Nini Bennett. Biomimese in “Karnaval en Lent”
En dan het daar ‘n derde ding by my opgedaag: Ons, die mens, het niks uitgevind nie, ons ontdek alleen wat van vóór die Oerknal af bestaan. Ons BMW of selfoon is geheel en al gemaak van alles wat reeds bestaan van lank voor die mens daar was. Alles is gemaak millennias voor ons daar was. Die wiskunde het voormenslik reeds bestaan, lank, lank voor daar mense was om dit te ontdek. Alles wat ons maak, sg. “uitvind”, is na-maak of om-maak. In plaas daarvan dat ons dit nederig erken, maak dit ons arrogant en ontken ons die Goddelike wat agter alles sit. – TT Cloete tydens ‘n onderhoud met Marlies Taljard op Versindaba oor sy laaste digbundel, Karnaval en Lent.
Cloete verwys hier inderwaarheid na die verskynsel biomimese (biomimetics, ook bekend as biomimicry).
Op 29 Julie vanjaar het dié ikoniese digter en literatuurwetenskaplike ons op die ouderdom van 91 jaar ontval. Sy nalatenskap is ryk: enkele fasette van sy oeuvre is onder meer belig deur Phil van Schalkwyk (Cloete as metafisiese digter); die digter se bemoeienis met die natuur- en eksakte wetenskappe (Johann Lodewyk Marais); en Cloete as religieuse digter (Bernard Odendaal), om ‘n paar te noem. In dié blog word die verskynsel biomimese ondersoek binne die groter wetenskaplike verband, soos dit gestalte vind in enkele gedigte in Karnaval en Lent.
Aldus Wikipedia is biomimese of biomimiek die nabootsing van modelle, sisteme en elemente vanuit die natuur met die doel om komplekse probleme op te los. Die term is ontneem uit die Griekse bios (lewe) en mīmēsis (mimese of akteurskap). Lewende organismes het verwikkelde en goed aangepaste strukture, materiale en bloudrukke met verloop van tyd gevorm deur natuurlike seleksie. Biomimese lei dus tot nuwe tegnologie wat deur biologiese nabootsing geïnspireer is.
Biomimese kan saamgevat word in drie kenmerke: (1) Die nabootsing van modelle in die natuur help die mens om komplekse prosesse en uitdagings die hoof te bied, en ondersteun en voorspel ook toekomstige wetenskap- en ingenieursontwerp; (2) Die natuur dien as maatstaf en stel ‘n ekologiese standaard om menslike innovasies mee te toets. Ná miljoene jare van evolusie weet die natuur wat werk en wat lewensvatbaar is; (3) Die natuur as mentor: biomimese open nuwe, maar ‘ou’ beproefde weë om die natuur te bestudeer tot voordeel van die mens. As ‘n jong wetenskap dikteer die natuur die mens se eeu-oue oorlewingsmeganismes en wetenskaplike ontwerpe. ‘n Eenvoudige voorbeeld hiervan is Leonardo da Vinci se sketse oor die anatomie van voëls as ‘n potensiële model vir ‘n “vliegmasjien” – en wat op die lange duur aanleiding gegee het tot vliegtuie in die moderne lugvaart. In die werk van Eugène Marais is daar verwysings na biomimese, maar dit was lank voor laasgenoemde die status van erkende wetenskap geniet het.
As digter van jukstaposisie, handel Karnaval en Lent in die breë oor die polêre spanning tussen feestelike oordaad en vergrype (karnaval) teenoor die vastyd en reiniging (lent): beide begrippe is gemunt uit die Rooms-katolieke liturgie, en die bundel skets laasgenoemde oordaad en weerhouding na aanleiding van die skildery op die omslagontwerp, Die geveg tussen Karnaval en Lent (Pieter Brueghelde). Die wonder van die skepping word vergestalt in verwysings na ‘n skepper wat moeilik gepeil of geken kan word: só word God die “Onbegryplike” (65); die “Onnoembare” (160); die “Aanwesige Afwesige Krag” (139); die “kosmiese argitek” (116); die “Onbemande Krag” (64) en die “Ontoeganklike” (53) genoem. In alle gevalle staan die mens en sy wetenskaplike innovasies relatief tot ‘n skepper wat rééds die bloudrukkonstruksies van alles wat leef en bestaan, eerste geskape het.
