Jacobus van der Riet. ‘n Gedig van Kawafis
Die Sewe Heilige Jongelinge – deur Kontantinos Kawafis
.
Die Sewe Heilige Jongelinge van Efese
wat na ‘n spelonk gevlug het om teen die vervolging
van die heidene te skuil, het daar geslaap
en die volgende dag ontwaak. Die volgende dag vir hulle,
maar intussen het byna twee eeue verbygegaan.
Een van hulle, Jamblichus, het die volgende dag ontwaak
en gegaan om brood op die mark te koop
en hy sien toe voor hom ‘n ander Efese,
geheel geheilig met kerke en kruise.
En die Sewe Heilige Jongelinge het hul verheug
en die Christene het aan hulle hulde en eer bewys
en selfs Keiser Theodosius, die seun van Arcadius,
het vanaf Konstantinopel gekom en ook hy,
die allervrome, het hulle, soos gepas, vereer.
En die Sewe Heilige Jongelinge het hul verheug
oor hierdie skone, Christelike wêreld
wat met kerke en kruise geheilig is.
Maar met alles wat so anders was
en soveel om te leer en te vertel
(en so ‘n groot vreugde wat miskien self ook uitputtend is)
het die Sewe Heilige Jongelinge gou moeg geword,
synde afkomstig van ‘n ander wêreld, byna twee eeue vantevore,
en tydens die gesprek het hulle vaak geword
en hul heilige oë gesluit.
Bo-staande gedig van die Alexandrynse digter Kawafis (of as iemand die Engelse transkripsie van sy van verkies, Cavafy – die Griekse Beta word in Afrikaans as Weta of Wieta uitgespreek) dateer uit 1925 en tel onder sy ongepubliseerde gedigte. Ek het dit op die webwerf van ene John Sanidopoulos raakgeloop (www.johnsanidopoulos.com) en toe die oorspronklike Grieks elders opgespoor. Soos my en Sanidopoulos se vertalings is ook die oorspronklike gedig in ‘n verteltrant en in eenvoudige taal geskryf, en uiteraard wonder ‘n mens in welke mate die gedig as voltooid of onvoltooid beskou kon word. ‘n Kenner van Kawafis sou hier van nut kon wees, wat ek helaas nie is nie.
Wat wel opvallend is, is die mooi chiastiese struktuur, ‘n stylfiguur wat in die Antieke wêreld nie slegs op enkele reëls van toepassing was nie (mooi is die lewe en die dood is mooi), maar op hele gedigte, selfs lang gedigte en volledige prosatekste, soos bv. die Evangelies).
A Die Jongelinge slaap
B Verwysing na die verloop van byna twee eeue
C Veranderinge
D Die kerke en kruise
E Vreugde en verwysing na Christene
F Hulle word vereer
G Keiser Theodosius
F Hulle word vereer
E Vreugde en verwysing na ‘n Christelike wêreld
D Die kerke en kruise
C Veranderinge
B Verwysing na die verloop van byna twee eeue
A Die Jongelinge slaap weer
Hierdie tipe chiasme wat uit herhalende woorde en temas bestaan, is kenmerkend van baie van die Oud-Griekse en Latynse digkuns en is dus heel gepas in ‘n gedig waarvan die verhaal in die derde tot vyfde eeu anno Domini afspeel. In chiastiese gedigte is die sentrale element gewoonlik van besondere belang, en dis hier waar die vername persoonlikheid van Keiser Theodosius die Jongere dan opduik, as ‘n hoogtepunt in die verhaal. Sy teenwoordigheid verleen ‘n bepaalde gravitas aan die gebeure, want ‘n keiser reis nie om dowe neute nie.
Die chiastiese ringstruktuur is uiteraard uitnemend geskik om die sirkelgang van slaap-ontwaking-slaap uit te beeld. In die Grieks is die laaste woord ook, soos in my poging tot ‘n vertaling, “gesluit”, ‘n bekoorlike en gepaste afsluiting.
Die gedig is gebaseer op die verhaal van sewe jong mans wat die vervolging van Christene in die jaar 250 n.C. tydens die bewind van Keiser Decius probeer vryspring het deur in ‘n grot net buite Efese in Klein-Asië te skuil. Daar is hulle deur die vyandige owerhede toegemessel nadat hulle aan die slaap geraak het, en toe die grot omstreeks 434 n.C. per ongeluk oopgemaak is, het hulle ontwaak en ‘n heel ander wêreld, nou Christelik, rondom hulle aangetref, tot hul stomme verbasing. Vanselfsprekend het hul wonderbaarlike slaap en ontwaking tot ‘n opskudding gelei. Hulle het egter gou weer ontslaap en hul graf het dadelik ‘n pelgrimsbesoekpunt geword. Die vroegste literêre verwysings het binne enkele dekades ontstaan. Selfs teen die twaalfde eeu is hul onverganklike liggame nog aan pelgrims vertoon. Eers tydens die sg. Verligting is die gebeure bevraagteken en in twyfel getrek. Meer besonderhede oor die verhaal is beskikbaar by:
https://oca.org/saints/lives/2011/08/04/102195-7-holy-youths-ldquoseven-sleepersrdquo-of-ephesus
Vermelde Sanidopoulos het die historisiteit van die gebeure ondersoek, asook die uitgebreide literêre nalatenskap, en daarvan verslag gelewer by:
http://www.johnsanidopoulos.com/2009/10/historicity-of-seven-sleepers-of.html
Hy noem o.a. dat John Donne en Goethe in hul gedigte na die verhaal verwys, en hopelik sal ons lesers gou vir ons die verwysings kan opspoor. Sou hulle reeds onder die skeptici tel?
Van die os op die jas, ek het ‘n hardnekkige herinnering dat ek baie jare gelede ‘n chiastiese gedig van Breyten Breytenbach onder oë gehad het, vermoedelik op ‘n rymskema (!) gebaseer, maar waar?Vergis ek my of bestaan daar wel so ‘n gedig? Wie kan help? Wie kan bevestig of ek gedroom het of nie?
Baie interessant dankie, Kobus. Klink asof jy al daar was. Ken jy die storie van die Kursk Wortel Ikoon? http://gertrautenbach.blogspot.co.za/2001/01/die-kursk-optog.html
dankie, Gert; ek weet van die Kursk Wortel ikoon, ja, hoewel ek dit nie self gesien het nie; dit is wel baie keer gekopieer. Die ikoon self word nog soms op reis geneem, tot sover as die VSA, as ek dit nie mis het nie.