Andries Bezuidenhout. Binnekonflik in Vredehoek

Ek woon tydelik in ʼn woonstel in Vredehoek. My ateljee het ʼn uitsig oor Duiwelspiek, Tafelberg en Leeukop. Soms vergeet ek om te skryf of om te skilder en ek kyk na hoe wolke oor Tafelberg se kranse neertuimel en dan verdwyn (min mense kry dit reg om oor Tafelberg te skryf sonder om in geykthede vas te val – Antjie Krog is ʼn uitsondering). In die oggend gaan stap ek en neem foto’s, gebruik van die foto’s vir skilderye. Ek gebruik klein doeke (20x25cm) en werk met ʼn beperkte olieverfpalet. Ek noem dit die Disa-reeks, vernoem na die kompleks waar my tydelike huis en werksplek is.

Ek lees op oor Vredehoek se geskiedenis. Abraham Jonker en sy eerste vrou Beatrice Cilliers het in die 1930s hier gewoon. Bure het vertel van huishoudelike rusies. Ray Alexander, die veteraan kommunis en vakbondaktivis, het ook hier gewoon. Sy het die beroemde Food and Canning Workers’ Union gestig en het saam met haar man Jack Simons die klassieke werk “Class and Colour in South Africa” geskryf.

Vredehoek is een van Kaapstad se nuwer voorstede. Die meeste van die geboue is na die Tweede Wêreldoorlog as blyplek vir Europese immigrante opgerig, meestal in die Art Deco styl van die tyd. Die voorstad het ʼn groot Joodse gemeenskap en van die Herzlia skool se geboue is in die woonbuurt. Van die strate is na belangrike Joodse figure vernoem.

Die berugte “Tampon Towers”, soos Kapenaars die drie silindervormige geboue noem, is ook hier. Die kompleks se amptelike naam is Disa Park (seker Disapark in Afrikaans). Die sewentienverdiepingtorings is in die laat-1960s deur die konstruksiemaatskappy Murray en Roberts gebou. Destyds het die bouwerk R2.5 miljoen gekos (die huidige prys van ʼn tweeslaapkamerwoonstel in die kompleks). Die stadsraad het die bouplanne afgekeur ná grootskaalse teenstand van groepe wat Tafelberg wou bewaar. Die ontwikkelaars het egter ʼn skuiwergat in die regulasies gevind en planne deur ʼn tweemankomitee in die kantoor van die Administrateur van die Kaapprovinsie laat goedkeur. Die kompleks se fondamente was onder die toegelate boulyn teen Tafelberg se hange, maar die boonste verdiepings van die torings was ver bo die lyn.

Ten spyte van die wind wat verwoed deur die skeur tussen Duiwelspiek en Tafelberg waai, woon ek lekker in een van die drie torings. Hier is plek om te parkeer – ʼn rariteit in Kaapstad – en ek hou van die swembad se uitsig oor die stad. As ek in die aand by die huis kom, gaan staan ek eers in die parkeerterrein en kyk na die geboue met hul ligvensters rondom die tuin waar my oervader Wynand Leendertz Bezuidenhout in 1666 as tuinier begin werk het. Mens kan Robbeneiland se liggies ook sien.

Soos ek oplees kom ek op ʼn insident, wat in Vredehoek afgespeel het, af. Op 22 April 2012 is daar by die kunsfotograaf Zanele Muholi se woonstel hier ingebreek. Haar rekenaar en ʼn aantal eksterne hardeskywe met foto- en videomateriaal van meer as vyf jaar is gesteel. Muholi het in hierdie tydperk deur Suid-Afrika, Malawi, Uganda en Zimbabwe gereis om die lewens van lesbiërs te dokumenteer, onder ander die begrafnisse van drie Suid-Afrikaanse lesbiërs wat slagoffers van haatmisdade was.

