Jacobus van der Riet. Wanneer ‘n gedig ‘n lewe red

654A13F990944F319AA539D0F86101C0

Horatius 1:9  Vides ut alta stet

Vides ut alta stet niue candidum
Soracte nec iam sustineant onus
     siluae laborantes geluque
     flumina constiterint acuto?

Dissolue frigus ligna super foco
large reponens atque benignius
     deprome quadrimum Sabina,
     o Thaliarche, merum diota.

Permitte diuis cetera, qui simul
strauere uentos aequore feruido
     deproeliantis, nec cupressi
     nec ueteres agitantur orni.

Quid sit futurum cras, fuge quaerere, et
quem fors dierum cumque dabit, lucro
      adpone nec dulcis amores
     sperne, puer, neque tu choreas,

donec uirenti canities abest
morosa. Nunc et Campus et areae
     lenesque sub noctem susurri
      composita repetantur hora,

nunc et latentis proditor intumo
gratus puellae risus ab angulo
     pignusque dereptum lacertis
     aut digito male pertinaci.

 Vertaling.

Sien jy hoe in dik kapok Soracte

skitterwit staan, vermoeide bome

nie langer die las kan dra nie

en met bytende ys riviere vries?

 

Ontdooi die koue deur baie stompe

op die herd te pak en bring meer vrygewig

vierjaaroue wyn na vore, Thaliarchus,

uit die dubbeloor Sabynse kruik.

 

Laat die res aan die gode oor; sodra

hulle die struwelende winde gestil het

op die siedende see, word nòg sipresse

nòg antieke essebome rondgeruk.

 

Hou op vra hoe môre sal wees, en reken

as wins watse dag geluk ook al mag gee

en jy, my jong, versmaai tog nie die soete

liefdes en rondedanse nie, solank as wat

 

norse skimmeldons nog op ‘n afstand

van jou bloeityd bly. Laat nou saans

die Campus en pleine en sagte gefluister

op die afgesproke uur nagejaag word.

 

Nou ook die aanvallige gelag, wat ‘n meisie

verklik waar sy skuil in ‘n heimlike hoek,

asook ‘n pand van haar arms afgeruk

of van ‘n vinger wat ondeund weerstand bied.

 

Vir wat dit werd mag wees, hierdie gedig van die Romeinse digter Horatius was eens die oorsaak dat ek vir die eerste keer in Afrikaans probeer dig het, toe ek ‘n vertaling daarvan moes maak. Op skool het ons Latyn in Engels gedoen, maar op Universiteit was dit destyds nog moontlik dat ‘n mens se Engels verroes kon raak (glo dit as u wil) en gevolglik het ek die vertaling in Afrikaans i.p.v. Engels aangedurf. Die oorspronklike poging het verlore gegaan, so bostaande is ‘n hernude poging om die gevleuelde Latyn weer te gee, natuurlik tevergeefs. Veral die openingsreëls van die Latyn het my bygebly deur die jare. Ek het dan ook op ‘n eenmalige besoek in Italië lank gelede gekyk of ek die berg Soracte kon sien vanaf Rome (dis effe Noord van die stad). Dit was wel nog te vroeg vir sneeu en moontlik was die lug ook skoner in Horatius se tyd.

Ek het destyds ook die oorblyfsels van Horatius se villa (sien foto hieronder) op sy plasie naby die moderne heuweldorpie Licenza besoek, en die Bandusia-fontein daarnaas, sy eie private bron van inspirasie.  Een van die dorpies in die Sabynse platteland, het ek terloops opgelet, heet Mandela, en wel van antieke tye af al, soos ek later ontdek het. My trein het daar verbygery. Horatius noem iewers in sy geskrifte dat sy plasie naby dié dorp is. In elk geval, ek twyfel sterk of die berg Soracte vanaf Horatius se plasie sigbaar is, want dit lê meer Oos van Rome, in ‘n beboste vallei. Bostaande gedig veronderstel dan waarskynlik eerder Tibur, oftewel die moderne Tivoli, as agtergrond, vanwaar Soracte wel sigbaar is, en waar Horatius ook baie tyd deurgebring het. Dis ook nader aan Rome, wat die verwysing na die Campus en pleine van die stad verklaar.

horaces_villa-flickr-cc-sethschoen_original

So ons sien dan hoe Horatius sy jong slaaf, wat hy vir die doeleindes van die oefening Thaliarchus noem, aanraai om ‘n Carpe diem benadering tot die lewe te volg, voor die ouderdom, verteenwoordig deur die sneeuwitte kruin van die berg Soracte, vermoeide takke van die bome en die veryste riviere, hom inhaal. Die naam Thaliarchus kan dui op die leier van ‘n drinkparty of op iemand wat in die bloeityd van die jeug verkeer.  Horatius gebruik dus die geleentheid van die koue wintersdag om sy lewenswysheid deur middel van die einste winterkoue, as beeld van die ouderdom, aan sy slaaf oor te dra: Geniet die lente voor die winter kom.

Die gedig het vaagweg ‘n chiastiese struktuur (hede – toekoms – hede; witte kruin – witkop), maar glad nie so ooglopend of volledig uitgewerk soos in ander van Horatius se gedigte nie. Tipies van Horatius, wat ook in hierdie gedig mooi gesien kan word, is die wyse waarop hy sy strofes opbou deur twee of drie (voor)beelde op te roep om sy punt te maak.

Dalk het elkeen wat probeer dig iewers in sy agterkop ‘n paradigmatiese gedig of twee wat inspeel elke keer as ‘n mens na woorde begin soek. Vir my is hierdie gedig een van hulle.  Ek hoor steeds daardie openingsreëls, al het ek miskien nooit Horatius se raad gevolg nie.

