irak in die 1850’s ontdek is en na Engeland verskeep is (waar dit vandag nog is). Teen 1870 is dit vir die eerste keer vertaal.

Dit was so ‘n groot sensasie dat die eerste minister van Brittanje, Gladstone, ontbied is om na die eerste vertaalde voorlesing daarvan te luister. Vir baie jare was die groot nuus dat dit die storie van ‘n Groot Vloed en Ark, baie soortgelyk aan die een wat later in die Boek Genesis sou verskyn, bevat het.

Maar Gilgamesh is baie meer as dit: dis nie ‘n epos van gode en mites en die oorsprong van dinge nie, maar van menswees en die vrees vir die dood, so duidelik dat my hare rys.

.

I. Die koms van Enkidu

He who saw the Deep, the country’s foundation

He saw what was secret, discovered what was hidden

He brought back a tale of before the Deluge

He came a far road, was weary, found peace

And set all his labours on a tablet of stone

Dit is die heel eerste woorde, en verwys natuurlik na die held, Gilgamesh. Hy is ‘n gehate tiran en sy mense smeek die godin Aruru om ‘n teenvoeter vir hom te maak – ‘n tweede Gilgamesh.

Let him be a match for the storm of his heart

Let them vie with each other, so Uruk may be rested

The goddess Aruru, she washed her hands

Took a pinch of clay, threw it down in the wild

In the wild she created Enkidu, the hero

Offspring of silence

.

Enkidu is ‘n mensdier wat in die wildernis rondloop, maar met dieselfde krag en vermoë as Gilgamesh, as jy hom net daar kan weglok. ‘n Jagter ontdek hom, stel Koning Gilgamesh in kennis en verskeie planne word gemaak om dié kreatuur te nader, want almal is baie bang.

Alles in Gilgamesh gebeur in “sewe dae”: sewe dae van drome, sewe dae was om skoon te kom, sewe dae siekte, sewe dae van reën, sewe dae sonder slaap… En om dit alles mee af te skop: sewe dae van seks.

Die lafhartige mans huur Shamhat, die hoer, om saam met ‘n jagter na die wildernis te gaan en Enkidu te verlei met sewe dae van seks. En soos Gilgamesh voorspel, word hy daarna deur die ander diere in die wildernis verwerp. [Die val van Enkidu deur ‘n vrou en sy uitwerping het baie parallelle met Adam en Eva in die Tuin van Eden.]


II. Die mensword van Enkidu

Enkidu verlaat die wildernis saam met Shamhat en verander van dier na mens, hy word gewas, geskeer en aangetrek. Hy leer van beskawing en wanneer hy hoor van Koning Gilgamesh se praktyk van droit-de-signeur besluit hy om die koning te konfronteer. ‘n Groot geveg ontstaan tussen Gilgamesh en Enkidu, presies waaroor die mense gedroom het.

Maar die uiteinde is ‘n fiasko vir hulle. Die twee mans is ewe sterk en word vriende!

Gewapen met Enkidu as sy gids besluit Gilgamesh om die wildernis binne te dring en die gevreesde monster Humbaba dood te maak. Enkidu smeek hom om dit nie te doen nie, maar die Koning behandel sy besware met minagting.

Why my friend, do you speak like a weakling?

With your spineless words you make me despondent

As for man, his days are numbered,

Whatever he may do, it is but wind

.

III. Voorbereidings vir die reis

Ninsun, Gilgamesh se ma, vra die Son God:

Why did you afflict my son Gilgamesh with so restless a spirit?

He will face a battle he knows not

He will ride a road he knows not

Sy weet dat, meer as die fisiese gevaar, die uitdaging van Humbaba ‘n uitdaging aan die gode is, want dit was hulle wat Humbaba as bewaker van die Sederberge aangestel het. Die ou wil net nie luister nie.

.

IV. Die reis na die Sederberge

Op pad na die Sederberge is Gilgamesh skynbaar nie meer so dapper nie. Hy het nagmerries elke nag, waarna hy wakker word en Enkidu hom moet troos.

I saw a Thunderbird in the sky

Up it rose like a cloud, soaring above us

It was a visage distorted

Its mouth was fire, its breath was death.

There was also a man, he was strange of form

And stood there in my dream.

Enkidu verduidelik dat dit alles senuwees is voor die groot geveg, ’n geveg waarin hulle (twee teen een) sekerlik sal seëvier. Daar is ‘n sekere ironie aan Gilgamesh se woorde aan die einde van hierdie episode:

Why, my friend, do we speak like weaklings?

Was it not we who crossed all of the mountains

Dieselfde woorde waarmee hy Enkidu aan die begin beskaam het, maar why do you speak like a weakling, het nou why do we speak like weaklings geword. Enkidu dink seker speak for yourself, maar sê niks nie.