Kort na die inbraak is Muholi daaroor in die media aangehaal: “It’s so painful. Five years of my life are gone… I’ve dedicated my entire life to documenting queer lives. I wanted to make sure I document [LGBTI] (lesbian, gay, bisexual, transgender and intersex) lives. All my major projects are gone.”

ʼn Televisie, kameratoerusting, ʼn dataprojektor en drukker is nie gesteel nie. ʼn Aantal hardeskywe wat nie foto- en videomateriaal bevat het nie, is ook nie gesteel nie. Die diewe het klaarblyklik ʼn gesteelde skootrekenaar gebruik om deur die materiaal te sif en om dan te besluit wat om te steel. Muholi was in die buiteland en Theron was nie by die huis toe die inbraak plaasgevind het nie.

In Augustus 2009 het die nou eertydse Minister van Kuns en Kultuur, Lulu Xingwana, by ʼn uitstalling van die fotografiese werk van Muholi uitgestorm. Xingwana het die werk as immoreel en afstootlik beskryf en aangevoer dat dit teen die land se projek van nasiebou ingedruis het.

Kuns kan soms so “gevaarlik” wees dat ministers by uitstallings uitstorm of dat professionele misdadigers by ʼn woonstel inbreek om dit te steel. Ek dink oor my eie skilderye na en hoeveel daar in Vredehoek gebeur waarna die skilderye nie eers verwys nie. As ek sinies daaroor sou wees, sou die Disa-reeks die volgende onderskrif moes kry:

Wit man se nostalgiese oggendwandelings waartydens hy nadink oor Art Deco, modernisme, en die kleur van oggendlig.

Bronne

Natasha Bissonauth (2014), “Zanele Muholi’s Affective Appeal to Act,” Photography and Culture, 7(3): 239-251

Michelle Jones, “Burglar loots city photographer’s work,” Cape Times, 7 Mei 2012: http://www.iol.co.za/capetimes/burglar-loots-city-photographers-work-1290650

Zanele Muholi & Gabrielle Le Roux (2014), “queer & trans Art-iculations: Collaborative Art for Social Change,” Agenda, 28(4): 9-19

Louise Viljoen (2012), Ingrid Jonker: A Jacana Pocket Biography. Auckland Park: Jacana, p. 16.

Barry Washkansky, “Cape Town’s ugliest buildings [a]nd the history behind them,” Moneyweb, 17 Maart 2010: http://www.moneyweb.co.za/archive/cape-towns-ugliest-buildings/

Bookmark and Share

5 Kommentare op “Andries Bezuidenhout. Binnekonflik in Vredehoek”

  1. Maria Snyman :

    Andries, weet jy van van Wyk Louw wat in die dertigerjare in Vredehoek gewoon het? Ek lees dit hier in “Op ‘n klein literêre reis deur die Skiereiland en Boland” te http://152.111.1.87/argief/berigte/dieburger/1997/11/22/3/10.html.

  2. Sowaar, Maria, jy’s reg oor NP van Wyk Louw. Ek het Steyn se dubbeldoorbiografie lank gelede gelees maar dit nie onthou nie. Toe ek nou weer op die web rondsoek sien ek Sheila Cussons het ook hier gewoon in haar laaste jare, in ‘n pragtige gebou genaamd Nazareth House. Dalk moet ek dit probeer skilder.

  3. Desmond :

    Andries, jy noem Ray Alexander. In Vale, Hamilton en Prinsloo se onlangse boek Intellectual Traditions in South Africa word sy in die konteks van drie van die tradisies genoem en bespreek: Marxisme, Feminisme en ‘Jewish responses’. Andrew Nash, in sy hoofstuk oor die ‘dubbele lewe’ van die Marxisme in SA, noem dat Alexander en haar man Jack Simons die voorstelling van SA as ‘n koloniale samelewing onvoldoende gevind het om sin te maak van hierdie samelewing. Hy haal hulle aan: ‘the country has in fact advanced well beyond the limits of primitive colonialism… South Africans have merged into a single, indivisible society’.