Dit word vertel (sien:  http://www.strangehistory.net/2011/11/03/finishing-horace-and-whittier-in-ww2/) dat die Duitse generaal Heinrich Kreipe (oorl. 1976) tydens sy gevangeneming in Mei 1944 na ‘n sneeubedekte piek in Kreta opgekyk en Vides ut alta stet begin opsê het. Majoor Patrick Leigh Fermor wat hom gevange geneem het, het die gedig voltooi, en die twee het in mekaar se oë gekyk en hul gemeenskaplike erfenis besef. Die generaal het beloof om nie te probeer ontsnap nie en die majoor om hom die vuurpeleton te spaar, welke beloftes toe ook gestand gedoen is.  So laat ons dan ruimte in ons geheues laat vir gedigte wat die moeite werd is om te onthou. Wie weet of dit ons kan help om ‘n rype ouderdom te bereik?

Naskrif:

‘n Mooi analise van die gedig kan gevind word by: http://www.casa-kvsa.org.za/1967/AC10-02-Henderson.pdf

 

Bookmark and Share

3 Kommentare op “Jacobus van der Riet. Wanneer ‘n gedig ‘n lewe red”

  1. Maria Snyman :

    Kobus, jou verwysing na “’n gedig wat ‘n lewe kan red” en die “gemeenskaplike erfenis” wat mens “’n rype ouderdom te [kan laat] bereik” laat my ook dink aan daardie sekere “lied” waarvan Heidegger praat in sy “What are poets for?” (raadpleeg ook my kommentaar op Clinton se “Taalles 101”) en wat ek ook lees en verstaan vanuit die perspektief van wat Derrida probeer wys het, of meer presies probeer demonstreer het gesien dat dit byna onmoontlik is om te praat oor wat so “hoog” (lees in die volle sin van die word, d.w.s. onder andere ook as “bedwelm/getrek” en “hoog en droog”) en vol bravado daar staan* en net wag om raakgesien te word, maar wat digters/kunstenaars tóg op ‘n manier regkry, d.w.s. daardie achronologiese of “untimely” ‘ding’/gebeurtenis wat gebeur en wat o.a. daaruit bestaan om MY gevoelens in woorde om te sit/te verbeeld/te laat sing …

    * Dink ook aan die buitensporige dom dog liriese krimpvarkie (Frans hérisson) wat ‘n mens se hare so laat regop staan as jy hom sien daar waar hy die snelweg kruis en homself oprol en sy penne laat regop staan die oomblik as hy die gevaar hoor nader kom … D.w.s. wat dit ook vir ‘n mens byna onmoontlik maak om nie OOK vinnig mal te raak nie, jou motor tot stilstand te bring, uit te spring en die dom ding te wil oorhelp nie (hoe tel ‘n mens só ‘n krimpvarkie vinnig in daardie omstandighede van verblyflitsende verkeer op?!?!) waarna Derrida in “Wat is poësie?” verwys …

    Waar die liggaam nie (meer) kan gaan nie, kan die kop darem (nog) altyd gaan … Of soos Derrida in Spurs/Éperons sê n.a.v. wat Nietzsche êrens laat val het oor die feit dat ‘n mens jou afstand van die vrou moet behou: ‘n mens moet jou distansie van distansie onderhou … D.w.s. jy moet gelyktydig naderkom en wegbeweeg, oftewel heen-en-weer beweeg, oftewel in beweging/différance/skrif/begeerte bly …

    Soos hopelik duidelik behoort te wees Kobus, het ek jou skrywe oor Horatius se Vides ut alta stet (Jy sien, ek staan hoog/uit) BAIE geniet! Baie dankie ook vir die herinnering aan hierdie baie ou maar baie heerlike en diepsinnige stukkie erfenis, gelyktydig super lig en super ‘swaar’ gelaai met betekenis!! In die begin was vergifnis …

  2. Kobus van der Riet :

    Dankie, Maria. Ek moet bely dat selfs vele teue van Horatius se vierjaar-oue Sabynse wyn nie Derrida van sy posisie ver bo my vuurmaakplek sou kon verwyder nie; tydens sy besoek aan Unisa het ek ‘n voordrag bygewoon en my beperkinge besef.

  3. Maria Snyman :

    Kobus, Derrida sluit “At this very Moment in this work here I am” (een van sy drie of vier skrywes oor Levinas) af met die woord (in hoofletters) DRINK, so ek dink jy is op die ‘regte weg’ – d.w.s. op daardie aporia oftewel sekere kruisweg – met daardie dubbeloor vierjaar-oue Sabynse kruik so by-der-hand (vorhanden) en gereed-vir-gebruik (zuhanden)!

    Die geheim van Derrida se tekste (wat definitief ook bo my vuurmaakplek [lees ook Grieks] sou wees as ek daarna moes LUISTER) is dat ‘n mens op ‘n manier “meer vrygewig” met daardie “vierjaaroue wyn” moet wees, d.w.s. ‘n bietjie dronkmal moet wees as jy dit lees (wat natuurlik ook ‘n bietjie ekstra tyd op hande voorveronderstel) – dan “verklik” daardie “vinger wat ondeund weerstand bied” ditself, oftewel daardie “vinger” (digitus, “joint”, kneukel, krisis) wat ditself so “halfhartig hardkoppig hou”, soos ek dit ook vanuit ‘n sekere onheilsame Heideggeriaanse-Derrideaanse hoek vertaal …

    Ek sien uit na jou volgende vertaling cum vertelling vanuit ‘n Klassieke perspektief! Derrida doen op ‘n manier ook niks anders as om ‘n mens terug te pos na die Klassieke Grieke toe nie (gepraat van tyd op hande hê … of die skoolleerplan weer aanpas …#feesmustfall …!?!?).

  •