In die gedigte “hutspot” (64) en “die heilige” (53) word daar na die bekende Fibonacci-reeks verwys as ‘n goddelike, matematiese kodering tydens die skeppingsproses. Die doelmatigheid van ‘n skeppingsplan blyk ook uit die vers, “die sigbare Ondeursigtige” (58-59), waarin mikroskopiese wonders ‘n fabelagtige verloop neem. In “mi gruwelt” (119) druk die spreker die versugting uit om weg te kom van gesofistikeerde wetenskaplike kennis en bloot terug te keer na ‘n simplisitese vorm van lewe, soos ‘n kameeldoring of sneeukristal, enige iets behalwe ‘n “afgerigte geoefende geadresseerde mens” (121). Reeds in die voorafgaande gedig, “lewensafrigters” (114), kom die gedagte dat die moderne mens terugkeer na die natuur om weer te leer lewe, aan die bod. As gevolg van die lengte van die gedig word slegs strofes 1, 9, 15, 21, 27, 28 en 31 aangehaal:
dit was voor iphones en ipods
voor cop 17 en brics
luukse internasionale sekskonferensies
wat swart wolke koolsuurgas sweet
[…]
ons het sy naaldekokers nog nie nagedoen
in tjoppers en helikopters
en sy haaie in boeings nie
[…]
Hy was die enigste kosmiese argitek
[…]
die blouwalvis was in daardie tyd die enigste
duikboot saam met die dolfyn en die orka en
die walvishaai
[…]
nou moet ons nuwe woorde maak vir nuwe pyn
wie het eerste maal die woord psigose gesê
neurose of stres of trauma
of die eufemisme selfdood
[…]
afgerigte afrigters rig afrigters af
My God my God ontferm U oor ons
om ons soos honde en perde
katte en papegaaie af te rig
om te lewe
Soos in die gedig “lewensafrigters” maak Cloete ‘n paar anachronistiese spronge deur die geskiedenis van die mensdom in die gedig “ploeg” (73), waarin die gedagte van biomimese waarskynlik die duidelikste gestalte vind. Ek fokus op strofes 1, 6, 7, 9 en 17-19:
ons almal ploeg met die Gans Andere se kalwers
al dwaal ons onder allerlei byname vir hom
die diere en insekte al die voëls met hulle musiek
[…]
die muskiet boor deur my vel
op soek na my kosbare bloed
met sý onnavolgbare patent
dan óns
van die mislukte Neanderthalers en Denisovans
af van die ale Eva af
tot by Apple en Jobs
tot nou toe vandag toe ploeg ons met sy kalwers
[…]
die vroeë Sanjagter met sy pyl en boog
die Khoekhoen en die landbouer
die joernalis wat jou inlig oor wat gebeur
oral op aarde die ingenieur met sy selfkoesterende
naam wat vir die goudsnuffelaar ‘n mynskag boor
[…]
grootdoenerig
my model T-ford
my bioniese intelligensie
my robotmens
my span wat speel vir die robot club
ek Higgs
is kerfies op Sý stok
ons het nie genoeg name vir die Gans Andere
se doen nie
ek is die androïde wat self niks kan uitvind nie
wat alleen kan maak van wat ek ontdek het
wat reeds klaar daar is
gegee toe die oerknal binnensmonds
ingedink is
ingevind is
Die mens is in wese slegs ‘n “androïde”; metafories ‘n bedryfstelsel wat sedert sy primitiewe bestaan, bloot deur biomimese bestaande skeppingspatrone internaliseer, naboots en eien as sy eie.
‘n Siening wat aansluit by biomimese, is die vergestalting van sacred geometry (of heilige meetkunde) in Karnaval en Lent, soos dit voorkom in onder meer “priesterwerk” (142), en in “onontsyferbare syfers” (139-141). Die geometriese bloudruk van die getal ‘6’, soos dit in verskillende heksagonale skeppings uiting vind, word besing.
Cloete se bemoeienis met die wetenskappe en sy sistemiese lewensiening bied baie stof tot nadenke – en braakveld wat nog ontontgin lê. In die programgedig (“Vooraf”) in Karnaval en Lent beweer die digter tereg:
die metafoor is die hart en siel van die gedig dus
is dit onbetwisbaar dat alle wetenskap op ‘n gedig berus (11)
Bibliografie
Cloete, T.T. 2014. Karnaval en Lent. Kaapstad: Tafelberg.
https://en.wikipedia.org/wiki/Biomimetics
http://ngm.nationalgeographic.com/2008/04/biomimetics/tom-mueller-text
LitNet Akademies-resensie-essay: Soos die “groot outydse digters” – Karnaval en Lent, TT Cloete
Dankie Nini vir jou beligting van hierdie aspek van TT Cloete se werk.
“Die metafoor is die hart en siel van die gedig dus
is dit onbetwisbaar dat alle wetenskap op n gedig berus”
Op ‘n ander manier kan mens ook sê dat lewe self op ‘n gedig berus. Meer as chemiese prosesse is lewe ‘n stelsel van kodes -‘n taal dus- ‘n doelbewuste konstruksie soos ‘n gedig. Want alle taal is die produk van bewussyn…
Baie dankie vir die lees en interessante kommentaar, Gerhard!
Die gedagtegang van biomimese het reeds sy eerste verskyning in Angelliera gemaak. Vreemd genoeg het Cloete die verskynsel vroeg herken en sy eie gemaak, maar dit nooit ‘n naam gegee nie. Dalk het hy dit so verkies – om dinge te eien aan ‘n beskrywing en nie aan ‘n soort nie. Deur met hierdie omsigtigheid om te gaan met die gedagte het hy dit miskien juis verruim sonder om poësie te reduseer ter wille van wetenskap.
Nini, puik blog!
Baie dankie, Gisela!
Dankie vir insiggewende kommentaar, Mellet.
TT Cloete staan alreeds uit onder talle van sy portuurgroep, maar na hierdie blog, kyk ek met nuwe oë na sy laaste werk.
Sy mensekennis, kennis oor lewe en die goedheid van `n godheid is fenomenaal. En hy was ‘n nederige mens, em dit laat die nuwe kennis wat jy vir ons hier ontsluit net nog meer spesiaal maak. Puik stuk met baie om oor na te dink…en weer die bundel te gaan lees!