Anne Carson. Vertaling in Afrikaans

Anne Carson. Vertaal deur/tr. by Maria Snyman

.

God se Geregtigheid

Anne Carson

 

In die begin was daar dae eenkant gesit vir verskeie take.

Op die dag wat Hy geregtigheid moes skep

het God besig geraak met die maak van ‘n naaldekoker

 

en tred verloor met tyd.

Dit was omtrent twee duim lank

met turkoois kolletjies al langs sy rug af soos Lauren Bacall.

 

God het gekyk hoe hy sy klein draadelmbogies buig

toe hy besig raak met die skoonmaak van die transparante kas van sy kop.

Die oogballe gemonteer op die kas

 

het dié en daardie kant toe roteer

soos hy elke hoekie poleer.

Binne-in die kas

 

wat glaserig swart was soos die vensters van ‘n onderdorpse bank

kon God die masjienerie sien gons

en Hy het gekyk hoe die gegons

 

die hele ent langs turkoois kolletjies afreis tot by die punt van die stert

en daarvandaan asemhaal as lig.

Sy swart vlerke het in en uit getril.

 

(God's justice, Anne Carson. Vert. deur Maria Snyman)

 

 

God’s Justice
By Anne Carson

In the beginning there were days set aside for various tasks.
On the day He was to create justice
God got involved in making a dragonfly

and lost track of time.
It was about two inches long
with turquoise dots all down its back like Lauren Bacall.

God watched it bend its tiny wire elbows
as it set about cleaning the transparent case of its head.
The eye globes mounted on the case

rotated this way and that
as it polished every angle.
Inside the case

which was glassy black like the windows of a downtown bank
God could see the machinery humming
and He watched the hum

travel all the way down turquoise dots to the end of the tail
and breathe off as light.
Its black wings vibrated in and out.

(From: “Glass, Irony and God”, Anne Carson. 1995)

Bookmark and Share

6 Kommentare op “Anne Carson. Vertaling in Afrikaans”

  1. Myns insiens is die gedig té verbatim – té woord vir woord – vertaal. Die Amerikaanse ‘downtown’ is bv in Afrikaans die middedorp, en staan in teenstelling met die onderdorp en die bodorp.

    Ook, sit ons iets in Afrikaans eenkant, of sit ons dit opsy?

    Dis bloot my opinie; jammer as dit aanstoot gee.

  2. Maria Snyman :

    Mnr. van Rensburg, dankie vir u terugvoer – u gee glad nie aanstoot nie, inteendeel!
    Ek reageer hier nie soseer om myself kwyt te skel van ‘n te letterlike vertaling nie, maar eerder om die gesprek oor wat ‘n relevante vertaling (Derrida & Venuti 2001) sou kon wees voort te sit.
    Soos ek in vorige gevalle gemaak het, vra ek myself (‘n effe dronk geleesde Derrideaan – ek wag vir die uitslag van dié projek) af: wat is die “onbewuste van die beelde” wat gekies is?

    1. Hoewel ek “middestad” goed ken, is “middedorp” vir my onbekend. Jy het “dorp” toe gegaan as jy “middedorp”toe gegaan het (WAT 2014 – Middelste gedeelte of kern van ‘n dorp wat hfs. uit sakeondernemings bestaan) – ek het op ‘n dorp grootgeword (Polekwane – “Malema is my king!” sê ek altyd as iemand my hieroor uitvra!).
    Die letterlike “onderdorp” was inderdaad vir my bietjie “dodgy” gesien dat daar óf nie banke is/was nie, en óf dat dit nie noodwendig “glaserig swart” is nie. Dat ‘n bank in die Suid-Afrikaanse “onderdorp” wel “glaserige swart vensters” kán hê is moontlik gesien die assosiasie met groter sekuriteit.
    So, die beeld van ‘n “onderdorpse bank” is vir my sterker en meer betekenisvol in Afrikaans as ‘n “middedorpse bank” – laasgenoemde beteken vir my niks, ek ken nie so iets nie. Bo- en onderdorp is ook duidelik en deeglik swart-op-wit metafisies – ek kry nie die indruk dat God drie (en dus moontlik ook vier …) kategorieë van dae gehad het nie …

