Nini Bennett. Die ou man
Die ou man
.
Tyd is ’n blinde juwelier.
Pêrels in die oë,
vismotte wat slu deur dagboeke lees.
Na baie jare ontmoet ek my pa.
Sy lyf rem grondlangs
na die swaartekrag van te veel leef.
Ek sien hoe hy die fluweeltyd
van stof binnegaan
voor hy in twee verdeel,
jonk word, wegstap
deur die vallei van sy kleinwordjare
terug, terug – al verder weg
van die ou man, die uitgewekene van lig.
.
© Nini Bennett / 2016
Lieflike gedig.
Wat ‘n kragtige vers! Welgedaan, Nini.
Baie dankie, Marthe en Louis.