Spier Digtersfees: persverklaring

Dansende DigtersfeesPersverklaring: dancing in other words Spier Poetry Festival

1 April 2016

banier. Spier digtersfees

Al singende en dansende na die Spier Digtersfees 2016

Op Saterdag 7 Mei kom digters, minnesangsers, filosowe en musikante weereens bymekaar om met woorde en taal te riel by die Spier Digtersfees, ook bekend as die dansende digtersfees.  Die geleentheid is ‘n verdere vergestalting van ‘n vennootskap tussen Spier en die Pirogue Kollektief, en word deur Breyten Breytenbach, Dominique Botha en Neo Muyanga byeengeroep.

Die 2016 aanbieding sluit in James Matthews (Suid-Afrika), Keorapetse ‘Bra Willie’ Kgositsile (Suid-Afrika), Michel Deguy (Frankryk), Maram al-Massri (Sirië / Frankryk), Efe Paul Azino (Nigerië), Yvette Christiansë (Suid-Afrika / Australië) Hans ten Berge (Holland) en Breyten Breytenbach (Suid-Afrika). Die groep kom ’n week voor die aanvang van die eendag-fees bymekaar om saam deur die buite en binne landskappe van die Wes-Kaap te reis. Deguy en Al-Massri se deelname word deur die Franse Instituut Suid-Afrika ondersteun.

“Die fees sal weereens ‘n bevoorregte ruimte bied vir die vervlegting van stemme waar ons sal droom asof ons vir ewig gaan lewe”, sê Breytenbach. “ Dit is met bietjie kennis en begrip vir die meerlagige diversiteit van mense wat hierdie deel van die wêreld artikuleer, die botsings en die streling van hierdie berge en wind, van die verworteling van ons drome – dit is wat ons deel en wat ons het om aan ons gaste van oorsee aan te bied. “Hoe anders sou ons kon weet dat ons een is in ons ontmoeting met die mensoue – veelvoudigheid van poësie?” sê Breytenbach.

“In die begin wou ons net digters oor die ouderdom van 75 jaar nooi wat dans, drink en glo dat poësie die onbenulligste ding in die wêreld is waarsonder hulle nie kan klaarkom nie. Ons het betreffende ouderdom ‘n paar toegewings gemaak…” sê Botha.

Die fees se musiekregisseur Neo Muyanga se temas en leitmotiewe word tydens die week se byeenkoms gekomponeer en dien as musikale onderbou van die voorlesings tydens die fees. Hy sê, “Ons, die koor, sal die geroep van die digters in beurtsang beantwoord met lofprysing, sugte en ’n omhelsing van solidariteit.” Hy voeg by, “Begeesterd deur die fees se leigedig, Po Tsju I’s Madly Singing in the Mountains, sal ons onsself in ‘n koor van musikale stemme fatsoeneer.”

“Ons glo onvoorwaardelik in die potensiaal van die kunste om mense en samelewings te omvorm. Soos in vorige jare is hierdie besonderse samevloei van internasionale digters en poësie ‘n samekoms wat belangrike gespreke ontketen en lieflike oomblikke na Spier bring,” sê Spier se hoofuitvoerende beampte Andrew Milne.

Die fees vind plaas op Spier op Saterdag 7 Mei vanaf 10vm. Alle gesprekke voor die aand se voorlesings word gratis aangebied. Die Poësie Voorlesing, wat alle deelnemende digters insluit, begin om 7nm. Kaartjies kos R 220 en sluit ‘n driegang maal en ‘n glas wyn in.

Die program is soos volg:

10:00 Gesprek 1: Is standbeeldbestormers die gewapende vleuel van politiese korrektheid?

Breyten Breytenbach, Michel Deguy, Yvette Christiansë en Keorapetse Kgositsile wonder of die vernietiging van simbole uit die verlede die wonde van die hede bind, of neerkom op die bestorming van windmeule?

12:00 Gesprek II: Selfs die engel van geskiedenis kan nie verdra om te kyk.

Efe Paul Azino, Maram al-Massri, Hans ten Berge en Breyten Breytenbach in ‘n bespreking oor ontheemding, vlugtelinge, ballingskap en die potensiaal van die skrywer om gemeenskaplik die ruimte vir humanistiese begrip te vergroot.

14:30 Gesprek III: Taunting that powdered death called Respectability.

Neo Muyanga, Keorapetse Kgositsile, James Matthews en Efe Paul Azino bespreek die geskiedenis van protes in poësie en sang, en die voordurende stryd vir rewolusie, teen politiek.

16:30 Gesprek IV: Omtrent wyn. Omtrent tyd! Spier Wyne bied ’n paring tussen wyn-en-woord aan.

19:00 Voorlesings deur al die deelnemende digters, met musikale regie deur Neo Muyanga.

Bespreek by www.webtickets.co.za

Oor die deelnemende digters:

Yvette Christiansë. Suid-Afrikaans gebore digter, romansier en akademikus het op die ouderdom van 18 saam met haar ouers na Australië emigreer. Sy gee klas by Barnard Kollege, New York.

James David Matthews. Die wederstrewige digter is meer as 8 dekades gelede in die Bo-Kaap gebore en word as ‘n man van talent, deernis en merkwaardige integriteit beskryf.

Professor Keorapetse ‘Bra Willie’ Kgositsile, Suid-Afrika se Nasionale ‘poet laureate’ word sedert die l960s beskou as een van die land se mees kenmerkende poëtiese stemme.

Die Franse denker-digter en filosoof Michel Deguy is in 1930 in Parys gebore en sy werk word veral vir die diepte van sy filosofiese besinning bewonder.

Hans C ten Berge word allerweë beskou as een van Nederland se voorste digters, en skryf ook prosa, opstelle en werk in vertaling.

Efe Paul Azino word as een van Nigerië se voorste praatdigters gereken, en was reeds kurator van die land se belangrikste poësiefeeste.

Maram al-Massri, 2015 ontvanger van die Dante Alighieri prys, is oorspronklik van Lattakia in Sirië, maar het haarself 1982 in Parys gevestig. Sy skryf oor politieke en intieme temas, in Arabies en Frans.

Georges Lory, voormalige hoof van die Alliance Française in Suider-Afrika, is beide ’n digter asook ’n vertaler na Frans van Suid-Afrikaanse skrywers insluitend Gordimer, Breytenbach, Krog en Njabulo Ndebele.

(Pirogue Collective / dancing in other words Spier Poetry Festival
www.spierpoetryfestival.co.za)

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Spier Digtersfees: persverklaring”

  1. Charl-Pierre Naude :

    Beloof om selfs die vorige jare van hierdie besonderse fees te oortref.

  •