    2. “Opsysit” is inderdaad meer korrek en dit sou goed kon werk in terme van klank gesien die o’s in die volgende twee reëls in “Op” en “God”, maar dit só rasioneel!
    Die WAT (2014) stel: 1 Vir ‘n bep. doel reserveer, apart van iets anders hou of spaar: Spaar is die grondslag vir sekuriteit. Selfs op die kleinste inkomste moet mens geld opsysit (Boerd. S.A., Aug. 1972, 77). Sommige mense verkies om een dag opsy te sit vir al hul Kersinkopies (Volksbl., 21 Des. 1998, 12). Die Departement van Bosbou (het) … 1,25 miljoen hektaar as potensiële bosbougrond opsygesit (Tegniek, 29 Apr. 1988, 62).

    Wat God hier doen is nie volgens my baie rasioneel nie …

    Eenkantsit is vir my sterker, beeldender – die daad van apart maak – al is dit ook net in ‘n figuurlike sin.

    WAT (2014): (figuurlik) Apart, afgesonderd, afsydig, afkerig van geselskap, nie deel hebbende aan die omgang met ander mense nie: Hy hou hom liewer eenkant, vermy die geselskap van andere, verkies om alleen te wees. Jy hou jou eenkant, kastig verhewe bo ons (W. van der Berg). Annekie is so eenkant en stil (Jochem van Bruggen). Ek het gou tuis geword omdat die mense daar nie eenkant was nie en gou vriende gemaak het (F.A. Venter). Die eerste ruk het die nuweling baie eenkant gevoel. Hy het maar ‘n eenkant geaardheid (Jochem van Bruggen). Iem. wat ‘n eenkant lewe voer en min notisie neem van sy medemense. Hy probeer om oor die eenkant lewe van Magdalena te praat (Jochem van Bruggen). [My tweede doopnaam is Magdalena … ].

    My verletterliking van Carson se woorde mog dalk ook iets met die “dedication page of “Red Doc >”” te doene gehad het en wat “reads simply: ‘To the randomizer’”, soos die onderhoudvoerder Jenna Sauers dit stel. Die “randomizer” verwys na Carson se gade, “a regular man”, Robert Currie –
    “Sometimes he and Carson even use a random integer generator to reorder her work. ‘It saves you a lot of worry,’ Carson [a classical scholar, [who] likes to be precise about such things] says about randomness. ‘You know, all that thinking.’”

    Die volgende opmerking het my dus ook opgeval (na ’n jaar se Engelse eerstejaarsopstelle merk het ek ‘n massiewe ding oor sinne [“sentences”] en sintaksis – die Afrikaanse student is baie gelukkiger as die Afrikataalstudente [vergelyk Parrot 2000:384]):

    “When she writes, she has a constant drive to feel as if she’s doing something new with every sentence. When she lectures, regardless of the subject, she wants to uproot people.
    ‘I’m really trying to make people’s minds move, you know, which is not something they’re naturally inclined to do,’ she told me. ‘We have a kind of inertia, sitting and listening. But it’s really important to get somehow into the mind and make it move somewhere it has never moved before. That happens partly because the material is mysterious or unknown but mostly because of the way you push the material around from word to word in a sentence. And it’s that that I’m more interested in doing, generally, than mystifying by having unexpected content or bizarre forms. It’s more like: Given whatever material we’re going to talk about, and we all know what it is, how can we move within it in a way we’ve never moved before, mentally? That seems like the most exciting thing to do with your head. I think it’s a weakness to fall back into merely mystifying the audience, which anybody can do. You know, throw in a bit of Hegel. Who knows what that means? But to actually take a piece of Hegel and move it around in a way that shows you something about Hegel is a satisfying challenge.’”
    (bron: http://www.nytimes.com/2013/03/17/magazine/the-inscrutable-brilliance-of-anne-carson.html?_r=0).

