Die afgelope Kersfees kuier ek in Kanaalstraat, by Cloudette en William. Nege dae in Amsterdam, vanuit Pole. Daar’s ’n fiets vir my en word vertel; volg ons, hou regs, ry net, moenie stop, vloei net langs die gragte, die trap sal jou lig laat brand en kyk rond. Dalk is dit hoe diepsee duik ook is. So by jouself deur en in alles om jou.
Soos altyd met reis, die geskenk van ontmoetings. Een hiervan was met Mohannad van Latakia in Sirië.
Hy het oorkant my gesit om ’n tafel waar ons geverf het, iewers in die weste van Amsterdam. Mohannad is nou twee maande en vyf dae hier, in ’n ou tronk wat nou ingerig is vir vlugtelinge hoofsaaklik van Irak en Sirië. Hy vertel my van sy stad. Die digter Adonis of Adunis is net suid van Latakia, in Qassabin gebore. Een van die grootste digters van ons tyd en ’n gunsteling vir die Nobelprys vir Letterkunde, met ’n oeuvre van twintig bundels reeds agter sy naam.
Maar toe sit Mohannad sy foon op silent en wys my die bomme, en tik in Arabies, en ek lees op google translate; “I don’t want to fight”.
Wie se oorlog is dit hierdie?
Khaled Mattawa vertaal Adonis se vers:
A Mirror For The Twentieth Century
A coffin that wears the face of a child,
a book
written inside the guts of a crow,
a beast trudging forward holding a flower,
a stone
breathing inside the lungs of a madman.
This is it.
This is the twentieth century.
Mohannad wys my foto’s op facebook van sy driejarige dogtertjie; Shahed en seuntjie; Hossam nou twee, terwyl Aerosmith se ‘I don’t want to miss a thing’ nou sag oor sy foon speel en hy verder vertel van pa-wees, wys my sy ontwerpe in sy beroep en sy vrou. Om hierdie tafel sit vrywilligers van regoor die wêreld verteenwoordigend van verskeie organisasies wat omgee, van help kook, na mop, na net saam sit.
Ek vind ’n antwoord in Adonis se digkuns:
A Mirror For A Question
I asked, and they said, the branch
swathed in flame is a sparrow.
They told me my face
was the waves, the world’s face a pile of mirrors,
a lighthouse, and the sailor’s sorrow.
I arrived and the world in my way
was ink, each gesture, a phrase.
I did not know that between it and me
there was a bridge named “Brotherhood”
made of steps, prophecy and fire.
I did not know that my face
was a ship that sails inside a spark.
Ek glimlag vir ons Afrikaans wat ek hoor in sy Arabies, dis bekend, soos die liefde in Mohannad se glimlag wat hom maak opstaan en teen sy eie trane baklei.
En so fiets ons terug oor Kersfees na Kanaalstraat onder die volmaan. Hou regs, ry net, moenie stop, vloei net langs die gragte, dankbaar vir die wete ons kan nog huis toe gaan, dankbaar om ’n nuwe jaar in te trap. So by jouself deel van alles om jou. Dis liefde wat ons maak aanhou.
Oor Lief
Oor niks
van ons lyn
meer loop
vir tyd
om alles met mis
te omring
en probeer beweeg
en balans
in geheue
val en verloor.
Oor alles
om ons lyn
sweef vir tyd
om jou smile
in ruimte
van bo na onder
vol son te verlig
en onthou stilstaan
plant en kweek
’n view oor alles.
Oor genoeg moet
en oorgenoeg wil
oor en oor
lief.
Bibliografie:
Adonis. 2010. Adonis Selected Poems – Translated from the Arabic by Khaled Mattawa. Yale University Press: New Haven & London.
Instagram: cloudette1976
Dankie vir die terugvoer! Dis tragies.
Lieflik! Ménslik. Dis om van te ween.
Ongelooflik kragtig Karen. Prag.