Die verminkte boom
In memoriam: Chris Barnard, 28.12.2015
Onder die gewig van tak en lower
het ‘n skaduboom middeldeur geskeur.
Met die helfte weggekap,
weggedra, bly daar skielik nou
onverwags
net hierdie volstrekte oopte oorhoofs.
En wanneer al die takke en blare
op die bakkie gelaai is,
straat af verdwyn, kyk julle
op na onbegrensde
blou,
met die son nou só sonder genade,
dat julle gewoon nie wil weet
hoe om die hart
se skaduwerk voortaan
met net ‘n halwe boom te besleg nie.
(c) Louis Esterhuizen / Desember 2015
Pragtige gedig, Louis. Watter beter huldeblyk as ‘n boomgedig? Dink ook aan jou.
Ek lees hom nou eers raak, en dit raak my diep, Louis. Ook omdat jou moederboom vandag verskadu en vergly het. Dink aan jou.
Pragtige gedig Louis.
Dankie, Louis
Dit raak my diep, ook omrede jy weet “hoe” om die diep raak digterlik te laat gebeur. ‘n Waardige hulde.
Dankie vir jou raakskryf, Louis.