  4. Desmond, as ek nou tussen Alexander/Simons en Harold Wolpe moet kies, kies ek eerder vir Rick Turner. Sy “Eye of the Needle” is pas weer uitgegee en verlede week by die Book Lounge bekendgestel. Turner, in gesprek met Biko, is veel meer relevant as al daardie ou kommuniste, dink ek. Daar was ‘n hele paar digters by die bekendstelling – Antjie Krog, Ingrid de Kock, Karen Press.

  5. Desmond :

    Andries, ek weet van die heruitgawe maar het ongelukkig die bekendstelling kon bywoon nie. Turner is inderdaad interessant; en Andrew Nash se bespreking van hom (en Breyten Breytenbach) as ‘n verteenwoordiger van ‘n nie-Stalinistiese, nie-dogmatiese, demokratiese Marxisme in Suid-Afrika, is regtig insiggewend. (Beide Turner en Breytenbach sluit natuurlik ook op verskillende maniere aan by Sartre.)

    Wolpe is op die ou end vir my te veel van ‘n Partydenker; ek het Friedman se boek oor hom gelees en daar is vir my iets outoriter, klonterig en stowwerig aan sy loopbaan: vir my dan eerder die estetisisme en frivoliteit van die ‘postmoderniste’; ek verstaan hoekom hulle so ver moontlik van daardie grys tipe politieke filosofie, met sy onkritiese kyk van die VSSR, wou weghol.

    As ek egter tussen Alexander/Simons en Wolpe moes kies, kies ek Neville Alexander eerder as Turner. Ek dink N. Alexander het die belangrikste aspekte van Biko se denke geinkorporeer, maar omdat hy nie die klasse-analise laat vaar het nie, en geweier het om tot ‘n SA eksepsionalisme verlei te word, leen sy werk sigself nie tot die narcisme van sekere vorme van hedendaagse ‘swart bewussynsdenke’ nie. Die sublieme objek van swartheid, soos Ivor Chipkin dit al in die vroee 2000s gediagnoseer het.

    (Op hierdie punt vind ek dan die Simons-egpaar se stelling oor ‘n ‘indivisible society’ wel insiggewend (want dit beteken nie ‘gelyke samelewing’ nie; ‘indivisible and unequal’: ‘witheid’ hier is nie ‘n soort eksterne probleem, ‘n ‘foreign body’, waarteen ‘swartheid’ verdedig moet word of waarvan die land gesuiwer moet of kan word nie. N. Alexander sou aandring dat jy op daardie manier nie SA kan verstaan nie; tsv ons spesifieke geskiedenis, is dot ook ‘n normale kapitalistiese samelewing binne ‘n globale konteks.)

    As jy N. Alexander se essays en onderhoude tussen 1989 en 1994 lees, is min wat vandag in SA gebeur heeltemal ‘n verrassing. Hy het ook van die begin af gesê Swart Bewussyn maak absoluut sin onder kondisies van algehele ondrukking van (en geen of baie min ekonomiese mobiliteit vir) swart mense, maar sal problematies word – of sal sy eie perke as analitiese strategie en revolusionere strategie bereik en oorskrei – sodra apartheid verdwyn en swart mense ekonomies mobiel word en daar ‘n swart middelklas en elite gevestig word. Onder sulke omstandighede mistifiseer Swartbewussynsdenke maklik die klasse-dinamika van die sameleweing en mobiliseer dit ‘swartheid’ op deiselfde manier waarop aspirerende middelklasse en elites oral in die wereld nasionalisme mobiliseer…

    Omdat N. Alexander egter nie voortydig vermoor is nie, en omdat so baie van sy werk kollektief en projekgebaseer was, eerder as raserig revolusioner op die ‘masculinist’ manier waaraan ons so gewoond is, is hy minder sexy vir jong aktiviste as Fanon, Biko, Turner en ander.

  •