    ‘n Vertaling, letterlik en figuurlik (wat ver-taal ons nie? wat IS voor dit nie ‘n naam het nie?), klink vir my na iets wat meer soos ‘n “bevredigende uitdaging” moet wees rakende wat daar [geskryf] staan/gebeur, d.w.s. soos ‘n gedig byvoorbeeld.

    U het dus na regte meer as ‘n opinie gelewer, Mnr. Van Rensburg, oftewel alles behalwe aanstoot gegee (in die konvensionele sin van die woord), d.w.s. u het dalk eerder ‘n interessante gesprek aan die gang gesit, so nogmaals dankie vir u terugvoer. (Ek is nog ‘n groentjie, maar ek kan dit definitief aanbeveel – ek begin dink kinders op skool behoort een gedig per jaar te vertaal as deel van hul kurrikulum! Dink net hoe lekker die ouers sal kan huiswerk doen – ek sien al hoe ma en pa mekaar die hare in vlieg oor watter woord die beste/mees relevante vertaling sou kon wees – hie-hie!)

  3. Dankie vir u uiteensetting van u vertaling. Ek is nie ‘n taalkenner nie, so ek het baie daaruit geleer.

    Dis juis beelde wat my interpretasie van die vertaling gepootjie het. As ek ‘downtown bank’ lees, dan roep dit by my ‘n heel ander beeld op as wanneer ek ‘onderdorpse bank’ lees. Dieselfde wanneer ek ‘set aside’ lees en dan weer ‘eenkant gesit’. Vir my persoonlik skilder die oorspronklike en vertaalde teks nie dieselfde beelde nie.

    Terloops, ek het ook grootgeword met ‘dorp toe gaan’, al was dit in die stad; dit het dan juis beteken om middestad toe te gaan vir besigheid of inkopies.

    Carson se gedig is vir my baie interessant. Ek weet nie of dit haar bedoeling was nie, maar dit laat my aan die einde met ‘n gevoel van: Wel, ons het nie geregtigheid in die wêreld nie, maar wag! … ons het darem in plaas daarvan naaldekokers (en moontlik is dit nie so ‘n slegte ding nie).

    Weereens uit ‘n persoonlike oogpunt stem ek met hierdie boodskap nie saam nie. As die skeppingsverhaal die verwysingsraamwerk is, met dae wat vir allerlei spesifieke take opsy gesit is, dan het God op dag een reeds geregtigheid geskep, met die woorde: Laat daar lig wees!

    Die lig skýn immers in die duisternis en die duisternis kan dit nie oorweldig nie. Vir my ís die lig geregtigheid en wysheid en moed en geloof en liefde en roomys en nog alles wat goed is.

    Nietemin, vir ‘n gedig om my te laat dink is die waarde en die lekkerte daarvan, al is dit dan net om aan my eie persepsie van ‘n onderwerp gestalte te gee.

    Ek hou baie van “wat ver-taal ons nie?”. Wát dit is voordat dit “ver-taal” is is een vraag. Wáár dit is is nog een.

    Weereens dankie.

  4. Maria Snyman :

    Interessant Mnr van Rensburg. U opmerkings oor Carson se gedig wat volgens u ongeregtigheid impliseer – ek sou dit as (on)geregtigheid wou beskou, gesien dat naaldekokers ‘n MEGAvonds is volgens my! – maar waar u meen dat “God op dag een reeds geregtigheid geskep [het], met die woorde: Laat daar lig wees!” (eintlik, as mens God = geregtigheid dink, moes geregtigheid alreeds vóór dag een daar gewees het, en al wat God gedoen het was om lig van die donker te skei en dit dan ook MET WOORDE), het my laat dink aan wat Thales gesê het toe hy gevra is wat kom eerste, dag of nag – hy het gesê: “nag – met ‘n dag” (“night – by a day”).