.

V. Die Geveg met Humbaba

Enkidu lei Gilgamesh na Humbaba, wat sy oë nie kan glo nie!

Come, Enkidu, you spawn of a fish, who knew no father

Hatchling of terrapin and turtle, who sucked no mother’s milk!

In your youth I watched you, but near you I went not

In treachery you bring me before Gilgamesh

And stand there, like a warlike stranger

Hierdie woorde maak Enkidu woedend, want hy weet dit is waar, en wat hy doen is verraad, maar dis nou te laat. Wanneer hy sien Gilgamesh se moed begewe hom is dit hierdie keer hy wat sy vriend se woorde terug in sy gesig gooi:

Why my friend, do you speak like a weakling?

With your spineless words you make me despondent

My friend Humbaba who guards the forest of Cedar

Finish him! Slay him! Do away with his power.

Hulle kry dit reg om die arme Humbaba uiteindelik te verneuk, te oorrompel en toe te vermoor, maar die hele episode laat ‘n slegte smaak in die mond – veral vir Enkidu, wat deur sy skuldgevoel geteister word. Om sy gewete te paai bou hy daar en dan, op die plek, ‘n tempel aan die gode.

.

VI. Ishtar en die Bul

Die triomfantlike Gilgamesh en Enkidu keer terug met die kop van Humbaba. Die godin Ishtar is verlief op Gilgamesh, maar hy herinner haar:

You loved the speckled allallu-bird,

but struck him down and broke his wing;

now he stands in the woods crying “My wing!

You loved the lion, perfect in strength

but for him you dug seven pits and seven.

You loved the horse, so famed in battle,

but you made his destiny whip, spur and lash.

Gilgamesh gaan nie makgemaak word nie – nie deur god of vrou nie. Die woedende Ishtar stuur die sterregroep Taurus, die Hemelbul, uit die hemel na die aarde om haar te wreek, maar na nóg ‘n geveg maak Enkidu en Gilgamesh die Hemelbul ook dood. Klink wonderlik, sukses na sukses, maar die sesde tablet eindig met onheilspellende woorde:

At night the men lay asleep on their beds,

and Enkidu as he slept was having a dream

Enkidu rose to relate the dream,

saying to his friend:

.

VII – Die dood van Enkidu

Enkidu droom dat die gode besluit het om hom te straf vir sy verraad van Humbaba.

Hierdie is een van die ontroerendste dele. Enkidu vervloek nou die dag van sy beskawing – die jagter en die hoer Shamhat wat hom weggeneem het van sy onskuldige bestaan as dier; die tempel wat hy vergeefs langs Humbaba se lyk gebou het:

Come Shamhat, I will fix your destiny

A doom to endure for all eternity

A household to delight in you shall not acquire

Never to reside in the midst of a family

Gilgamesh kalmeer sy vriend, en die dieselfde patroon speel af soos in die reis na die Sederberge. Elke nag droom Enkidu ‘n nagmerrie dat hy gaan sterf en elke keer troos Gilgamesh hom.

Maar op die sewende dag is Enkidu dood.

.

VIII – Enkidu se begrafnis

Die hele tablet gaan oor die rouproses van Gilgamesh oor sy vriend:

I shall weep for Enkidu my friend

Like a hired mourner-woman I shall bitterly wail…

.

IX – Gilgamesh se swerfjare

I shall die, and shall I not then be as Enkidu?

I am afraid of death, so I wander the wild

To find Uta-napishti, son of Ubar-Tutu

Die legende was dat daar een man op aarde was, Uta-napishti, wat nooit gesterf het nie. Vir Gilgamesh was dit nou die enigste ding wat saakgemaak het: om hierdie man te vind en sy geheim van onsterflikheid te kry.

Langs die pad word hy afgeraai om sy tyd hiermee te verspil, maar Gilgamesh is verbete. Hy kom verby die Skerpioenmanne en jaag met die “pad van die son” na die plek waar die son sak voordat dit donker word: die Tuin van Juwele. Gilgamesh is die eerste mens wat hier uitkom.

.

X. By die einde van die wereld.

Hier by die einde van die wêreld, waar die son sak en opkom, ontmoet die see en die land en daar woon ‘n eensame godin wat hom uiteindelik vertel (nadat sy geluister het na sy storie oor Enkidu) van die bootman Ur-shababi wat hom oor die see na Uta-Napishti se eiland kan neem.

Die bootman help Gilgamesh oor die see, maar waarsku hom:

Enkidu indeed they took to his doom.

