Digstring: Die Heilige Nikolai van Japan
Die Heilige Nikolai van Japan
Wie sou nie verlang nie, soos sy dagboek verraai, na die berkeboom, die goue halms en goue gerf, na somber klokke wat teen skemer hul galms saai en koepels wat wink waar ’n pelgrim ook al swerf.
Wie sou nie verlang nie na die Dnjeper en die Don na Moskou en Smolensk, na Nowgorod en Pskof, hier waar hy is in die land van die opkomende son, ver van Sergei se Radonezj en Serafim se Sarof.
Hier word die seder teruggeknip tot by die knoes, hier druppel die esdoring sy blare rooi in ’n vywer, hier is ’n plankbrug en klip en mos en bamboes en lanterns wat geheimsinnig gloor, maar met ywer
bid Nikolai vir sy kudde in Japannees en sy hart sing as hulle op Palmsondag kersiebloeisels kerk toe bring.
© Jacobus van der Riet / Uit: Die onsienlike son, 2012 (Protea Boekhuis). |
St Nicholas. Japan.
1. Wanneer het jy dié gedig geskryf. Hoe het dit ontstaan?
Dit moes in 2011 gewees het, volgens my rekenaar se geheue. Ek wou ’n gedig oor die betrokke heilige skryf, omdat ek in ’n gemeente in Johannesburg wat aan hom gewy is, lidmaat van die Ortodokse Kerk geword het en ek dus so met sy geskiedenis vertroud geraak het. Ek het gekies om op net die een moment te konsentreer, t.w. sy verlange na sy vaderland, Rusland. Hy het die Ortodokse sending in Japan in die 19de eeu begin.
2. Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?
Ek herinner my dat dit redelik vinnig verloop het, en dat bloot die laaste twee reëls verskeie weergawes gehad het. Die vorm is immers eenvoudig, twee strofes oor Rusland, een oor Japan, en die slotkoeplet oor die oplossing of verligting van die konflik in sy hart, omdat die kersiebloeisels ‘n gemene deler is. Op Palmsondag bring Ortodokse Christene palmtakke kerk toe, of wilgerlote in Rusland, omdat daar nie orals palmtakke beskikbaar is nie. Die Japanese Christene bring toe kersiebloeisels, wat natuurlik ’n klokkie in enige Russiese hart ook lui.
3. Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van “bloedsweet”?
Die eerste twee strofes het maklik verloop, maar ek moes bietjie inspirasie gaan soek vir die derde strofe, deur boeke oor Japanese tuine deur te blaai, om die “gevoel” te kry en my vermoedens te toets.
4. In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander “onderdeningsprinsipe” toegepas?
Ek het die sonnetvorm gekies, omdat al die ander gedigte in die reeks reeds sonnette was. Toe moes ek natuurlik besluit hoe die rymskema sal lyk, want ek veroorloof my alle moontlike kombinasies om die 14 reëls te vul (bv. 3+3+3+3+2, 5+5+4 ens.). Hier was ek meer konvensioneel. Deur die herhaling van die “Wie?” wou ek seker die intense verlange weergee. In die tweede strofe vind die oorgang of voorbereiding vir die derde strofe reeds plaas, met die verwysing na die “opkomende son” en dan word die “hier” telkens herhaal in die derde strofe, om sy teenswoordige blyplek, so ver van die vaderland, te beklemtoon.
5. Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as “klankbord” gebruik terwyl jy aan ’n vers werk?
Ek het ’n paar vriende vir wie ek gedigte redelik gou stuur, wanneer ek nog onder die wanindruk verkeer dat hulle “klaar” is, en dit is waarskynlik ook aan die Pretoriase digterskring voorgelê. Ek twyfel of enige groot veranderinge voorgestel is.
6. Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?
Dit is in 2012 gepubliseer, so dit moes ’n jaar ná die skryf daarvan gewees het.
7. Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?