    Thales het dus een of ander onderhandeling/beweging tussen nag en dag raakgesien, oftewel gesien hoe die een net DEUR DIE ANDER is/kan verskyn (‘n soort ubuntu-minus-die-mens strukturele beweging).

    Nag/donker/ongeregtigheid is eerste, maar dit is VAN die dag/lig/geregtigheid/roomys/naaldekokers/ens., en die dag dus ook VAN die nag.

    N.a.v. “die duisternis [wat die lig] kan nie oorweldig nie” sou daar dus ook gesê kon word dat die lig ook nie die duisternis kan oorweldig nie …

    Dink Heraklitus se twis/tweedrag/stryd (“strife”), of Nietzsche se magte wat hy gesê het niks anders as die verskil tussen magte is nie en daar is dus net magte wat kragte meet/verskil. “Die pad op is ook die pad af”, het Heraklitus ook gesê, d.w.s. dieselfde pad vir twee doele, in twee rigtings … Terloops, ken u Ina Rousseau se gedig “Twis” in ‘n Onbekende Jaartal? (Sien onder.)

    Lig en donker is dus ‘n soort “happy couple” (soos die twee kante van ‘n muntstuk, met hul [nikkel]kind so tussen hulle) – soos ek hoop die ouers van die kinders nog sal wees ná hulle hul kinders se vertaling-van-die-gedighuiswerk afgehandel het – hie-hie!

    U vrae oor “Wát dit is voordat dit “ver-taal” is” en “Wáár dit is” is ook lekker “mal” vrae … Wat en waar is dinge in so bedrywige besigheid van twissende magte …

    Twis

    Een midag het ek getwis
    met Sis Genis. Ons was albei ses.
    “Is,” het ek gesê, en sy: “Issie.”
    Waaroor het ek en Sis tog so getwis,
    onbewus dat daar ‘n woord soos twis is?
    “Is.” “Issie.” “Is. Is. Is”
    Toe het ‘n grootmens gesis:
    “In goedheidsnaam, hou op met twis – ”

    – Twis –
    Ek het die woord gevang in ‘n net.
    Uit die niet –
    nee, nie die niet nie: Uit my krieseltjie verlede
    het skielik ‘n druppel reën
    die somerdag binnegeswiep,
    rond en blinkend,
    en teen ‘n vensterruit
    aan stukkies gespat: Twis. En toe nog een:
    Twis. En toe nog, en nog, en nog en nóg een:
    Twis, twis, twis-twis. En toe ‘n hele
    swetterjoel: duisend deursigtige
    sappige waterbessies
    wat piets en bots teen vensterglas
    en sissend oopbars: twis-twis-twis-twis-twis …
    al hoe meer en al hoe vinniger,
    tot hulle aanmekaargesweis was
    tot ‘n eindelose weefsel
    lispelklanke wat die somermiddag omsluier,
    silwergrys en koel, en wyer
    en al hoe wyer en wyer uitgewaai het
    oor die Wesrand en die Oosrand,
    en gou al my heelal
    geheel en al ingesluit het: twistwistwistwis …

    – En dis hoe ‘n woord, blinknuut en sappig,
    my lewe binnegespat het
    op die dag van my twis met Sis Genis.

    Bron: Ina Rousseau, Die stil middelpunt (2003), p.121-122.

  5. engemi ferreira :

    Ek hou baie van jou vertaling, Maria. Selfs voor die uitleg. Die nugtere bloosheid (sic) daarvan. Maar meer nog van die gesprek wat uit die vertaling voortgespuit het ~ soos twee nalekokers oor water

  6. Maria Snyman :

    Baie dankie Engemi – jy laat my vertaalvlerke in en uit tril!

  •