But you, you toiled away, and what did you achieve

You exhaust yourself with ceaseless toil

you fill your sinews with sorrow

Bringing forward the end of your days

Man is snapped off like a reed in a canebrake

The comely young man, the pretty young woman

all too soon their prime Death abducts them

No one at all sees Death,

no one at all sees the face of Death,

no one at all hears the voice of Death

Death so savage, who hacks men down

The abducted and the dead, how alike is their lot!

Alles val egter op dowe ore. In elk geval, Gilgamesh het gearriveer. En Uta-Napishti staan vir hom en wag.

Een van die Gilgamesh-tablette

.

XI. Ontsterflikheid geweier

Uta-napishti en sy vrou is die enigste oorlewendes van die Groot Vloed. Die god Ea het hom betyds oor die vloed gewaarsku waarna hy ‘n ark gebou het en dit met diere gevul het. Die mense het gedink hy is mal. Dit het vir sewe dae en sewe nagte gereën… wag ‘n bietjie, jy het mos al hierdie storie gehoor. Ja, dis presies dieselfde een wat later in die Boek Genesis sou verskyn as Noag se Ark. [Dit is ook ‘n samesmelting van ‘n ander Babiloniese gedig, Atram-hasis, wat vertel van die gode se herhaaldelike pogings om die mensdom uit te wis]

Uta-napishti het ontsterflikheid gekry hiervoor, maar die slegte nuus vir Gilgamesh is dat dit ‘n eenmalige gebeurtenis was.

Maar hy kry een kans van sy eie: as Gilgamesh vir sewe dae kan wakker bly (dis al), sal hy ontsterflikheid kry. Terwyl hy hierdie toets doen bak Uta-napishti se vrou elke dag vir Gilgamesh ‘n brood wat hy moet eet, maar hy raak uiteindelik aan die slaap:

So she baked for him his daily bread-loaf, she lined the head

noting on the wall the days that he slept

His first bread-loaf was all dried up

the second was leathery, soggy the third

the fourth flour-cake had turned to white

the fifth had cast a mould of grey,

fresh-baked was the sixth

the seventh still on the coals:

then he touched him and the man awoke

Gilgamesh word wakker met sewe droë brode, as bewyse van sy mislukking dat hy sewe dae lank geslaap het. En so is dit: ontsterflikheid word geweier. Daar is geen tweede kans nie.

The life that you seek you never will find

when the gods created mankind

death they dispensed to mankind

life they kept for themselves.

Daar is ‘n troosprys: op pad terug, op die bodem van die see groei die “plant van vernuwing” – ‘n plant wat die krag van jou jeug herstel. Gilgamesh duik af en pluk tydens sy rit terug saam met die bootman, maar hy verloor dit ‘n dag later. ‘n Slang seil daarmee weg terwyl hy slaap.

En Gilgamesh eindig nou, as ‘n ou man, met absoluut niks om te wys vir sy omswerwinge nie:

Now far and wide the tide is rising,

Having opened the channel I abandoned the tools:

What thing would I find that served as my landmark?

Gilgamesh gaan saam met die bootman terug na sy stad, Uruk. As die gode hom niks gaan gee nie, ook geen kinders nie, sal hy nie smeek nie. Sy eie dade, die stad wat hy geskep het, sal sy troos wees en sy verhaal sal sy ontsterflikheid wees.

He brought back a tale of before the Deluge

He came a far road, was weary, found peace

And set all his labours on a tablet of stone

Hierdie oomblik is vir my die geboorte van kuns: die besef dat die menslike liggaam gaan sterf maar dat menslike skeppings onsterflik kan wees.

En Enkidu? Hy het uiteindelik tog die mense van al daardie destruktiewe energie verlos – nie met sy koms nie, maar met sy heengaan. Want dit was ‘n vriendskap wat geskep en verloor is, die begrip van menslike behoeftes en beperkings, wat die hart van ‘n tiran verander het.

En dit alles 3500 jaar gelede.

.

Bron: The Epic of Gilgamesh, Penguin Classics (1999). Vertaal deur  Andrew George.

© Gert Rautenbach / 2015

Bookmark and Share

5 Kommentare op “Gert Rautenbach. Gilgamesh”

  1. Leon Retief :

    Baie interessant Gert, dankie. Probeer gerus Irving Finkel se boek “The Ark Before Noah” in die hande kry – dit is geweldig interessant en gee so ‘n effe ander kykie oor die instruksies vir die ark.

    http://blog.britishmuseum.org/2014/01/24/was-the-ark-round-a-babylonian-description-discovered/

  2. Gert :

    Dankie Leon, ek sal gaan kyk.

  3. Er :

    Ontploffende leesstof gert

  4. Maria Snyman :

    Mooi opsomming Mnr Rautenbach.

  5. Dankie Maria, E

  •