Ek weet dat die H. Nikolai na sy vaderland verlang het, maar die besonderhede oor plekke en landskapverskynsels het ek uit my duim gesuig. Ek weet nie eers of hy self al die plekke besoek het nie, maar hy sou in elk geval die land goed leer ken het op sy lang reis na die Ooste. Ek is self totaal gek oor die Russiese landskap en kon dus met so ’n verlange identifiseer en maklik liries daaroor raak. Ook die besonderhede oor die Japannese landskap is van ’n algemene aard en verteenwoordig nie noodwendig die H. Nikolai se spesifieke omstandighede nie. Die slotreëls is, sover ek weet, feitelik.
8. Is dit ’n narratiewe vers?
Ek sal self nie kan sê nie, daar ek nie ’n literator is nie.
9. Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?
Dit handel oor ’n innerlike konflik wat ’n mooi en gepaste (seker net tydelike) oplossing vind. Hoe maak ’n mens vrede met die feit dat jy vir die res van jou lewe in ’n vreemde land moet bly? Die H. Herman van Alaska het dieselfde konflik ervaar. Die H. Nikolai moes bv. In 1905, tydens die Russies-Japannese Oorlog kies hoe hy gaan bid. Hy was toe reeds biskop. Hy het sy Japanese priesters toegelaat om vir ’n Japannese oorwinning te bid, hoe wel hy self nie daartoe in staat was nie.
10. Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ’n bepaalde invloed op die tot standkoming van dié betrokke vers gelei het?
Ja, die biografiese werke oor die H. Nikolai uiteraard. Ek het ook in 1997 die oorspronklike ikoon wat tydens sy verheerliking, oftewel kanonisering, gebruik is, raakgeloop in ’n kloostertjie in Calistoga in die Napa Vallei van Kalifornië. Dit het bloot my gehegtheid aan hom versterk, en nie direk bygedra tot die gedig nie.
11. Het jy ’n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ’n vers werk?
In dié geval seker diegene wat met hom bekend en vir hom lief is en ook hulle wat nie met hom bekend is nie, ter inligting. En natuurlik die Heilige self, want dis ’n liefdesgebaar.
12. In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?
In party van die ander gedigte is daar by nabetragting moontlik te veel historiese inligting, terwyl hierdie een m.i. slaag om op ’n bepaalde moment of aspek te fokus, en dit enduit uit te werk.
13. Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?
Nee. Ons landskap is helaas ontdaan van klokkegelui en koepels, en die Japenesse estetiese aanslag is ewe afwesig in die gemiddelde voorstedelike tuin.
14. Kon jy dié vers tot ’n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas “prysgegee” (abandon)?
Ek is tevrede met sy huidige vorm. Die eerste strofe terg die leser effens, die tweede los die raaisel op en begin die oorgang na die kontrasterende derde strofe, die derde skep ’n toaal ander atmosfeer en die koeplet versoen die twee wêrelde, en dit op Palmsondag (en palm rym natuurlik met galm en halm, om die “tuiskoms” te suggereer).
15. Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?
Niemand het tot dusver gekla daaroor nie, en ek herinner my vaagweg gunstige reaksie op sommige beelde, in persoonlike korrespondensie. Dis mos maar ’n eenvoudige gedig en miskien is daar nie veel oor te sê nie.
16. Wanneer het jy jou eerste gedig geskryf?
In die vroeë 1980’s, in die Ark tydens die Sondvloed (ek was die donkie aan boord).
dankie, Charl, ek was uitstedig, (vandaar die laat respons); ek besef by nabetragting dat ek vraag 13 dalk onderskat het, want tensy ‘n mens net andertalige gedigte lees, sal jou gedigte tog iets van die digterlike landskap van jou eie land weerspieël; ‘n mens lê tog ‘n maatstaf aan en daardie maatstaf van wat gangbaar is kom maar uit die Afrikaanse kanon. Soms kom daar bundels wat die dwarslat hoër stel en dit het ook weer ‘n invloed. Enkele digters het ‘n heel oorspronklike unieke stem (hulle kwalifiseer om ge-weduwee Viljee te word – hoog tyd vir ‘n opdatering aldaar) en ander boots weer bietjie na. So al die stemme van die Afrikaanse voorgangers is mos maar iewers in die agterkop, en dus is die gedig dalk wel tipies Suid-Afrikaans/Afrikaans, ondanks die vreemde inhoud.
Geweldig interessant, Koos. En die gedig is ook baie kleurvol (met iets van die ikone daarin ) en aangrypend.